SA dokkie wen by Baftas

My Octopus Teacher.

My Octopus Teacher is as beste dokumentêr by die British Academy of Film and Television Arts-toekennings (Baftas) aangewys.

Pippa Ehrlich, die regisseur van die rolprent, het die toekenning namens die ekstatiese span ontvang.

My Octopus Teacher neem die kykers op reis na die kelpwoud. Dit volg Craig Foster, ʼn man wat aan uitbranding ly, waar hy begin met ʼn daaglikse duikregime in die yskoue seewater van die kelpwoud om sy batterye te herlaai.

Foster, ʼn bekroonde rolprentvervaardiger, kom in dié tyd ʼn nuuskierige seekat teë en die rolprent dokumenteer die bewegings van dié dier – iets wat selde in die natuur gedoen word, laat staan nog onder die water – oor ʼn volle jaar. Dit ondersoek die seekat se gewoontes en persoonlikheid as ʼn wese wat die meeste mense nog net op ʼn bord teëgekom het.

My Octopus Teacher is ook vir ʼn Oscar-toekenning benoem. Dié toekenningsgeleentheid vind op 26 April plaas. Die dokumentêre rolprent het reeds talle ander benoemings, en selfs ʼn paar pryse, op internasionale rolprentfeeste ingeoes.

Baftas-wenners:

Frances McDormand in Nomadland. (Foto: Searchlight Pictures/20th Century Studios)

Nomadland het talle toekennings ingeryg, waaronder beste rolprent, beste aktrise vir Frances McDormand en beste regisseur vir Chloé Zhao. Dit het ook die beeldjie ontvang vir beste kinematografie.

Anthony Hopkins is as beste akteur aangewys vir sy rol in The Father terwyl Yuh-Jung Youn as beste ondersteunende aktrise aangewys is vir Minari en Daniel Kaluuya as beste ondersteunende akteur vir Judas and the Black Messiah.

Soul is as die beste animasierolprent aangewys en het ook ʼn beeldjie gewen vir beste oorspronklike musiek.

Ma Rainey’s Black Bottom het toekennings gewen vir beste kostuumontwerp, asook beste grimering en hare.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lindi ·

Dit is die mooiste dokumenter wat ek nog ooit gesien het. Het lekker gehuil! Dit verdien die toekenning. BAIE GELUK!!!!

Tanniepetoors ·

Ek het dit terdeë geniet. Dit verdien beslis hierdie en prag-toekenning. Baie geluk aan die hele span.

Samuel ·

Baie geluk aan die Suid-Afrikaanse vervaardigers. Puik en doen so voort.

Wat op dees Aarde ·

Fantastiese dokumentêr gewees. Natuurlik baie lewenslesse by die seekat geleer en ook my oë amper uit hul kaste gehuil. Voorwaar iets besonders. Wil nog Seaspiracy ook kyk, maar net die voorskou het my hart al klaar in 1000e stukkies gehad.

Karina ·

Dit was ‘n roerende natuur storie. Die wat My Octupus Teacher nog nie gesien het nie, asb doen moeite en kyk dit. Nie net die mooi onderwater tonele nie, maar die pragtige storie wat my insae gegee het oor die lewe van ‘n Octopus. Sy het my ook iets geleer. Wel gedaan ek is baie bly julle het gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.