SA Express gelikwideer

(Argieffoto: Facebook)

Die Gautengse hooggeregshof het Woensdag beslis dat die staatsbeheerde lugdiens SA Express finaal gelikwideer word.

Die bevel kom nadat likwidateurs nie ʼn geskikte koper vir die lugredery kon kry nie.

Die departement van openbare ondernemings het in ʼn verklaring gesê dat die likwidasie die resultaat van verskeie faktore oor die jare heen is, waar onder slegte bestuur, staatskaping, korrupsie en die effek wat die Covid-19-pandemie op die wêreldwye lugvaartmark gehad het.

“Die departement simpatiseer met die werknemers wat nie hul laaste vergoedingspakket kon kry ná jare wat hulle by die lugdiens werksaam was nie,” lui die departement se verklaring oor die aangeleentheid.

SA Express is in 2020 in sakeredding geplaas in ʼn poging om die lugdiens te red, maar weens die huidige fiskale beperking was die regering nie in staat om die nodige finansiering te verskaf om ʼn suksesvolle redding te bewerkstellig nie. Daar is kort daarna aansoek gedoen om voorlopige likwidasie, wat verlede jaar toegestaan is.

Daar is by drie verskillende geleenthede pogings aangewend deur voorlopige likwidateurs om geloofwaardige kopers te lok, insluitend ʼn skarefinansieringsinisiatief deur werknemers om die lugredery te koop, maar niemand het die vereiste finansiële hulpbronne gehad om die redery ná die aankoop te onderhou nie.

Staatskaping meesterhand in likwidasie

Volgens die departement het die likwidasie van SA Express die impak van staatskaping tot ʼn harde werklikheid gebring – veral die verwoestende gevolge wat dit op die lewensbestaan ​​van werknemers van die lugdiens het.

Die eerste deel van hoofregter Raymond Zondo se verslag na die ondersoek oor staatskaping en korrupsie het presies uiteengesit hoe SA Express gebuk gegaan het onder korrupsie en bedrog.

Die verslag het onder meer uitgewys dat ʼn vyfjaarkontrak onbehoorlik deur die Noordwes-provinsie aan SA Express toegeken is ten opsigte van die Mafikeng-Johannesburg- en Pilanesberg-Johannesburg- en Kaapstad-roete en dat die lugdiens vir dienste betaal het wat nooit aan hom gelewer is nie.

“Die departement doen opnuut ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om die ondersoek na die bewerings van korrupsie en bedrog te bespoedig sodat diegene wat verantwoordelik is vir die ondergang van die lugdiens aan die pen sal ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LANA is ELANè ·

Is daar nog enige iets wat in die staat se besit is wat nie bankrot is nadat die ANC met dit klaar is nie?

Nie Verbaas ·

En die ANC regering glo nog steeds dat hulle fantastiese werk doen. Die intelligensie is maar nou net nie daar by enige van hulle om te besef dat hulle totaal en al hopeloos, onbevoeg en korrup is nie. Affirmative action werk letterlik soos n bom. Niks bly oor nie.

Alet ·

Welgedaan ANC. Regering is veronderstel om werk te skep. En was dit nie die belofte aan die kiesers nie? Julle sal alles kry wat julle nooit gehad het nie. Wel in plaas van werk te skep is hele paar mense hulle werk kwyt. Wie moet hulle bedank ? Defnitief nie Boland Bank

Di ·

Ja nee, so kyk ons maar elke dag hoe een na die ander plek vou in die land. Ons wag maar geduldig totdat ALLES tot niet is, dan kan ons dalk van vooraf begin. Daar is GEEN manier om te red wat reeds verwoes is nie, wag net vir laaste bietjie om inmekaar te tuimel

SjN ·

Kan nie n geskikte koper kry nie, grap van die jaar, enige regdenkende persoon weet mos dit is n bodemlose put.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.