SA heg groot waarde aan verhouding met VSA, sê Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GovernmentZA/Twitter)

Suid-Afrika heg groot waarde aan sy bilaterale verhouding met die VSA, een van sy grootste handelsvennote en met wie die land verhoudings geniet wat veel verder strek as bloot handel.

Volgens pres. Cyril Ramaphosa sien Suid-Afrika uit na verdere betrokkenheid rondom die hergoedkeuring van Agoa in ʼn tyd wanneer “die voordele daarvan steeds ons strewe na ekonomiese groei, werkskepping en inklusiewe, volhoubare ontwikkeling ondersteun”.

Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (beter bekend as Agoa) verleen aan kwalifiserende Afrika-lande belangrike toegang tot belastingvrye uitvoer na die Amerikaanse mark. Dit is tans tot 2025 geldig, maar die verlenging daarvan hang af van menings binne die Amerikaanse kongres.

Solidariteit glo die Suid-Afrikaanse regering sit die pot mis as hy dink die land se betrokkenheid by Agoa is veilig en behoue.

Ofskoon dié Amerikaanse wetgewing se positiewe uitwerking op Afrika-ekonomieë ná afloop van die Agoa-forum in Johannesburg geprys is, is Suid-Afrika se posisie opnuut onder skoot.

Die Amerikaanse senator Chris Coons het weereens vir die heroorweging van Suid-Afrika se voordele ingevolge die Agoa-wetgewing gevra.

Volgens Ramaphosa word die voordele van Agoa “gevoel in die lewe van ons mense deur verhoogde ekonomiese aktiwiteit en die werksgeleenthede wat sulke aktiwiteit geskep het”.

“Hoewel dit vir baie in ons land dalk na ʼn taamlik verafgeleë, selfs duistere onderwerp lyk, is Agoa ʼn belangrike instrument om ons ekonomie te laat groei en te transformeer. Suid-Afrika baat baie by Agoa. Ons land is die VSA se grootste handelsvennoot in Afrika. Die VSA voer meer goedere na Suid-Afrika uit en voer ook meer goedere uit Suid-Afrika in as enige ander Afrika-land.”

Ramaphosa het gesê die waarde van Agoa vir Afrika-lande strek egter verder as die indrukwekkende handelstatistieke. “Agoa kan eerder ʼn belangrike bydrae lewer tot die transformasie van Afrika-lande van hoofsaaklik uitvoerders van grondstowwe na vervaardigers van klaarprodukte vir kontinentale én globale markte.”

ʼn Hernuwing van Agoa sal volgens Ramaphosa groter Amerikaanse investering in Afrika suid van die Sahara aanspoor en die uitvoermededingendheid van Afrika-produkte verbeter.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging, het vroeër gesê daar is tans ʼn sterk beweging binne die Amerikaanse senaat se komitee vir buitelandse sake dat Suid-Afrika se deelname aan Agoa heroorweeg moet word.

“Verskeie senatore voel dat Suid-Afrika se buitelandse beleid regstreeks vyandig teenoor Amerikaanse belange staan.

“Daarom kan ons verwag dat Suid-Afrika se deelname aan Agoa oor die volgende paar maande verder onder die vergrootglas sal kom,” sê Kleynhans.

Volgens hom glo die Suid-Afrikaanse regering, en spesifiek pres. Cyril Ramaphosa en die minister van openbare betrekkinge en samewerking, dr. Naledi Pandor, hulle kan die Weste van die bestaan van ʼn historiese verpligting om Suid-Afrika te ondersteun, oortuig.

“Suid-Afrika dink trouens hy kan eise stel oor Agoa. Dít terwyl Suid-Afrika openlik en arrogant sy verhouding met lande soos China, Rusland en Iran verdiep. Dit word ook in die regering se standpunte en hantering van die konflik in Israel gesien,” sê Kleynhans.

“In hierdie tyd waar die temperatuur in die globale magstryd styg, moet lande buitekant hierdie magstryd tog ʼn versigtige balans in hul buitelandse verhoudings handhaaf. Dit moet nie lyk of daar kant gekies word nie, en tog is dit presies wat Suid-Afrika doen.

“Suid-Afrika se beeld in die Weste het die afgelope weke verder skade gely met sy anti-Israelse standpunte.”

Uitvoere na die VSA is ʼn belangrike bron van inkomste vir Suid-Afrika en dra by tot die bevordering van ekonomiese groei. Suid-Afrika het in 2022 uitvoere ter waarde van R178 miljard na die VSA gehad. “Daarom is dit belangrik vir Suid-Afrika om alles binne sy vermoë te doen om die land se posisie binne Agoa te bewaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die VSA is moeg vir Ramaphosa en sy ANC se rondspringery.

WitBlits ·

Ek dink die hele SA saam die VSA is moeg vir die ANC… En ek gebruik die woord “moeg” net omdat meer geskikte woorde nie toegelaat word nie…

Kokerboom ·

Wysheid, insig, integriteit, neutraliteit, opregtheid en visie is nodig in AGOA onderhandelinge! Ek is jammer die ANC versameling beskik oor GEEN van die vereistes!

electricmango ·

Korrek, die regering is al so gewoond aan die blanke bevolking van die wereld wat neerval voor hulle voete dat hulle maak en breek soos hulle wil. As amerika ons uitskop dan skree ons net apartheid en ons is weer terug met n ekstra paar dollars net om op te skree.

Jakes ·

Laat Ranmaphosa nonsens praat soos hy wil, na die verkiesing is ons ontslae van hom en sy gespuis.

gatgogga ·

Jakes, ek hoop van harte jy is reg. Ek is maar skepties. Sou die ANC sy mag verloor, dan beteken dit dat die hele vervolgingsgesag en regstelsel weer na die pype van nuwe meesters sal dans – en dit beteken dat Ramaposa en sy gespuis dalk agter tralies kan beland. Hulle weet dit, en dus durf hulle nooit die politieke mag afstaan nie. Dus sal hulle sorg dat hulle nie by die stembus verslaan word nie.

hpven ·

Ramaphosa se sieninge en uitsprake verskil gewoonlik ligjare van mekaar! Sy waarheid is slegs hoe hy, sy party of kaders dit sien! Dit is soos dit werk as ‘n enkele politieke party die land regeer.

domheks ·

Jakes – ek hoop en bid jy is reg! Ons het nou lankgenoeg met die skynheiliges gedeel.

Christian J M ·

Net as die VSA julle kan geld leen anders is hulle westerse imperialiste ne !!!!

Twallie ·

Nee ou Sarel, jou party se hand om die blaas met Rusland, China en Hamas spreek die teendeel. Gaan praat bollie met iemand anders.

Skadu ·

Hoe lank kan hulle nog beide kant van die brood gebotter hou. Dit gaan hulle moet begin vang êrens.

Ek is oortuig nie VSA of Rusland is so dom om hom ten te glo nie.

Gert ·

Lief vir my land. Skaam my vir die skandelike regering. Ek sidder om te dink hoe vandag sou lyk indien 94 dalk reeds in 74 gebeur het.

Plotman ·

Wat die anc voorgee en teenoor wat hul werklik doen laat my dink aan Shapiro se spotprent, “fake-it”.

Herman L ·

Ek wonder of Ramaphosa al daaraan gedink het wie die seerste sal kry as Agoa gestop word? Hy en sy kaders is sekerlik goed verskans en dit sal gewone Suid-Afrikaners wees wat daaronder ly. Hulle gee nie ‘n flenter om nie en verkies om die Ooste se skoothondjies te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.