SA kap terug oor EU se ‘onbillike’ sitrusbesluit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Vaalbos Trust)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag die Europese Unie (EU) gekap vir sy beperkings op Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere wat poog om die invoer van uitheemse motte na die streek te verhoed.

Ramaphosa sê hy is teleurgesteld oor die EU se “proteksionistiese” optrede teen Suid-Afrikaanse landbouprodukte en in die mees onlangse verlede teen “ons sitrus”.

Die EU se staande komitee vir plante, diereprodukte, voedsel en voer (Scopaff) het sedert Junie verlede jaar diegene wat lemoene na die EU uitvoer gedwing om ʼn kouebehandeling op sy produkte te doen. Dit is glo in ʼn poging om die verspreiding van die vals kodlingmot in die streek hok te slaan.

Suid-Afrika het verlede jaar reeds ʼn klagte by die Wêreldhandelorganisasie ingedien oor die EU se nuwe invoervereistes op sitrusprodukte.

“Ons is nou die wêreld se tweede grootste uitvoerder van sitrusprodukte en glo die onlangse besluite deur die EU is onbillik,” het Ramaphosa tydens ʼn nuuskonferensie saam met die president van Finland, Sauli Niinisto, gesê.

Niinisto is op ʼn staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Ramaphosa het aan Niinisto gesê hy kyk na Finland “om ʼn saak teen proteksionisme in die EU en ten gunste van vryehandel te stel”.

Suid-Afrika se sitrusbedryf word op sowat R36 miljard geraam en word slegs oortref deur die Spaanse uitvoerbedryf.

Toe die regulasies destyds in werking getree het, was meer as ʼn duisend vraghouers Suid-Afrikaanse vrugte reeds op see. By die aankoms daarvan in die EU is owerhede gedwing om dit terug te hou en nie in die streek toe te laat nie.

In Augustus het Suid-Afrika ʼn tydelike ooreenkoms aangegaan om die tonne lemoene weg te werk wat te midde van die dispuut by hawens oor Europa teruggehou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ziggy ·

Die regering moet dalk die rede vir besluite soos hierdie gaan soek by hulle vriendelikheid by die Russe en Chinese. Dwase besluite deur die regering om hand om die blaas te wees met Russe en Chinese kos die land op die einde.

Groen Ghoen ·

Dit mag so wees, Ziggy? Dit kan ook die Spanjaarde wees wat hul mark ten alle koste wil beskerm. Die vrugtebedryf is “hond-eet-hond.” Kry jou nuwe seisoen se lemoene vroeg op die mark wanneer die rakke leeg is en jy verdien ‘n fortuin. Suid-Afrikaanse lemoene wat dan nog beskikbaar is teen lae pryse, beduiwel egter die hele prentjie. Vrugtepolitiek sit dalk agter hierdie duur tameletjie.

Pierre ·

Citrus moet teen n sekere temperatuur gestoor word voor vervoer word, loadshedding het n groot impak op die proses en is direk verantwoordelik vir die besluite, viva ANC viva

OW ·

As die valskodlingmot se ruspes eers binne die lemoene is,is die skade reeds gedoen.Die koue ketting sal die ruspes doodmaak,en die lemoene sal dan verswakte kwaliteit wees.Die beter metode sal wees om die lemoene vooraf te spuit om die ruspes te beheer en dan verkoel te hou.Beurtkrag het ook ‘n impak as daar nie alternatiewe kragbronne is nie.Terloops valskodlingmotte besmet ook perskes en kan baie skade aanrig as dit nie beheer word nie.

Nommer 7 ·

Hoekom is sitrus vanaf Morocco goedkoper en soeter as SA produsente s’n?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.