SA, Lesotho wil saamwerk oor probleme op die grens

Gesprekke tussen die SAPD en hul eweknieë in Lesotho (Foto verskaf deur die kantoor van die polisieminister)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het met hul eweknieë in Lesotho vergader oor misdaad op die grens tussen dié twee lande wat die inwoners en hul eiendom bedreig.

Polisieminister Bheki Cele het die afgelope week ʼn afvaardiging na Maseru in Lesotho gelei ná ʼn aanvanklike vergadering op 2 Februarie 2023 wat in Pretoria gehou is. In daardie vergadering het Cele en ʼn bestuurspan van die SAPD, onder leiding van polisiekommissaris Fannie Masemola, openlik in gesprek getree met die minister van plaaslike regering, binnelandse sake en polisie, minister Lebona Lephema en sy afvaardiging oor misdade op die grens.

Lephema het Suid-Afrika se bereidwilligheid geloof om arbeidsbetrekkinge met Lesotho te verhoog.

“Die hoeksteen van ons gesprekke is om te gebruik wat ons in die verlede behaal het,” het Lephema gesê. “Dit is duidelik dat ʼn doeltreffende emigrasiestelsel die sleutel is in die stryd tussen oorgrensmisdade. Ons gesprekke het bepaal dat ʼn permitregime ingestel moet word om enige skuiwergate toe te maak wat betref die koop en verkoop van vee om veediefstal te bekamp.”

Die veilige, ordelike en welwillende beweging van mense tussen Lesotho en Suid-Afrika bly hoog op die agenda.

Njabulo Nzunza, Suid-Afrika se adjunkminister van binnelandse sake, het kwessies aangeroer soos die oprigting van ʼn grensbestuurowerheid (BMA) en immigrasieverwante sake. Ander kwessies sluit in onwettige mynbou, vee- en motordiefstal, mensehandel en die smokkel van onwettige goedere en vuurwapens tussen die twee lande.

As ʼn strategie om oorgrensmisdade te bekamp het albei lande ingestem om die deel van inligting en samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe op te skerp sodat gedeelde bedreigings geïdentifiseer kan word en ʼn databasis vir persone van belang saamgestel kan word.

Minister Lebona Lephema van Lesotho en polisieminister Bheki Cele onderteken die ooreenkoms (Foto verskaf deur die kantoor van die polisieminister)

“Ons bly vasbeslote in ons najaag van veiligheid en geregtigheid tussen ons grense,” het Cele gesê. “Ons volhard in die besluit dat kriminele nie toegelaat kan word om sonder gevolge verwoesting kan saai tussen Lesotho en Suid-Afrika nie. Daarom het ons ingestem tot gesamentlike polisiëringsbedrywighede wat beter misdaadbespeuring sal verseker teen die infiltrasie van kriminele bendes. Dit sluit onder andere in die ontwikkeling van ʼn ooreenkoms oor die deel van intelligensie tussen Suid-Afrika en Lesotho.”

Die ooreenkoms wat Cele en Lephema onderteken het, sal saamgestel word in ʼn memorandum van verstandhouding wat op ʼn ministeriële vlak onderteken sal word en op presidensiële vlak bekragtig sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Hulle wil slegs die blueprint sien sodat misdaad aangepas kan word.

Di ·

Alles goed en wel maar wat van MOSAMBIEK , ZIMBABWE EN NIGERIA???? Die meeste onwettige kriminele in die land is van hierdie lande af!!

SjN ·

Daar bestaan nie behoorlike grensbeheer nie, beweeg oor en terug sonder enige dokumentasie, dit is die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.