SA Matrieks kry wetenskappryse in Hongkong

Jaco Jacobs het ‘n goue medalje by die wetenskapkompetisie verower. (Foto: Facebook/ Hoërskool Outeniqua)

Twee Afrikaanssprekende matrikulante aan skole in Suid-Afrika het onlangs weggestap met toekennings tydens ʼn internasionale wetenskapkompetisie in Hongkong.

Jaco Jacobs, ʼn leerder aan Hoërskool Outeniqua in George, en Nicholaas Moolman, ʼn leerder aan Hoërskool Volksrust in Mpumalanga, het onderskeidelik goud en silwer in die Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) verower.

Eskom het dié inligting Vrydag in ʼn verklaring bekendgemaak. Albei leerders het vroeër vanjaar goue medaljes tydens Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes gewen.

Die GYSTB ʼn internasionale wetenskapprojek in biologie, chemie en fisika wat aanlyn aangebied word.

Nicholaas Moolman was tweede in die kategorie bio-chemie en chemie. (Foto: Facebook / Hoërskool Volksrust)

Jaco (17) het deelgeneem in die kategorie vir fisika en ingenieurswese en het geoutomatiseerde inflasie- en drukregulering vir ontspannings- en professionele fietsryers ondersoek. “Ek is baie opgewonde om die toekenning te gewen het. Dit was ʼn lang pad tot hier en ek is baie gelukkig dat ek so ver gekom het,” het hy na afloop van die kompetisie gesê.

“Dit was baie interessante en uitdagend om aan die kompetisie deel te neem, veral aangesien dit ʼn internasionale gebeurtenis is. Dit was veral lekker om mense van reg oor die wêreld te onmoet en by hulle te leer.”

Nicholaas (18) het ʼn tweedeplek in die afdeling biochemie en chemie behaal. Sy projek het gehandel oor voedselskaarste en die beheer van uitheemse plantegroei. Die doel van sy projek was om vas te stel of chemiese stowwe wat uit plante onttrek word, gebruik kan word om die bederf van groente en vrugte as gevolg van muf en bakterieë te voorkom.

“Ek is baie dankbaar en bevoorreg om deel te kon neem en beloon te word vir al die harde werk wat ek in my projek ingesit het,” het Nicholaas gesê. Hy sê die hele kompetisie was baie opwindend en hy het dit ook geniet om van ander deelnemers se projekte te leer, sowel as om ander benaderings tot probleemoplossing te kon sien.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.