SA se Bella op koers na Wimbledon-sukses

Isabella Kruger in aksie op Wimbledon. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Danksy haar sprokiesverhaal-vertoning by die junior Wimbledon-toernooi is Isabelle Kruger goed op koers om Suid-Afrika se nuwe tennisliefling te word.

Die 17-jarige tennisspeler het vroeër nie net die eerste Suid-Afrikaanse meisie geword om vir die hooftoernooi van dié kampioenskap te kwalifiseer nie, maar sy het ook met ’n hele paar gerekende spelers afgereken om na die uitspeelwedstryde deur te dring.

Sy het onder meer vir Nikola Daubnerova – 12de op die wêreldranglys – met 6-4, 6-7 en 6-2 geklop, terwyl gister se spogvertoning teen Mimi Xu haar plek in die kwarteindstryd verseker het.

Die Britte glo dat die 14-jarige Xu die volgende Emma Raducanu kan wees. Sy is die verdedigende Britse o. 18-kampioen, terwyl hulle ook beïndruk is met die wyse waarop sy druk kan hanteer.

Tog het Kruger haar gister op haar plek gesit met ’n oorwinning in skoon stelle van 6-4 en 6-3. Sy speel nou later vandag in die kwarteindstryd teen die vyfde gekeurde Victoria Mboko.

Die 15-jarige Kanadees het haar kragmeting teen Pole se Olivia Lincer met 6-0, 6-7 en 6-4 gewen.

Die jong Suid-Afrikaanse ster is die dogter van die legendariese flank Ruben Kruger wat in 1995 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokspan op Ellispark omhoog gehou het. Hy is tragies in 2010 in die ouderdom van 39 aan breinkanker oorlede.

Sy het Donderdag gesê die foto van haar pa wat trots langs oudpres. Nelson Mandela staan nadat hulle die 1995-Wêreldbeker gewen het, inspireer haar om haar drome by Wimbledon te bewaarheid. “Ek was baie klein toe hy oorlede is, maar ek het darem ʼn paar herinneringe aan hom. My ma vertel my ook baie stories van hoe hard hy altyd gewerk het.”

Haar ouer suster, Zoë, is ook ’n kranige tennisspeler.

Bykomende inligting: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dries ·

Volg die Kruger-susters se tennis loopbane al n geruime tyd. Trots SA.

Casper ·

Ja my kind jy was maar 5 toe jou legendariese pa oorlede is.Hy was ‘n bok duisend en ek glo nog steeds hy het daai drie gedruk wat Ed Morrison nie toegeken het nie.

Casper ·

Jou akkurate afslane gaan jou nog baie titels besorg.Glo en vertrou op die GROOT AFRIGTER.Jy het alles wat ‘n kampioen van iemand maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.