SA studente op straat in Rusland oor probleme met betaling

Vlag van Rusland (Foto: Evgeni Tcherkasski/Pixabay)

ʼn Groep van 229 studente wat tans in Rusland studeer deur beurse van die Mpumalanga- departement van onderwys, beleef tans akkommodasieprobleme en het byna nie geld vir kos nie omdat hulle nog nie hul studentegeld ontvang het nie.

Gilbert Martin, woordvoerder van die organisasie We Are South Africans, sê die departement, onder leiding van LUR Bonakele Majuba en departementshoof Lucy Moyane, het kontrakte met die groep studente wat beurse toegeken is om medies te studeer en dokters te word. “Dit word ten volle deur die belastingbetaler befonds weens die studente se goeie prestasie en nie as gevolg van gunste nie. Die stipendiums moet maandeliks betaal word, asook akkommodasie, studiegeld en enige bykomende uitgawes waar nodig.”

Martin sê dit is ʼn uitstekende belegging vir die land se toekoms, “as die regering dit nie opmors nie, en dit is wat hulle nou doen”.

Hy sê meeste van die studente kom uit baie arm omstandighede en is onder kontrak in Rusland geplaas onder leiding van ʼn maatskappy, Racus, wat die kinders in Rusland plaas en bestuur. Volgens die studente het Racus tot dusver hulself uitstekend van hul taak gekwyt.

Die provinsiale departement het egter vroeër vanjaar die kontrak met Racus gekanselleer sonder enige alternatief. “Hulle het gesê dit is duur en het van die studente vereis om self bankrekenings oop te maak, fakture van die universiteit te bekom.”

Verskeie studente is reeds uit hostelle geskop nadat Russiese verhuurders het maande lank nie enige betaling ontvang het nie.

Volgens Martin beloop die studiegeld, akkommodasiekoste en stipendiums sowat R55 miljoen wat nog nie betaal is nie. “Ons wonder wat met dié geld en die rente op die bedrag gebeur. Studente loop die gevaar om vyf tot sewe jaar van hul lewens te verloor as hulle nie hul studies kan voltooi nie. Van die studente het slegs tot 10 Oktober kans om vir hul akkommodasie te betaal of hulle sal uitgeskop word – net soos die wat reeds uitgeskop is. Die universiteite het reeds verskeie studente geskors en gedreig om hulle te deporteer oor onbetaalde studiegeld. Mediese versekering, wat verpligtend is om in Rusland te bly, is ook nie betaal nie en visums en paspoortfooie is ook nie betaal nie.”

Corsas, die Community of RSA Students in Russia, versoek dat die geld dadelik vrygestel word.

“Ons het al vir drie tot vier maande lank nie enige geld vir akkommodasie ontvang nie. Sommige studente plak by vriende, maar dit is onwettig in Rusland en hulle kan hiervoor in hegtenis geneem word. Daar word van die studente verwag om vir hul akkommodasie te betaal uit dieselfde stipendium wat hulle ontvang om van te leef. Dit beteken hulle het nie genoeg geld om kos of toiletbenodigdhede te koop nie,” het die studente in ‘n verklaring gesê.

Volgens Corsas word die probleem vererger deur sanksies wat as gevolg van die konflik tussen Oekraïne en Rusland toegepas word en die rand wat verder teen die Russiese roebel verswak het.

Sedert Corsas navraag by die departement gedoen het oor die gebrek aan betaling, is hulle slegs van bakboord na stuurboord gestuur.

Jasper Zwane, woordvoerder van die departement van onderwys in Mpumalanga, bevestig daar is tans 229 studente wat in Rusland studeer in verskeie vakrigtings, naamlik medies, veeartsenykunde, ingenieurswese, lugvaartwetenskap, kubersekuriteit en inligtingstegnologie. Altesaam 67 van dié studente sal na verwagting in Junie 2023 hul studies afhandel.

“Die studente word ten volle gefinansier deur die Mpumalanga- departement van onderwys as deel van die provinsiale ontwikkelingstrategie vir menslike hulpbronne.”

Zwane bevestig die studente is in die verlede by verskeie instansies geplaas deur ʼn kontrak met ʼn implementeringsagent genaamd Green Tutu wat handel dryf as Racus. Dié kontrak het in Maart 2022 verstryk, sê Zwane.

“Die departement het ʼn tender in Oktober 2021 geadverteer om ʼn implementeringsagent aan te stel. Die departement het egter nie enige reaksie ontvang nie en dit is vandeesmaand, Oktober 2022, weer geadverteer.”

Zwane sê dit is belangrik om kennis te neem dat die departement sedertdien die stipendium van R4 000 na R5 000 per student per maand verhoog het ter versagting van die uitdagings weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne.

“Die departement het deurgaans die maandelikse stipendium vir alle studente geprosesseer buiten 15 studente wie se bankbesonderhede nie in werking was nie. Ander opsies word tans ondersoek om die kwessie op te los.”

Volgens Zwane het 68 studente reeds vanjaar gegradueer en hulle is in September 2022 na Suid-Afrika teruggebring.

“Die uitdaging wat die departement tans takel, is oor die betaling van akkommodasie en studentegeld. Dit sal na verwagting teen 14 Oktober 2022 afgehandel wees, soos vereis deur die Russiese universiteite.”

Hy sê die departement dra nie tans kennis van studente wie se akademiese kontrakte opgeskort is of studente wat uit hul akkommodasie geskop is nie.

“Die departement is tans in ʼn gevorderde stadium van gesprekke met die Suid-Afrikaanse ambassade in Rusland en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking om die betaling van studiegeld en akkommodasiefooie vir die studente te bespoedig. Die departement is ook in gesprek met die studente en hulle word deurgaans op hoogte gehou oor vordering wat gemaak word.”

Zwane sê die departement doen alles in sy vermoë om seker te maak dat die studente se akademiese lot nie benadeel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Eerstehandse, praktiese klasse vir daai “leerders” oor hoe kommunisme werk. Die Kubaanse “studente” leer dit ook.

Nie Verbaas ·

En hoekom kon hulle nie in Suid Afrika studeer nie? Ek glo nie Rusland se slaag vereiste is 30% nie maar weereens maak die ANC n gemors daarvan en is alweer vol verskonings.

Shakespeare ·

Ek wonder wat die Russe gaan doen as die klomp begin brande stig.

Marelize ·

Suid Afrika – ons het ‘n probleem vir elke oplossing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.