SA vereer vir stryd teen malaria

(Foto: pixabay)

Die vierde jaarlikse wêreldforum van lande wat malaria uitroei, is vandeesweek in Kaapstad aangebied en Suid-Afrika is een van dié lande wat ʼn toekenning van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ontvang het vir sy pogings in die stryd teen die siekte.

Dit is die eerste keer dat só ʼn toekenning gedoen word aan lande waar malaria nog nie ten volle uitgeroei is nie.

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid sê die regering is daartoe verbind om malaria uit te roei en maak gebruik van alle beskikbare bronne om hierdie doelwit te bereik.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement, sê die regering het egter nie manalleen dié strategieë in werking gestel nie, maar in samewerking met verskeie vennote wat hom ondersteun. Die betrokkenes sluit in Elimination 8 en MOSASWA-LSDI2, asook ander navorsingsinstellings en susterdepartemente.

“Malaria-uitskakeling behels ʼn stelselmatige proses om strategieë te ontwikkel en die robuuste inwerkingstelling daarvan te verseker. Malaria is ʼn voorkombare en geneesbare siekte, maar as dit nie vroeg gediagnoseer en behandel word nie, kan dit ook dodelik wees,” sê Mohale.

Maroela Media het vantevore berig malaria word hoofsaaklik langs die grensgebiede oorgedra. Sommige dele van Suid-Afrika se nege provinsies (Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) is endemies vir malaria, en 10% van die bevolking (ongeveer 4,9 miljoen mense) loop die gevaar om dié siekte op te doen. Die oordrag van malaria in Suid-Afrika is seisoenaal, met malariagevalle wat in Oktober begin toeneem, in Januarie en Februarie ʼn hoogtepunt bereik, en teen Mei weer afneem.

  • Ander lande wat vandeesweek gesogte toekennings in Kaapstad ontvang het, sluit in China en El Salvador vir die verkryging van hul malariavrye status.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Die regering word geprys maar ek is seker dat ‘n privaatmaatskappy of maatskappye betrokke is. Hierdie regering kan tog niks uitroei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.