Saak teen Isis-simpatiseerders weer uitgestel

Die vermoorde Rodney (73) en Rachel Saunders (64). (Foto: Nick Bailey via Twitter)

Drie simpatiseerders van die terreurgroep Isis wat glo ʼn KwaZulu-Natalse egpaar ontvoer, beroof en toe vermoor het, bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning.

Die beskuldigdes Fatima Patel en Sayefudeen Del Vecchio, wat volgens Moslem-reg getroud is, asook die 36-jarige Malawiër Ahmad Mussa, was weens veiligheidskommer oor hulle vervoer ná en ván die hof tydens verkiesingstyd, nié vandag in die hof nie.

Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, diefstal, oortreding van die land se terreurwet en twee aanklagte van moord op die egpaar Rachel en Rodney Saunders.

Die Saunders-egpaar, albei plantkundiges, het tegelyk Britse én Suid-Afrikaanse burgerreg gehad. Hulle het tussen 10 en 15 Februarie verlede jaar in die Vryheid-omgewing verdwyn, vermoedelik terwyl hulle op soek was na skaars veldplante.

Hul liggame is later gevind, nadat dit glo van die Tugelarivierbrug gegooi is.

Die saak het wêreldwyd opslae gemaak en bespiegelinge aangewakker dat daar meer Isis-simpatiseerders en ideologiese aanhangers in Suid-Afrika is as wat voorheen gedink is.

In Desember, tydens hul vorige hofverskyning, het die staat gevra dat die saak uitgestel word om die dienste van ʼn kenner wat in die Verenigde Koninkryk woon, te bekom. Die kenner sou gevra word om ʼn verslag oor terreur en digitale lêers, wat in die beskuldigde se besit gevind is, saam te stel. Die hof het toe gehoor die uitstel is ook nodig om ʼn voorlopige klagstaat op die beskuldigdes te beteken.

Die klagstaat is steeds nie afgehandel nie.

Die saak is uitgestel tot 14 Mei.

Lees ook vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

? leser ·

nou hoe lank neem dit om ‘n klagstaat te “formuleer” en te beteken

Hans Richardt ·

ISIS is werklikheid waaroor niemand hul bekommer in SA en Suidelike-Afrika nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.