Saftas: Akteurspaar wen; Derek Watts vereer

Die akteurspaar Cindy Swanepoel en Craig Urbani met hul Safta-toekennings. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die verloofde akteurspaar Cindy Swanepoel en Craig Urbani het albei Saterdagaand toekennings by die 17de jaarlikse Saftas (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings) opgeraap. Dié geleentheid is in die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand aangebied.

Die paartjie het hul verlowing in Desember 2022 aangekondig nadat hulle mekaar op die stel van Binnelanders ontmoet het waarin Urbani die rol van Jeremy Gavins en Swanepoel die rol van die strenge dr. Annelize Roux vertolk.

Swanepoel is as beste aktrise in ʼn sepie aangewys, terwyl Urbani die toekenning vir beste ondersteunende akteur in ʼn dramareeks vir sy rol as Ezra in Makoti losgeslaan het.

Die paartjie skerts dat hulle hul goue Safta-standbeeldjies in bedlampies gaan omskep.

“Nee kyk, die wind is behoorlik uit ons seile gehaal. Dis lekker om saam trots op mekaar te kan wees en in mekaar se vreugde te deel. Dit voel vir ons al twee nog bietjie onwerklik,” het Swanepoel aan Maroela Media gesê.

Erkenning vir lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse media- en vermaakbedryf is aan die Carte Blanche-aanbieder en joernalis Derek Watts, asook die bekroonde Afrikaanse rolprentmaker Koos Roets gegee.

Watts, wat op 22 Augustus vanjaar sy stryd teen kanker verloor het, se dogter Kirsty het die toekenning namens hom ontvang.

“Wat ʼn voorreg om dié toekenning namens ʼn merkwaardige pa, joernalis en mens te aanvaar. As ʼn familie was ons altyd baie trots op sy prestasies en ons wil Safta bedank dat hulle hom vir sy merkwaardige werk en loopbaan vereer. Ek weet dat hierdie toekenning die wêreld vir hom sou beteken het,” het ʼn bewoë Kirsty op die Safta-verhoog gesê.

Roets (80), ʼn rolprentmaker en kinematograaf wat bekend is vir flieks soos Faan se trein (2014), Hoener met die rooi skoene (2017) en Die sersant en die Tiger Moth (1973) het op sy beurt ʼn staande toejuiging gekry en het gesê dat hy hoop om soos die Amerikaanse akteur en regisseur Clint Eastwood “nog flieks tot in my 90’s te maak”.

Onder die aand se groot toekennings tel Lavish, wat as die beste TV-drama aangewys is, en die ekologiese riller Gaia, wat met die Safta vir beste speelfliek weggestap het.

Verskeie Afrikaanse produksies en kunstenaars is ook vanjaar met dié gesogte toekennings bekroon.

Nico Scheepers se trefferreeks Donkerbos het vir hom die toekenning vir beste regisseur vir ʼn TV-drama versorg, terwyl dié reeks se klanktegnici die toekenning vir beste klank in ʼn TV-drama verower het.

Die kykNET-komedie Hotel se vyfde en finale seisoen het op ’n hoogtepunt afgesluit, met James Borthwick wat as beste akteur in ʼn TV-komedie aangewys is.

Hotel se produksiespan het Vrydagaand tydens die tegniese toekennings ook die beeldjies vir beste klank, kunsregie en kinematografie vir ʼn TV-komedie gekry.

Die prys vir beste klank, sowel as beste regie in ʼn TV-sepie is aan die Afrikaanse sepie Suidooster se regiespan, bestaande uit regisseurs Eriena Niemand, Shirley Ellis, Romano Gorlei en Richard September toegeken.

Jarrid Geduld het Saterdagaand Safta-geskiedenis gemaak en die eerste akteur geword om die toekenning vir beste akteur in ʼn vollengte fliek vir ʼn tweede keer te ontvang.

Die Arendsvlei-akteur en regisseur het in 2019 die Safta-beeldjie vir sy rol as Abie Pakkies in Die storie van Ellen Pakkies gewen en Saterdagaand dieselfde toekenning vir sy rol in die aksiefliek Indemnity huis toe geneem.

Benewens Cindy Swanepoel het Odelle de Wet en Charlie Bouguenon ook Binnelanders se naam hoog gehou en onderskeidelik die toekennings vir beste aktrise en akteur vir ondersteunende rolle in ʼn TV-sepie ontvang.

Sex in Afrikaans is as die beste gestruktureerde of dokumentere werklikheidsreeks aangewys. Dié dokumentêre reeks hou die rekord vir ʼn Afrikaanse reeks met die meeste kykers op Showmax op die eerste dag van sy uitreiking en is deur Rian van Heerden se maatskappy, Provoco, vervaardig.

Die musikant Peach van Pletzen het die toekenning vir beste oorspronklike klankbaan vir ʼn TV-drama vir die Netflix-reeks Ludik – waarin Arnold Vosloo die hoofrol vertolk – huis toe geneem.

Besoek Safta se Facebook-blad vir ’n volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.