Sakeman sê oor ‘vernedering’ ná onregmatige inhegtenisneming

Dr. Hinner Köster en sy lewensmaat, Ensli Strydom. (Foto: Verksaf deur AfriForum)

’n Sakeman van Pretoria het ’n klag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak nadat hy en twee ander die jongste slagoffers van beweerde polisiemagsmisbruik geword het.

Dr. Hinner Köster, sy lewensmaat, Ensli Strydom, en nóg ’n inwoner van die Silver Lakes-landgoed in Pretoria is sowat twee weke gelede in hegtenis geneem nadat hulle enkele minute nadat die aandklokreël in werking getree het by dié landgoed in die ooste van die stad aangekom het.

“Dit is een van die vernederendste ondervindings in ons lewens en ons kan dit eenvoudig nie net so aanvaar nie. Hierdie kwaadwillige optrede deur polisiebeamptes vind daagliks plaas omdat hulle óf nie opgelei is nie, óf nie wetgewing rakende arrestasie ken nie óf hulle eenvoudig nie daaraan steur om onskuldige mense soos kriminele te behandel nie. Dit moet end kry en daar moet ’n voorbeeld van sulke beamptes gemaak word.”

Die drie is die betrokke aand weens die aanwysings op hul GPS-toestel op pad huis toe effens opgehou. Inhegtenisneming en hardhandige behandeling deur die polisie sou later die aand volg.

Köster, uitvoerende direkteur en aandeelhouer van die Kaonne Investments-groep en president van die Universiteit van Pretoria se konvokasie, vertel dat hulle die aand van 12 Februarie omstreeks 22:45 saam met die ander inwoner van Menlopark af ’n saamrygeleentheid gekry het en op pad huis toe was. Hul GPS-toestel het hulle egter deur woongebiede op pad huis toe geneem en is hulle gevolglik effens opgehou.

“Eerder as om vinniger te ry en die spoedgrens te oorskry, het ons besluit om nie die vyf minute te probeer opmaak om voor die aanvang van aandklokreël by die huis te probeer kom nie,” verduidelik hy.

Die drie het die betrokke aand van die N4-hoofweg op Solomon Mahlangu-rylaan gedraai en opgemerk dat ’n polisievoertuig uit die rigting van Mamelodi hulle agtervolg. Die voertuig se blou ligte is geflits en daar is aangedui dat hulle van die pad moet aftrek.

Argieffoto ter illustrasie

“Ons het die veiligheidsrisiko ontleed na aanleiding van heelwat mediadekking die afgelope tyd oor voertuie met vals polisieligte en het besluit om stadig tot by die Silver Lakes-hek sowat ’n kilometer of twee verder te ry.”

Die ingang tot die landgoed is goed verlig en het sekuriteitswagte en -kameras. “Ons het nie vir die polisie probeer wegjaag nie en juis ons spoed nog heelwat verminder. Hulle het ons egter steeds op ’n gevaarlike wyse by ’n blinde streep van die pad probeer dwing en in die proses amper teen ’n aankomende voertuig gebots.”

Köster vertel dat een van die polisiebeamptes by hul aankoms by die hek nader gestap het. Die polisiebeampte was glo uit die staanspoor aggressief. Hy wou ook glad nie homself identifiseer nie.

“Hy het net herhaaldelik gesê ‘my naam is my naam’ terwyl hy voorts die bestuurder van die motor daarvan beskuldig het dat sy roekeloos bestuur het, omdat sy nie dadelik stilgehou het nie.

“Ek het aan hom verduidelik dat met al die negatiewe berigte wat ’n mens hoor oor misdadigers wat hulle as polisiebeamptes voordoen, ons besluit het om eerder tot by ’n veilige punt te ry voor ons stop. Op grond daarvan het die beampte my beskuldig dat ek aangedui het dat die polisie nutteloos is.”

Soos die noodlot dit wou hê, het die bestuurder van die motor nie haar bestuurslisensie by haar gehad nie. Sy het dit egter binne minute aan die polisiebeamptes gewys nadat sy haar seun binne die landgoed gebel het om dit te bring.

“Die polisie het herhaaldelik ongevraagde kru-taal gebruik en onder meer gesê ‘shut your dirty mouth’ en ook dat ons nie moet dink ons is onaantasbaar omdat ons agter hoë mure bly nie,” vertel Köster.

Daar is herhaaldelik aan die een polisiebeampte gevra waarvoor hy hulle werklik wou aankla en beboet. Die polisiebeamptes het eers aangedui dat hulle aangekla gaan word vir roekelose bestuur. Kort daarna wou die polisiebeamptes die bestuurder beboet oor haar lisensie wat sy nie dadelik kon wys nie, en toe weer omdat die drie nie maskers in die voertuig aangehad het nie.

Volgens Köster was die oortreding van die aandklokreël in daardie stadium nog glad nie genoem nie. Drie ander motors het ook die Silver Lakes-landgoed na 23:00 binne gegaan nadat Köster-hulle reeds voorgekeer is en die polisiebeamptes het hulle nie daaraan gesteur nie.

Inhegtenisneming, aanhouding

Argieffoto: SAPD

Die polisiebeamptes het uiteindelik aangedui dat die bestuurder beboet moet word, maar dat dit net by die Silverton-polisiestasie gedoen kan word. “Selfs nadat ons aangedring het om die boete op die plek te kry, al het ons steeds nie geweet het waarvoor nie, en omdat ons onveilig en agterdogtig gevoel het oor wat by die polisiekantoor kon gebeur, het hulle gesê hulle sal hulp inroep en ons met geweld in hegtenis neem as ons nie vrywillig saam met hulle polisiestasie toe ry nie.”

Die polisiebeamptes het toe die hulp van ander vrouepolisiebeamptes ingeroep. “Aanvanklik wou hulle slegs die bestuurder op haar eie polisiestasie toe neem om ’n boete uit te reik. Ons was nie hiermee gemaklik nie en het geweier. Toe het hulle gesê hulle gaan ons op die plek in hegtenis neem en met die vangwa polisiestasie toe vat. Ons toe besluit om die bestuurder van die voertuig te ondersteun en saam met haar na die polisiestasie te ry om die boete te kry sodat ons net weer veilig by die huis kon kom.”

Köster, Strydom, die bestuurder van die motor en dié se seun is uiteindelik in die bestuurder se motor na die polisiestasie. By hul aankoms is die bestuurder van die motor en haar seun by die polisiestasie die gebou binne met die veronderstelling dat sy net beboet gaan word.

Intussen het Köster en Strydom in die motor gewag. Hulle het in dié stadium nie gedink dat hulle as passasiers skuldig is aan enige van die klagte wat voorgehou is nie. Verskeie polisiebeamptes het egter toe om die motor kom staan en aangedui dat hulle óók in hegtenis geneem word. Die kwessie van die aandklokreël is toe vir die eerste keer geopper.

Later sou hulle uitvind dat die tyd op die klagstaat as 23:30 aangedui is eerder as die ongeveer 23:05 toe hulle voor die landgoed gestop het. Hulle is in dié stadium aangekla van die oortreding van die aandklokreël en die bied van weerstand teen inhegtenisneming.

“Eersgenoemde is debatteerbaar en sou op die ergste ʼn boete regverdig indien vyf minute laat wel ʼn ernstige probleem is, maar laasgenoemde is ’n blatante leuen,” sê Köster nou.

Hy sê dat daar vroeër in die polisiestasie aan Strydom en die bestuurder gepluk is. Die polisiebeamptes het glo ook probeer om Strydom se ringe van haar vingers te ruk waarna dit gebloei het. Die twee vroue is ook met pepersproei bygedam en die bestuurder is so hard gestamp dat sy op haar rug te lande gekom het.

Die drie is die aand in die aanhoudingselle geplaas. Köster is in ’n ander sel as die vroue geplaas waar vier mans later aangesluit het wat van “soortgelyke misdrywe” beskuldig is. Die sel was klein, baie vuil en het erg na urine geruik.

“Ons moes langs mekaar lê op baie dun matrasse om in te pas en van sosiale afstand was geen sprake nie. Nêrens was daar ook ontsmettingsmiddels sigbaar om ons teen Covid-19 te beskerm nie.”

Die drie is uiteindelik die volgende oggend vrygelaat “danksy ’n polisiekaptein wat bewus geraak het van die onregverdige optrede,” sê Köster.

’n Siviele eis is teen die betrokke polisiebeamptes ingedien.

 Inligting met vergunning van dr. Hinner Köster en AfriForum verskaf – red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Genis ·

Dagvaar die rook uit die KFC bende uit… Rassiste wat onskuldige teiken… Maar misdaat na die aanklokreel floreer….

thejudge ·

Maar hulle het dan ten minste 2 regulasies oortree? As jy skuldig is maak dit nie saak of jy Dr of Sipho is nie.

Phumba ·

Beide oortredings regverdig n boete – nie arrestasie nie en ook nie aanranding nie.

Casper ·

Ons weet seker almal teen hierdie tyd hoekom hulle so opgetreë het.

thejudge ·

Ja. HULLE HET LOCKDOWN REGULASIES OORTREE. Skuldig is skuldig.

MakersMark ·

Oppas dat jy nie judge, jury en laksman probeer speel nie.

AH ·

@thejudge, lyk my jy is net so magsbehep soos seker lede van die polisiediens. Daar is ‘n regte en ‘n verkeerde manier om wetstoepassing te doen. Hierdie geval is verkeerd op soveel maniere en dit lyk my jy praat dit goed??

Marius ·

Dit is wat gebeur as jy behep is oor mag en om n punt te bewys . As ek nou nie van beter geweet het nie dan sou ek gedink het dit het iets met rassisme te doen . Dit is reg meneer dagvaar die rook uit SAPS uit want dit is verby swak .

Kokerboom ·

Identifiseer die polisieboewe en skors hulle. Hul is GLAD nie bevoeg vir hul werk. Ek skaam my vir die gemors wat in die Polisiediens bestaan

MakersMark ·

Tipies van die polisie sal gewone wetsgehoorsame burgers terroriseer maar vra hul om motorkapings in Alex of Mamelodi te bekamp dan bly hulle vêr weg. “Soft targets”.

MakersMark ·

So ook nie die tik dealers in lentegeur nie so wie doen die meeste skade aan die samelewing.?

Jan ·

Dit klink beslis na magsbisbruik. Daarby saam: 1. Hulle was uit na die aandklokreel. 2. Die bestuurder het sonder haar lisensie bestuur. Hulle het die wet oortree, of dit nou 5 minute of 50 ure is, reels is reels. Die verskoning van die GPS is irrellevant, hulle het geweet hoe laat dit is en moes (soos die res van ons) seker gemaak het daar is genoeg tyd om by die huis te kom. Dit is belangrik dat die land se wette gehoorsaam word, anders kan almal mos doen wat hulle wil. Klink nogal na Jacques Pauw se onlangse toe-nou-nie-so-onregmatige arrestasie…

Karlahari ·

Dubbel standaarde is die probleem.
1. Weermag loop saam met president hoed met outomatiese wapens op die strand en verjaag film makers.
2. Pa word gearresteer oor hy dringend baba melk moet koop.
3. Pensioenarisse word met water kanon gespuit waar hulle in rye staan.
4. Die geval hierbo.
5. ACE MAGASHULE. Die man se ondersteuners trek saam in Bloemfontein sonder goedkeuring. Meer as 200. Sonder maskers. Sonder sosiale distansieering. Daag die polisie, weermag en president van die land uit.
Wat gebeur? Net mooi niks. Ons wag nog.
Maar opposisie en koerante hang dit nie aan die groot klok nie…..
I rest my case your honour.

'n Simpelman ·

2 wrongs does not make a right.
Ja stem land maar deurmekaar.
Maar kom ons begin by begin. Moenie ‘n wet oortree..

So my buurman, sy olie in stormwater gegooi en weggekom daarmee, so beteken al sy buurmanne kan dit ook doen en as gevang word sê, hy eerste gedoen en niks aan hom gedoen?????

MakersMark ·

Daar is baie “regte” misdadigers waarmee die polisie hul kan besig hou. Veral in hoë posisies in die regering. Maar soos tipies van terroriste teiken hul sagte teikens.

Sonneblomkind ·

Terrible…laat hul oneervol ontslaan word. Dis blatante Magvertoon

Anoniem ·

Die straat voor my huis is elke liewe aand na 23:00 net so bedrywig soos bedags. Voertuie wat aan sekuriteits maatskappye behoort ry die hele nag op en af in hierdie straat Van die SAPS is geen teken nie.

Stephen ·

Dagvaar die Polisie lede in hul persoonlike hoedanigheid, en eis van die SAPS self ook skade vergoeding.

Ou toppie ·

Vrinne, punt is ‘n wet is oortree. Dan ook, as jy hardegat is met die polisie, dan sal hulle jou hardhandig hanteer. Hierdie ou omie is te lank in die land om hierdie storie net so op te eet. There is more to this than meets the eye.
Ek is geen apologeet vir die Saps nie, nee, ek dink self hulle is maar erg omprofessioneel by tye, maar kry die volle storie, asb. As jy iemand bietjie doodmaak, bly daardie persoon dood. As jy die wet verontagsaam, nie betyds by die huis kom nie, dra self die skuld en vat jou pak.

Elsa ·

Wat ‘n absolute skande vir SAPD. Hulle verdien nie om ‘n werk te hê nie!

AH ·

Ek wens die “duimpies af” wil hul kommentaar met ons deel i.p.v. om net ‘n “duimpie af” te wys…..Dit behoort interessante leesstof te maak…..

Anti-Verkramp ·

Die Dr. moes net gese het hy is Sean Fitzpatrick en kom van NS. Saak moet maar ondersoek word, ons hoor nou net eenkant van die storie.

Johanncb ·

Ons moet net onthou om nie ons posisie in die samelewing voor te hou as magswapen nie.

Karlahari ·

Ek vererg my ook as mense nie logika kan gebruik nie en hulle mag misbruik. In enige situasie.
So is ek ook ” entitled” (korrekte spelling)?

Hendrik Marthinus ·

Mense hoe praat 90% van julle iets wat verkeerd is goed
Die mense het n wet oor tree, die vrou ry sonder n bestuurders lisensie
Nou is Saps verkeerd, hoe Kom julle by dit uit
Lyk my julle keer net goed wat Saps doen as dit julle pas
Jy Kan die beste prokureur in die wereld kry, die saak gaan jy verloor
Die Saps lede het binne die raamwerk opgetree
Dai mense is gelukkig dat die lede nie geskiet het op Hulle toe Hulle nie wou stop nie
Ja ek verstaan daar is kriminele wat die blou lig bende gedoop is

Pandora ·

Ek sou ook nie gestop het nie. Ons is enkele dae gelede gewaarsku teen kapingseenhede op snelwee.
Ja, hulle het ‘n wet oortree – die dame het nie haar bestuurderslisensie by haar gehad nie. Maar volgens dit wat in die artikel hierbo vertel is, moet die aanname gemaak word dat hulle wel stadiger gery het, wat dan ook sou kon bydra dat hulle die aandklokreel gemis het met 5 minute. Ons gaan maar geduldig moet wag om al die feite op die tafel te kry. Kring televisie by die sekuriteitshek ens. Maar na aanleiding van die artikel sou die persone net geregtig wees op ‘n boete, nie arrestasie, of enigsins vernedering van die aard nie.
Ook kan die SAPD dan ‘n ondersoek instel na die selle en dit dan opknap as dit hoegenaamd in die situasie is wat hierdie persone noem, want volgens wet, het kriminele ook regte en mag hulle nie so mishandel word net omdat een of twee polisiemanne magsbehep is nie.

Retha ·

Wat van die ander wat na daardie mense by die hek ingery het. Wat wou hul met die vrou se ringe doen, hoekom dit probeer van haar vinger aftrek? Is dit nou reg en toelaatbaar?

Jacques ·

Ek hoop die polisie lede word in hul privaat kapasiteit aangevat en dat hulle die kostes vir hofsake ensovoorts self moet betaal. Dit sal die gouste wees dat sulke gedrag stop gesit word. Ek veralgemeen deur te sê dat die polisie bo die gereg is en dat enige wette nie van toepassing op hulle is nie maar dit is hoe dit deesdae wil voorkom.

Yvonne ·

Wat n skande het die mense nie geword nie…..hoe kry hulle ooit keuring

Suzette ·

Ek stem saam dagvaar die polisie en ook die beamptes in hulle persoonlike hoedanigheid.

Francois ·

Ag asb daar gaan weereens niks kom van die saak nie. Korupte polisie is onaantasbaar

Ria ·

As iemand wat blankes haat in die polisie aangestel word, dan is die kriteria vir aanstelling verkeerd. Mense in sodanige posisie moet neutraal tov ras wees en net die wet toepas, met begrip vir situasies soos hierdie.

Ansie ·

Wanneer niets iets word … Wens hulle was so oorywerig om regte kriminele te vang. Maklike teikens is egter minder werk. En dan sê Coke waaragtig dat witmense arrogant is. Arrogansie en ‘n totale gebrek aan opvoediging en goeie maniere is ‘n plaag onder sommige SAPD-beamptes wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Hoop dr Köster ry hulle tot by oom Daantjie in die kalwerhok.

Charl ·

Wátse opleiding, wátse wetgewing ?? Hierdie is nou al die hóeveelste geval van polisie brutaliteit teenoor ons onskuldige landsburgers ! Die polisiediens sit net ‘n klomp onbevoegde boewe en boelies in uniform en daarsy, “we have the power”. Dr. ry hierdie klomp so hárd jy kan en vir al wat dit werd is, tyd dat daadwerklik teen sulke elemente opgetree word mét positiewe resultate en nie net “we are investigating the matter” nie want dan word dit gerieflikheidshalwe onder die mat ingevee.

Nie Verbaas ·

Dit is sekerlik nie omdat hulle nie opgelei is nie. Dit is hulle arrogansie teenoor wittes wat die probleem is asook die tekort aan logiese denke. Maar net nog n geval van mislukte ANC ideologie. Rook hulle.

Gogga ·

Ek glo nogal die storie. Gelukkig vir hulle het hulle gery tot by hulle ingang waar sekuriteit en kameras is, sekerlik sal die klagte teen die polisiebeamptes goeie water dra indien die footage beskikbaar is?

Regverdigheid ·

Hoekom moet hul als met geweld doen …. dink gaan oor rassisme.

Dries ·

Nie net die geweld nie, maar ook die beledigings wat toegesnou word.

LANA is ELANè ·

Ry hulle!!
Elke persoon wat ‘n uniform vd SAPD dra voel bemagtig en dan word hulle bo als met ‘n vuurwapen toegerus.
Al wat hierdie is, is ‘n rassistiese aanslag op mense net om mag te vertoon en ons wat aan die ontvangkant staan, te wys wie beheer die situasie. Die meeste polisie lede in SA is uiters gevaarlik, en ek sal als doen om eerder uit hul pad te bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.