Sakeredders: Net twee opsies vir SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakeredders het gesê die enigste uitweg is om die lugdiens te sluit óf dit te likwideer.

Die sakereddingspraktisyns het gesê nadat die regering hulle op 10 April in kennis gestel het dat hy nie meer geld vir die beleërde lugdiens sal gee nie, is een van dié opsies “die mees verantwoordelike manier vir ʼn gekontroleerde beëindiging van die lugdiens se bedrywighede en om die risiko’s van alle betrokke partye te bestuur”.

Die lugdiens sal ná 30 April nie meer sy werknemers kan betaal nie. “Gegewe die feit dat daar nie meer finansiering is nie, het die praktisyns dit oorweeg of hulle ʼn sakereddingsplan kan opstel wat ʼn beter opbrengs vir die krediteure van die SAL sal verseker as wat die geval met onmiddellike likwidasie sou wees.”

Die proses wat die sakeredders voorstel vir die sluit van die lugdiens behels skeidingspakkette vir werknemers, die verkoop van sekere bates en die verspreiding van die opbrengs aan die betrokke partye.

“Indien ʼn ooreenkoms met die werknemers bereik kan word, kan ʼn sakereddingsplan saamgestel en uitgereik word.”

Volgens die sakeredders sal die lugdiens onmiddellik in likwidasie geplaas moet word indien daar nie ʼn ooreenkoms met werknemers en vakbonde bereik kan word nie.

ʼn Kollektiewe ooreenkoms is op 17 April aan alle vakbonde en nievakbondverteenwoordigers voorgelê en die sakeredders het tot 24 April tyd om ʼn ooreenkoms te bereik.

Die sakeredders het gesê die lugdiens is al vyf maande in sakeredding en dat die R5,5 miljard finansiering wat in dié tydperk ontvang is, reeds teen Maart opgebruik is.

Daar is op 9 Maart ʼn artikel 189-kennisgewing uitgereik waarin alle vakbonde en werknemers in kennis gestel is van die lugdiens se voorneme om met afleggings te begin.

“Hierdie kennisgewing is aangevul met ʼn verdere kennisgewing op 19 Maart ná die president se toespraak op 15 Maart en die instelling van ʼn reisverbod wat op 18 Maart 2020 begin het.”

Sedert die begin van die reisverbod weens die Covid-19-pandemie kon die SAL nie sy normale bedrywighede uitvoer nie. Die lugdiens het slegs gevlieg op versoek van buitelandse regerings wat via hul ambassades vlugte gehuur het om met die terugkeer van hul burgers te help, asook om Suid-Afrikaners in die buiteland terug te bring. Volgens die sakeredders sal die vlugte in April tot ʼn einde kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Die Wolf ·

Nee! dagvaar die betrokke Unies om die ledegeld terug te betaal. Kan baie help met skeidingspakette.

Eerlik ·

Baie gemaklik om die Covid-19 te blameer vir wanbestuur van al daai adisionele fondse. SAL was eens SA se trots, ek onthou steeds die ou logos op die vliegtuie en die hoë standaarde wat gestel was vir aanstelling van “cabin crew” personeel (gewig, lengte en voorkoms het n groot rol gespeel in die keurings proses). Daai standaarde en trots het by die deur uitgewaai toe die logo op die vliegtuie verander het.

Stefan ·

Vergeet nie van die staking wat eintlik die finale strooi was vir die einde, daarna durf niemand meer SAA vlieg oor die onsekerhede nie.
Absoluut eie vernietiging.

Kobus ·

Die sakeredders het gefaal.Politiek het ‘n groot rol gespeel.Politici en vakbonde het ingemeng en die sakeredders het almal probeer gelukkig hou.JZ en sy Dudu het hierdie trotse organisasie tot in die grond geplunder.Jammer vir die werknemers,maar julle moes lankal begin staak het toe julle die rooi ligte sien flikker het.As daar nie geld is nie,is daar nie geld nie.Punt.Likwideer en kry klaar.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hartseer verby. Ek onthou nog so goed die springbok logo wat my hart oorsee warm laat klop het. Dankie ANC vir jul bestuur by uitnemendheid. Dankie ANC alliansie vakbonde vir jul insette.

Ons is eenvoudig maar net ‘n 3de wêreldland, of ons dit wil erken of te nie.

Coolbanana ·

Die politieke wil om n eens trotse staatsinstelling ordentlik te bestuur het nog nooit bestaan nie, dit gaan net oor mag en kader ontplooing en korrupsie… So sad!

koos10 ·

Die sake redding het nie gefaal nie, hulle moes ‘n dooie perd opsaal en ry en daar is verwag dat hy die July moet wen!
Die werknemers sien hierdie ding al aankom vir ‘n lang tyd.
Alls bates moet verkoop word en geen send daarvan moet aan die bestuur gaan nie. Gee sommige geld vir die werkers en die res terug aan die staat.
Begrawe die perd en gaan aan met die lewe, daar is hordes besighede wat nou toemaak en hulle werkers kry niks.

Tino ·

Komaan SAFAIR, Airlink, Cemair en COMAIR. Gebruik die leemte wat SAL los om te groei! Julle kan die vaardighede uitsoek en benut!

SomeOne ·

5,5 miljard rand is al in maart opgebruik, ons is nou ‘n maand verder, in wie se sakke het die geld verdwyn ?

Niklaas ·

Die sinking van die skip, SAL, bly steeds vir my ‘n hartseer ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.