Sakeredding vir SA Express, gelas hof

Argieffoto. (Foto: Facebook)

SA Express het gesê hy gaan appelleer teen die hofbeslissing dat die lugredery in sakeredding geplaas moet word.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdag beveel dat SA Express in sakeredding geplaas word na ʼn hofaansoek van Ziegler SA, ʼn internasionale logistiekmaatskappy.

Ziegler SA is ʼn voormalige diensverskaffer aan SA Express en het die aansoek gebring aangesien die lugredery hom meer as R11 miljoen skuld.

SA Express, die staat se streekslugdiens, het intussen in ʼn verklaring in reaksie op die hofuitspraak gesê dit is duidelik dat die hof verder gegaan het as wat verwag word en bevele toegestaan het wat nie deur die aansoeker gevra is nie.

Volgens SA Express het die hof ook nie enige bevel gemaak in terme van dringendheid nie, al is die spesifieke punt teengestaan.

“Die maatskappy het sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om aansoek te doen om verlof tot appèl.”

SA Express het ʼn verlies van R590 miljoen in die 2018-’19-boekjaar gely en die lugredery se vlerke is al by meer as een geleentheid geknip weens nie-betaling.

SA Express is nou die tweede lugdiens om in sakeredding geplaas te word nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in Desember in sakeredding geplaas is.

Daar is vroeër berig dat die SAL ook miljoene rande aan SA Express skuld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

En so vou die een na die ander. Nou is dit die staat se streekslugdiens . Eintlik tragies , maar ek glo dit sou anders verloop het as SAL hul miljoene rand skulde aan Express vereffen het .

Nie Verbaas ·

Kan SA se staats instansies gered word? Dit is te laat mense. Ons word nou net nog n gebroke Afrika land. Mooi so vir die 30%ers!!!

Johanncb ·

Nóg ‘n bodemlose put wat die belastingpligtige moet vul!

Leon ·

As SAL sy skuld betaal het, sou SA Express nie in die moeilikheid gewees het nie. Die ANC se domino effek bring Suid Afrika in sy graf in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.