SAL: Regering stel sakereddingsplan in werking

(Foto: Maroela Media)

Daar is nou aan al die voorwaardes vir die inwerkingstelling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingsplan voldoen en die departement van openbare onderneming het reeds weggespring om die SAL uit die as te laat herrys.

Dít nadat die sukkelende lugdiens in Desember in sakeredding geplaas is en sy krediteure verlede maand eindelik ʼn sakereddingsplan goedgekeur het.

Die departement van openbare ondernemings het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy hou toesig oor die inwerkingstelling van die vrywillige skeidingspakkette vir werknemers, asook die aanstelling van nie-uitvoerende direkteure en ʼn nuwe bestuurspan vir die SAL.

Ingevolge die sakereddingsplan gaan 1 000 werkers uit die huidige personeelkorps van nagenoeg 5 000 werkers behoue bly om ʼn nuwe lewensvatbare, volhoubare en mededingende lugredery op die been te bring wat plaaslike, streeks- en internasionale vlugte kan bedryf.

R2,2 miljard is begroot vir afleggingspakkette.

“Die departement sal as aandeelhouer binnekort namens die regering ʼn kleiner, doeltreffende, versterkte en bemagtigde raad van direkteure aanstel, wat om die beurt die nuwe uitvoerende bestuur van die lugdiens sal aanstel. Dit sluit in ʼn hoofrisikobeampte, ʼn hoofinligtingsbeampte en ʼn bedryfshoof,” lui die departement se verklaring.

Luidens die verklaring het die departement ook reeds die nodige raadgewers geïdentifiseer wat sal help met die beplanning van onderhandelinge, die verkryging en toepassing van onderhandelinge, asook die insameling van geld en beleggings vir die nuwe SAL.

“Die departement meen dat die herstrukturering, soos vervat in die sakereddingsplan, noodsaaklik is en ʼn stewige grondslag sal vorm vir die ontstaan van ʼn mededingende, lewensvatbare en volhoubare nasionale lugdiens,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die regering het oproepe om die SAL te laat likwideer, teengestaan ondanks die chaos in die wêreldwye lugvaartbedryf. Die regering moes oor die afgelope dekade miljarde rande aan belastinggeld in die onderneming stort om dit aan die gang te hou. Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, was tot dusver ʼn groot voorstander daarvan om strategiese vennote te vind om die SAL as ʼn opgeknapte lugdiens te bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

daniel ·

Die nuwe poging gaan sekerlik ook faal . Die ANC dink die belastingbetalers het on beperkte fondse om te mors.

Niklaas ·

Ek sal altyd aan SAL dink as die bodemlose put. Dit sal net interessant wees om te weet wat geword het met die vorige fortuine wat aan SAL bestee is. Waar is dit nou en waarom is niemand ooit gearresteer nie ?

koos10 ·

Maar my, waar het die R10 miljard vandaan gekom, soos ‘n wyle terug gesê is?
Was die woorde nie dat die geld nodig is om die plan te laat werk nie? Nou word die plan in werking gestel, m.a.w. die geld moes iewers vandaan gekom het.
OF my kop is te plat om al hierdie dinge te verstaan, maar ek kan goed lees en lees nie veel in die berig oor geld nie.

Grassie ·

Die staat het nie geld om in die SAL te stort nie. Hulle het dan onlangs geld by die IMF geleen om die virus-krisis te bestuur, om die peoples kos te gee. Ek het ‘n spesmaas dat die arme, geteisterde pensioenfonds daarvoor geplunder gaan word. Die ANC-kaders is mos spesialiste om te vat wat hulle nie voor gewerk het nie, wat nie aan hulle behoort nie.

Kerneels ·

My somme moet verkeerd wees.

R2.2miljard begroot vir afleggingspakette vir 4000 werknemers lewer R5.5 miljoen per werknemer. Ek dog die afleggingspakkete bestaan uit ‘n week se salaris vir elke jaar gewerk, 3 maande se salaris, en uitbetaalde verlof ….

koos10 ·

Kerneels, ek reken en en jy was voor 1994 op skool, toe wiskunde slaagpunt 50% was? Na 30 jaar se werk by een werk on ononderbroke en sonder enige ontrekking, is my pensioen nog nie eers by die bedrag nie.

Karel Kobus Kruger ·

2.2 miljard = 2.2 duisend miljoen = 2,200,000,000
Gedeel deur 4000 is R550,000.
Ai tog. Ja né?

Andrew ·

Ons almal het geweet dit kom. As SAL en die soort nie meer daar is nie hoe gaan die klom hul sakke vol maak. Redelik eenvoudig,

J ·

Nuwe SAL … ?

Met dieselfde patete (ANC kaders) in beheer?

DOOD GEBORE!!!

Ek gaan nie my lewe waag op vliegtuie van hierdie VROT SPUL nie!

Gaan jy?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.