Salba-lede begin uitgestelde aksynsbelasting betaal

Salba verteenwoordig verskeie groot vervaardigers, waaronder Distell, Heineken, Diageo, Pernod Ricard en DGB, wat die afgelope maand met die ooreengekome betalings begin. (Foto ter illustrasie: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaamvereniging (Salba) het Woensdag aangekondig dat sy lede met die betaling van uitgestelde aksynsbelasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) begin het.

Die SAID het 90 dae uitstel vir die betaling van R2,5 miljard aan aksynsbelasting – wat in Junie betaalbaar was – op versoek van Salba toegestaan nadat die regering ʼn vierde drankverbod te midde van die Covid-19-pandemie ingestel het.

Salba verteenwoordig verskeie groot vervaardigers, waaronder Distell, Heineken, Diageo, Pernod Ricard en DGB. Hulle het die afgelope maand met die ooreengekome betalings begin.

“Die alkoholbedryf is aanspreeklik vir die betaling van aksynsbelasting op eindprodukte in pakhuise wat weens die verbod op alkoholverkope nie verkoop kon word nie.

“Die terughou van betalings, wat die maandelikse aksynsbelasting aan die SAID insluit, was een van die min opsies wat ons oorgehad het om die korttermyn-likiditeitsuitdaging weens die verbod te bowe te kom,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba.

Volgens Mngadi is Salba dankbaar vir die vergunning wat die inkomstediens gemaak het en sy lede sal die betalings eerbiedig.

“Die drankbedryf het nou ʼn mate van stabiliteit op kort tot middellang termyn nodig sodat die sektor sy bydrae tot die ekonomiese herstel van die land kan lewer.

“Net so het die regering ook ʼn mate van bestendigheid in belastinginkomste nodig, waarvan belasting op alkoholiese drankies ʼn belangrike deel vorm.”

Mngadi benadruk dat die alkoholbedryf ʼn waardevolle rol in Suid-Afrika speel en “ongeveer ʼn miljoen werksgeleenthede in die waardeketting ondersteun”.

Hy sê die bedryf speel ook ʼn kernrol in uitvoerverkope en die land se bruto binnelandse produk (BBP).

“Die alkoholbedryf betaal gemiddeld R2,5 miljard per maand aan aksynsbelasting. In die geheel dra die bedryf sowat R72 miljard deur middel van belasting, BTW en aksyns tot die fiskus by. In 2019 het die sektor R173 miljard (3,4%) tot die land se nominale BBP bygedra.”

Kurt Moore, Salba se uitvoerende hoof, sê voorts dat die vereniging hom daartoe verbind om die inkomstediens en ander wetstoepassingsowerhede te help om onwettige drankverkope, wat weens die verbodsbepalings skerp toegeneem het, te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Malan ·

En wanneer gaan SARS die ANC’s, die Zumas, die Mazotti’s, die Lifman’s, die Moedack’s, ens. aanskryf vir agterstallige belasting?

Hardekwas ·

Hulle moes eerste betaal het, want hulle skuld die meeste.

Lourens CFG ·

Ek hoop hulle betaal die belasting minus hul verliese tydens inperking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.