Samesprekings begin oor onrus in Middelburg

Die Steve Tshwete -plaaslike munisipaliteit se kantoor in Middelburg. (Foto: CoGTA/Facebook)

Samesprekings tussen werknemers van die Steve Tshwete- plaaslike munisipaliteit op Middelburg en die munisipaliteit se bestuur het Maandag begin nadat verwoestende stakings al maande lank in die gebied woed.

Hennie Niemann, plaaslike DA-raadslid, sê die burgemeester en speaker voer tans onderhandelinge met die betrokke werknemers se vakbonde.

Die hoop is om eindelik die voortslepende stakings tot ʼn einde te bring sodat dienslewering normaalweg kan voortgaan.

“Hopelik gaan daar nou ʼn oplossing vir hierdie situasie gevind kan word,” het Niemann gesê sonder om verder uit te brei oor die samesprekings.

Die gesprekke volg enkele dae nadat vier betogers, van wie sommige munisipale werkers is, deur private veiligheidsmagte geskiet is nadat hulle onregmatig toegang tot die munisipale kantoor probeer verkry het.

Een van hierdie betogers is in die proses dood, terwyl die res in die hospitaal is.

Sommige werknemers van die munisipaliteit staak al sedert September verlede jaar oor allerlei arbeidsgeskille. Dit het tot geweldige vertragings in dienslewering gelei.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het verlede week ʼn span na die munisipaliteit gestuur om saam met die betrokke partye te werk om die situasie te beoordeel en oplossings vir die krisis te vind.

Sy het ook die betrokkenes aangeraai om die arbeidsgeskille “dringend deur onderhandelinge op te los”.

Daar word verneem dat ʼn nasionale afvaardiging van die departement ook by die samesprekings betrokke is.

Die situasie in Middelburg was Maandagoggend kalm, terwyl stakende werkers en vuisvoos inwoners wag op ʼn uitkoms van die samesprekings.

Volgens Niemann was daar die afgelope naweek geen stakings nie, hoewel daar Sondag ʼn klein groep mense naby die munisipaliteit se kantoor vergader het.

“Maar selfs al is daar nie stakings nie, word dienste ook nie gelewer nie,” sê hy.

“Dit is duidelik dat hierdie situasie nou tot ʼn einde moet kom – ons kan nie langer so aangaan nie.”

Dit is nog nie duidelik hoe lank die samesprekings tussen die betrokke partye sal voortgaan nie, maar inwoners in die gebied hoop dat dit so spoedig moontlik – en eens en vir altyd – opgeklaar sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Die skrif is aan die muur . Al vir dertig jaar . Vergader maar tot die hoenders opstaan . Dit sal geen verskil maak nie .

domheks ·

Nou sal daar weer aan die stakers se eise voldoen word! Seker nog ‘backpay’ ook kry vir die tyd wat hulle nie gewerk het nie!

Frank ·

Kry die wat al EEN JAAR lank staak salaris? Dalk kan iemand ons bietjie inlig

Nettie ·

Welkom ANC, tot julle 1979. Geniet dit!!! Ek gaan terug sit en die popcorn kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.