Sanef loof SAUK-hoof na bedanking

Jimi Matthews. Foto: SABC.co.za

Jimi Matthews. Foto: SABC.co.za

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Jimi Matthews, die SAUK se waarnemende uitvoerende hoof, Maandag geloof omdat hy uit beginsel by die SAUK bedank het en gesê dit is ʼn teken van hoe baie die uitsaaier ʼn spreekbuis vir die regerende party geword het.

Mpumelelo Mkhabela, woordvoerder van SANEF, het gesê Matthews was “op papier” die mees senior persoon by die SAUK. “Vir hom om te voel daar is ʼn bytende atmosfeer by die maatskappy, waaraan hy as uitvoerende hoof niks kan doen nie, sê baie van die korporatiewe bestuur binne die SAUK,” het Mkhabela gesê. “Die SAUK is ʼn bate van die Suid-Afrikaanse publiek as ʼn geheel en die feit dat dit omskep word in ʼn staatsuitsaaier wat slegs die belange van die regerende party bevorder, is verkeerd en moet veroordeel word.”

Hy het die SAUK se nuwe beleid om nie gewelddadige betogings uit te saai nie, met die sensuur van die uitsaaier in die apartheidsera vergelyk. “Die apartheid regime het, deur weglating en spesifieke opdragte, die SAUK as ʼn instrument vir propaganda gebruik, maar kon nie daarin slaag om die Suid-Afrikaanse publiek om die bos te lei nie. Dit is die publiek wat deur hierdie misbruik van staatshulpbronne benadeel word en op die ou end moet die publiek verseker die SAUK vervul sy grondwetlike rol as openbare uitsaaier.”

Mkhabela het ʼn beroep op die SAUK gedoen om dringend sy besluit om die nuus te sensor te herroep en joernaliste toe te laat om vrylik hul werk te doen.

Maroela Media het vroeër berig Matthews het skielik Maandagoggend bedank omdat hy gesê het hy kan nie langer aandadig wees aan die manier waarop die maatskappy bestuur word nie. Hy het gesê sy posisie by die SAUK het in die afgelope paar maande daartoe gelei dat hy besluite geneem het waarop hy nie trots is nie. “In die proses het die volgehoue negatiewe atmosfeer my morele oordeel aangetas en my aandadig gemaak aan besluite waarop ek nie trots is nie.”

Matthews het sy bedankingsbrief afgesluit met die volgende woorde: “Wat besig is om by die SAUK te gebeur, is verkeerd en ek wil nie meer ʼn aandeel daarin hê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Edward ·

Ek het my DSTV subskripsie gekanselleer. My gesin het op die oomblik netflix wat oorgenoeg is. Dus betaal ek ook nie die SAUK se lisensie nie. Na verskeie pogings om die lisensie wat op my vrou se naam was te stop, het ek moed opgegee. Dieselfde moet met die SAUK gebeur as met sanral. Boikot betaling. As hulle krimineel optree moet ons net ons geld weerhou.

KarooKlong ·

Ek dink as Jimi se redes waarlik en eg is dan verdien die man alle eer en ook voorspoed wat hom toekom.

GES ·

Dit is merkwaardig dat mense in hierdie tye nog ‘n funksionele gewete het. Jimi ek wens jou voorspoed toe en hoop jy kry iets anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.