SA’ner se heldedaad in Taiwan

Die Koekemoer-gesin (Foto verskaf)

Johan Koekemoer, oorspronklik van Port Nolloth in die Noord-Kaap en wat tans in Taiwan woon, het ʼn man se lewe in dié land gered.

Jani Koekemoer, Johan se vrou, het aan Maroela Media gesê hulle het Donderdag verby ʼn vissersdam gery toe hulle gesien het ʼn man het met sy luukse Bentley-motor in die dam beland.

“Ons was van die eerste mense op die toneel. Die man was nog in sy motor toe ons verby ry en hom in die dam opmerk,” het Jani verduidelik. “Hy het sy arms gewaai na verbygangers, in die hoop dat iemand hom sou raaksien. Sy motor het gelukkig ʼn sondak en hy kon daar uitklim.”

Jani sê terwyl die man besig was om uit te klim, het sy na hom geroep en in Chinees gevra of hy kan swem. “Hy het sy kop geskud en sy hande heen en weer geswaai om te wys dat hy nie kan swem nie.”

Toe sy weer sien, het Johan in die water gespring om die man te red. “ʼn Visserman het intussen ook stilgehou en iewers langs die dam ʼn reddingsboei gevind en na Johan gegooi. Johan het dit gebruik om die man bo die water te hou terwyl hy met hom na die vlak kant van die dam geswem het. Die visserman het gehelp om die man uit die water te help.”

Volgens haar is die man nie ernstig beseer nie. “Ná hulle hom uit die water gehelp het, het ek weer in Chinees vir hom gevra of hy ‘oukei’ is en of hy hulp nodig het. Hy het baie dankie gesê en bevestig is ‘oukei’. Ons het hom ook gehelp om ʼn telefoonoproep te maak.”

Plaaslike media het ook oor Johan se reddingsdaad berig en met hom ʼn onderhoud gevoer. Volgens plaaslike nuus het die man in sy motor gerook en wou die sigaretstompie dooddruk. Toe hy wegkyk, het hy skielik beheer verloor oor die motor en binne-in die dam ingery. “Die man woon nie in die area nie, so die pad en al sy draaie was vir hom onbekend,” het Jani bygevoeg.

Jani en Johan gee albei skool by ʼn privaat skool in Taipei. Hulle het mekaar in 2005 deur ʼn gemeenskaplike vriendin in Taiwan ontmoet en is ongeveer ʼn jaar later getroud. Hulle het ongeveer drie en ʼn half jaar lank teruggekeer na Suid-Afrika toe Jani by die Universiteit Stellenbosch studeer het. “Ons het weer na Taiwan teruggekeer net ná my studies.”

Hulle twee kinders is die vierjarige Kaleb en sy sussie Mikayla, wat nou een jaar en vyf maande oud is.

Earlier this morning a man drove into a dam near our house.We immediately stopped and soon realized that he couldn’t…

Posted by Jani Koekemoer on Wednesday, February 12, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

madels ·

Ek is so bly om hierdie goeie storie vandag te lees. Dis so in ons bloed om altyd uit te reik en te help. Ek loof die Here dat jullejuis op daai oomblik daar verby gery het en die man in nood gewaar het. Dankie Johan vir jou omgee hart. Dis baie spesiaal dat jy nie gehuiwer het eers om die man se lewe te red nie. Baie dankbaar..

Amatambo ·

Wys die wêreld dat ons mense nie sosleg is soos wat deur sekere elemente voorgehou word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.