SA’ner vertel vanuit Turkye: ‘Ons was angsbevange’

Michéllé Cillié Arslan en haar gesin. (Foto: Verskaf)

“Baie van ons vriende is dood. Die meeste van die mense wat ons ken, is vermoedelik dood.”

So vertel ’n Suid-Afrikaner vanuit Kahramanmaras in Turkye waar twee aardbewings Maandag grootskaalse verwoesting gesaai het.

Die dodetal staan nou op al meer as 5 000 terwyl reddingswerkers in die puin na oorlewendes soek.

Michéllé Cillié Arslan (45) is oorspronklik van Worcester in die Wes-Kaap, maar het 20 jaar lank in Suid-Korea gewoon voordat sy, haar Turkse man, İrfan, en hul negejarige seun, Craig, hul drie jaar gelede in Kahramanmaras in Turkye gevestig het.

Dit is hiér waar Cillié Arslan en haar gesin Maandag vroegoggend nog gelê en slaap het toe die eerste aardbewing om 04:17 getref het. “Ons kat het daardie oggend soos gewoonlik by my kom inkruip, maar ek was heel deurmekaar want ek kon die bed voel beweeg.

“Dit is toe dat dit my tref dat dit ’n aardbewing is,” vertel sy Dinsdagoggend in ’n stemboodskap aan Maroela Media. Sy word in ’n stadium deur ’n naskok onderbreek.

“Ek het opgespring, my man wakker gemaak en na my seun se kamer gehardloop. Ons was angsbevange. Ek het gang af gehardloop en was van balans af. Stukke van die plafon het op ons begin val en die muur het begin kraak soos ek gehardloop het.

Michéllé Cillié Arslan en haar gesin. (Foto: Verskaf)

“Dit was soos om op ’n hangbrug te hardloop,” verduidelik Cillié Arslan.

Sy onthou dat hulle al drie in ’n deurkosyn gaan staan en wag het vir die aarde om op te hou skud.

“Ek het nog nooit so iets beleef nie. Dit was die langste aardbewing wat ek in my lewe beleef het en ek het al ’n hele paar gedurende ons tyd in Korea beleef.”

Nadat die gesin se woonstel ophou skud het, het hulle warm aangetrek en na hul kat gesoek wat gedurende die aardbewing weggekruip het. Die gesin en hul troeteldier is toe saam met die res van die woonstelgebou se inwoners na buite. Dit was snerpend koud en het gereën.

Die gesin het in hul motor geklim en na vriende se restaurant gery waar hulle kon warm word en tot verhaal kom.

Inwoners van Kahramanmaras in Turkye maak vuur om warm te bly. (Foto: OZAN KOSE / AFP)

Sy vertel dat hulle in ’n stadium na vriende en familie gaan soek het voordat hulle eindelik na vriende se huis in die berge sowat 30 km van Kahramanmaras is. “Ons is veilig en warm. Maar niemand het kos nie. Ons het geld, maar daar is geen winkel oop nie.

“Ons weet darem ons woonstelblok in Kahramanmaras staan, maar ons weet nie of ons sal kan teruggaan nie. Ons is wel dankbaar dat ons veilig en bymekaar is.

“Daar is baie gesinne wat nie voertuie het nie en in die reën met hul kinders gevlug het. Dit voel soos ’n fliek oor die eindtye in Kahramanmaras. Baie mense staan onder ’n handdoek of kombers by vure wat hulle in die straat maak. Daar staan ma’s met kinders nog in hul pajamas en kaalvoet.”

Nóg SA’ners geraak

Só lyk Kahramanmaras in Turkye ná die aardbewings. (Foto: Verskaf)

EWN berig ’n Turkse tronk waar sewe Suid-Afrikaners aangehou word, het Maandag tydens die aardbewings ineengestort. Suid-Afrika se ambassadeur in Turkye, Dipuo Letsatsi-Duba, kon egter nie bevestig of die Suid-Afrikaners beserings opgedoen het of selfs oorleef het nie.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, het op sy beurt vanoggend aan Maroela Media gesê hy weet nie van enige Suid-Afrikaners in Sirië of Turkye wat tans hulp benodig nie.

Hy het egter sy versekering gegee dat die departement die situasie monitor.

Reddingspanne en medici van die humanitêre noodlenigingsgroep Gift of the Givers is intussen onderweg na Turkye om hulp te verleen ná die verwoestende aardbewings in dié land en Sirië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

Baie sterkte vir julle en aan almal in Turkye. Julle is in ons gedagtes en gebede.

Nettie ·

Sjoe. Baie baie sterkte. Ons is dankbaar julle al 3 het oorleef. En innige simpatie met die verlies van jul vriende, familie en kennisse. Ek hoop julle kry gou die ondersteuning wat julle en almal om julle nodig het. Ons bid vir julle almal.

Patch ·

Ek ken daardie gevoel. Het in Chile gewoon tydens die 8.8 aardbewing in die vroee oggendure op 27 Februarie 2010. Sterkte vir julle.

Kobus ·

Sewe Suid-Afrikaanse tronkvoëls in ‘n Turkse tronk?
Wat nóg?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.