SA’ners hou vir oulaas asem op vir rentekoers-tyding

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Die monetêre beleidskomitee van die Reserwebank vergader Donderdag vir die laaste keer vanjaar en daar word verwag (gehoop) dat die komitee die gewraakte rentekoers vir ʼn derde agtereenvolgende keer onveranderd sal laat.

Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, sê daar is egter sprake van ʼn moontlike verhoging van 25 basispunte nadat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, al herhaaldelik gewaarsku het dat die rentekoers moontlik ʼn laaste keer verhoog sal moet word.

Die private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy meen egter ʼn rentekoersverlaging sal in dié stadium van die geveg meer voordelig vir die ekonomie wees aangesien dit verbruikersbesteding en huishoudings se vermoë sal aanhelp om hul skuld voor die komende feestyd te diens.

“ʼn Verlaging in die rentekoers sal ver kan gaan om kleinhandelverkope ʼn broodnodige hupstoot te gee. Die rentekoers is sedert November 2021 al tien keer met altesame 4,75 persentasiepunte verhoog, en om dit met ʼn verdere 25 basispunte te verhoog sal verbruikersbesteding net verder inperk en sleg wees vir die ekonomie aangesien dit die bruto binnelandse produk (BBP) ʼn verdere hupstoot in die laaste kwartaal kan gee.”

Van Zyl sê die regering hou hom intussen met ander goed besig, waaronder die voortslepende konflik tussen Israel en die Palestynse militante groep Hamas.

Hy waarsku dat die konflik die rand onder druk kan plaas aangesien die ANC-regering pro-Palestina is. “Suid-Afrika skaar hom dus wéér nie by sy grootste handelsvennote nie en dit kan Suid-Afrikaners duur te staan kom,” meen Van Zyl.

“Die swakheid van die rand is te wyte aan slegte besluite deur die regering en moet dus juis aan hom oorgelaat word om dit reg te stel. Enige verdere rentekoersverhogings sal bloot wees om die rand se waarde te probeer beskerm – dit is nié die oplossing nie aangesien politieke en ekonomiese onstabiliteit die skuld dra en vuisvoos verbruikers eindelik daarvoor boet.”

Van Zyl gee toe dat inflasie reeds begin terugsak het, “maar volgens die jongste syfers het dit in Oktober 5,9% gehaal”.

Maroela Media het vandag berig inflasie het in Oktober vir die derde agtereenvolgende maand gestyg en dreig nou om die Reserwebank se teikenband te oorskry.

Van Zyl sê die hoë rentekoerse om inflasie in toom te hou het beleggingsonsekerheid tot gevolg en laat buitelandse beleggers landuit vlug.

“Verbruikers het die afgelope anderhalf jaar swaar getrek en sukkel om kop bo water te hou. ʼn Verlaging in die rentekoers kan hulle help om ʼn sug van verligting te slaak en om uit die skuldspiraal waarin miljoene Suid-Afrikaners hulle bevind, te ontsnap.

“Enige verdere rentekoersverhogings sal egter katastrofies vir verbruikers wees. Verbruikers is vuisvoos weens die afgelope ruk se skerp stygings in die rentekoers, asook skerp stygings in kospryse, die petrolprys, kragpryse en ander lewenskoste. Dit is tyd om verbruikers te beskerm voor die laaste strooi die kameel se rug breek.”

Van Zyl sê verbruikers wat skuld aangegaan het toe die rentekoers heelwat laer was, swoeg deesdae behoorlik om hul skuld te diens of kan dit bloot net nie meer bekostig nie. Die gemiddelde salaris in die land verhoog ook nie teen dieselfde koers nie en Suid-Afrikaners raak al hoe armer.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê die vakbond doen ʼn beroep op die regering, ondernemings en bedryfsvennote om die behoeftes van sukkelende werkers in ag te neem en die pryse van basiese dienste, kos en noodsaaklikhede te ondersoek.

“Basiese behoeftes is noodsaaklik vir almal, en ons kan nie toelaat dat verbruikers al hoe verder in finansiële moeilikheid beland terwyl hulle teen die lewenskoste stoei nie.

“Die ‘nuwe normaal’ en die ooreenstemmende lewenskoste in ʼn uitgedaagde ekonomie sorg vir verwoestende omstandighede wat baie mense nie kan oorkom nie,” sê Moyo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die oom met die magtige stem hou van optes, maar is maar min gespin oor die nasies op die afte. Die lewenstandaard val en alles is aan’t flarde maar vir ouens met daardie kapasiteit is die woord armoede net een in die woordeboek in die stad se ou biblioteek.

Piet parys ·

So wat van die pensionarisse wat van rente moet leef ? Inflasie is te hoog so .25% verhoging op die tafel . Droogte , water tekorte en eskom se onvermoè om krag te voorsien gaan die voedsel pryse opjaag . Buitelanders vat geld uit agv die onbevoegde regering om die land te bestuur . Gewoonlik as rentekoerse verhoog word dan lok dit buitelandse beleggers maar die regering se beleid om saam Palistina in die bed te spring verydel die kans dat hulle geld hier sal belê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.