Inflasie styg derde agtereenvolgende maand

In sommige streke en winkels was verbruikers beperk op die aantal eiers wat hulle kon koop. (Foto: Du Preez de Villiers)

Inflasie het in Oktober vir die derde agtereenvolgende maand gestyg en staan nou op 5,9%. Dit dreig nou om die Reserwebank se teikenband te oorskry.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het inflasie in die geheel met 0,5% tot 5,9% gestyg en dit is veral die hoë prys van voedselitems soos eiers wat inflasie aanjaag.

Verbruikerspryse het verlede maand die hoogste styging in drie maande aangeteken toe dit met gemiddeld 0,9% toegeneem het.

Die inflasie op kos en nie-alkoholiese drankies het vir die tweede agtereenvolgende maand gestyg nadat dit van 8% in Augustus tot 8,7% in Oktober toegeneem het.

Die jaarlikse inflasiekoers vir brood en graan het met 0,4% gedaal en staan op 8,8%. Mieliemeelpryse het tussen September en Oktober met 1,3% gedaal, wat die jaarlikse koers vir hierdie stapelvoedsel tot 8,6% verlaag het.

Hierteenoor was rys 20,8% duurder as ʼn jaar gelede. Die gemiddelde prys van ʼn kilogram rys het oor hierdie tydperk van R22,48 tot R28,59 gespring.

Inflasie op vleis het egter net betyds vir die somer verder gedaal. Vleisinflasie het in Oktober tot 3,4%, teenoor 3,8% in September, gedaal. StatsSA wys daarop dat inflasie op vleis op ʼn algemene afwaartse trajek is sedert dit ʼn hoogtepunt van 11,4% in Februarie bereik het.

Eiers, aartappels nóg duurder

Inflasie op eiers het in Oktober ʼn beduidende toename getoon en algemene voedselinflasie ver oortref. Die inflasie op eiers het in Oktober op 13,4% te staan gekom, wat inflasie op ʼn jaargrondslag tot 24,4% laat toeneem het.

Die prys van pluimveeprodukte, insluitend eiers, het skerp gestyg weens die uitbreking van voëlgriep. Aangesien miljoene hoenders van kant gemaak moes word om die verspreiding van die siekte te bekamp, was daar ʼn ernstige marktekort en verbruikers het angstig die produkte opgeraap.

StatSA sê egter prysstygings het plek-plek verskil.

Verbruikers in die Wes-Kaap het veral swaar getrek toe die prys van ses eiers met R6,42 in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar gestyg het. Dit het hulle in Oktober gemiddeld R24,14 vir ses eiers gekos.

Diegene in Gauteng moes ʼn bykomende R4,81 meer opdok en het R24,32 vir ses eiers betaal. Die prysstyging het daartoe gelei dat eiers die duurste in Gauteng in Oktober was.

Ontbyt in die Vrystaat was veral goedkoper toe die prys van ses eiers van R19,33 in Oktober verlede jaar tot R18,38 vanjaar gedaal het.

Terwyl alle aandag verlede maand op eiers was, het die hoë aartappelpryse grotendeels ongesiens verbygegaan. Dit het nogtans met 21,2% gestyg. Dit het inflasie op ʼn jaargrondslag op 64,6% te staan gebring.

Die gemiddelde prys vir aartappels het met R8,89 gestyg van R13,93 per kilogram in Oktober verlede jaar tot R22,82 per kilogram vanjaar.

“Inflasie vir groente en vrugte is tipies wisselvallig,” sê StatsSA.

“Die jaarlikse koers vir groente was 23,6% in Oktober, die hoogste sedert Desember 2007 toe dit op 23,8% gestaan het.”

Hoewel aartappels die hoogste maandelikse toename aangeteken het, het patats met 16,4% gestyg, tamaties met 15,2% en pampoen met 11,1%.

Die jaarlikse koers vir vrugte was 8,5%. Piesangpryse het in die 12 maande tot Oktober met 33% gestyg. Die gemiddelde prys van piesangs in Oktober was R21,20 per kilogram, teenoor R14,92 in dieselfde tydperk verlede jaar.

Vervoer druk ook inflasie hoër

Vervoerinflasie het geensins briek aangedraai nie, maar eerder tot 7,4% vanaf 4,2% in September toegeneem. Die styging was hoofsaaklik te wyte aan ʼn 6,5%-styging in die brandstofprys.

Die prys van 95-oktaan-petrol in die binneland het in Oktober tot R25,68 per liter gestyg van R24,54 per liter in September. Dit is die naashoogste prys vir petrol ooit – net onder die rekord van R26,74 wat in Julie verlede jaar gehef is.

Dit is ook nou duurder om by restaurante te eet en by hotelle oor te bly nadat inflasie op ʼn jaargrondslag tot 6,3% toegeneem het.

Spyskaartpryse is 6,4% hoër as verlede jaar dié tyd. Hoteltariewe het tussen September en Oktober met 9,7% gestyg, wat die jaarlikse koers op 6,1% te staan ​​laat kom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Papsak ·

Nee kyk hier moet drasties iets gedoen word so kan dit nie aan gaan nie alles bly net styg en styg niemand kom meer by nie regtig

Schalk ·

Wat het ons verwag nadat diesel twee maande met meer as R2 elk gestyg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.