SA’ners laat die medaljes inrol

Erin Gallagher was een van Suid-Afrika se medaljewenners. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Vergeet maar vir eers van ’n blou Maandag; gister was eerder ’n goue, silwer en brons Maandag vir Suid-Afrika by die Statebondspele in Birmingham.

Die Suid-Afrikaanse sportsterre het ses medaljes ingeoes om die vyfde plek op die medaljepunteleer te beklee.

Die judoka Michaela Witbooi het in die 48 kg-kategorie met die goue medalje weggestap nadat sy vir Shushila Devi Likmabam van Indië in die eindronde ore aangesit het.

Dan het Charné Griesel die bronsmedalje in haar gewigskategorie ingeoes.

Nodeloos om te sê was dit weer ’n goeie dag vir Suid-Afrika in die swembad met die opwindende Pieter Coetzé (24,77 sekondes) wat die silwermedalje in die 50 m-rugslagitem losgeswem het.

Erin Gallagher (26,05 sekondes) het tweede in die eindronde van die 100 m-vlinderslagitem geëindig. Haar spontante reaksie toe sy haar tyd op die groot skerm gesien het, was ongetwyfeld die kersie op die koek.

Christian Sadie, wat saam met Bongi Msomi die Suid-Afrikaanse vlag by verlede week se openingseremonie gedra het, was derde in die 50 m-vryslagitem vir S7-swemmers. Australië se Matthew Levy het die goue medalje in ’n tyd van 28,98 sekondes gewen.

Die Suid-Afrikaanse gimnas, Caitlin Rooskrantz, het ook geskitter om met die bronsmedalje op die trapbrug te spog.

Vandag se hoogtepunte:

Atletiek: Die uitdunrondes begin vandag met die 100 m-ster Akani Simbine (11:47) en die Paralimpiese medaljewenner Sheryl James (11:25) in aksie.

Swem: Daar wag ’n watertand-eindstryd in die 100 m-borsslagitem met Tatjana Schoenmaker (1:06.43 minute) en Lara van Niekerk (1:05.96 minute) wat sake om die goue medalje sal uitspook.

Van Niekerk het onder meer die Statebond-rekord in die 50 m-borsslagitem verbeter, terwyl Schoenmaker haar stempel in die 200 m-item afgedruk het.

Kaylene Corbett is ook deel van die eindronde-aksie en Suid-Afrikaners kan hul vordering om 20:07 volg.

Chad le Clos tree om 20:49 in die eindronde van die 100 m-vlinderslagitem aan, terwyl Aimee Canny (100 m-vryslag om 20:43), Michael Houlie (50 m-borsslag om 21:21) en Michaela Poulford (800 m-vryslag om 22:15) ook in die eindstryde sal swem.

Medalje-punteleer:

  1. Australië: 71 medaljes (31 goud, 20 silwer en 20 brons)
  2. Engeland: 54 medaljes (21 goud, 22 silwer en 11 brons)
  3. Nieu-Seeland: 24 medaljes (13 goud, 7 silwer en 4 brons)
  4. Kanada: 33 medaljes (6 goud, 11 silwer en 16 brons)
  5. Suid-Afrika: 12 medaljes (5 goud, 3 silwer en 4 brons)
  6. Indië: 9 medaljes (3 goud, 3 silwer en 3 brons)
  7. Skotland: 23 medaljes (2 goud, 8 silwer en 13 brons)
  8. Maleisië: 6 medaljes (2 goud, 2 silwer en 2 brons)
  9. Nigerië: 4 medaljes (2 goud en 2 brons)
  10. Wallis: 10 medaljes (1 goud, 2 silwer en 7 brons).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Pragtig en knap gedaan aan elke Suid Afrikaner! Trots op julle

Nited ·

????????????puik. Ek hoop hulle Gaan ook erkenning kry met hul bank saldo Soos banyana banyana

Jack ·

SA’ners laat die medaljes inrol??? Australie en die Britte laat die medaljes inrol. SA’ners kry so af en toe enetjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.