Sangeres veg steeds om lewe teen Covid-19

Candy Benson. (Foto: Facebook)

ʼn Emosionele Cindy Benson, ma van die sangeres Candy Benson, sê haar “blondekop-sonskynkind” veg steeds om haar lewe teen Covid-19.

Candy, wat liedjies sing soos “Onweerstaanbaar” en “7 dae in die somer”, is op Saterdag 11 Julie per ambulans na die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg gehaas.

Sy is vir 24 dae lank in die hoësorgeenheid behandel voordat sy Dinsdag na ʼn algemene saal oorgeplaas is, sê Cindy.

Volgens Cindy ly Candy nou aan ʼn steroïede psigose van die hoë volumes steroïede wat sy ontvang om haar longe te versterk. Cindy sê sy is juis oorgeplaas na ʼn algemene saal in ʼn poging om haar geestesgesondheid te verbeter.

“Candy is ongelooflik deurmekaar; dit is ʼn nagmerrie,” sê Cindy, wat Sondag by die hospitaal daarop aangedring het om haar dogter te sien nadat sy onsamehangende, angstige Whatsapp-boodskappe van Candy ontvang het.

“Sy het ʼn angsaanval gehad terwyl ek daar by haar gesit het. Haar toestand het drasties versleg. Ek kan nie vir jou sê wat dit aan my gedoen het nie.”

Cindy sê sy en haar man, Marc, en Candy se verloofde, die musikant Dylan Emslie, se “senuwees is klaar”, maar dat hulle op hulle knieë bly.

“Die dosis van die steroïede kan nog nie verminder word nie, want haar longe is nog nie sterk genoeg om self asem te haal nie. Sy is steeds aan ʼn suurstofmasjien gekoppel. Die dokters het voorgestel dat sy geskuif word na ʼn algemene saal om haar gemoed te lig, want sy het al soveel mense om haar gesien en gehoor sterf en dit is besig om haar te raak.”

Candy Benson en haar ma, Cindy. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Cindy sê dit is veral moeilik om vir Candy so deurmekaar en angstig te sien, aangesien sy altyd ʼn “positiewe mens is wat nie maklik huil nie en altyd ander moed in praat”.

Candy se suurstofvlakke is tans gemiddeld en die goeie nuus is dat sy nou effe gemakliker is aangesien ʼn pypie uit haar een arm en nek verwyder is, sê Cindy.

“Sy raak self nou angstig om huis toe te kom. Ons is uiteraard ook angstig om haar by die huis te hê, maar dit is ook belangrik dat sy gesond huis toe moet kom.”

Eerskomende Saterdag sal Candy se 28ste dag in die hospitaal wees. “Ek is so bang, maar ek weet ons Vader gaan haar gesond huis toe bring. Ons pleit steeds by mense om saam met ons vir ons kind te bid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Belinda ·

Ek ken haar nie maar sterkte dame, hoop op n spoedige beterskap

Drico ·

Cindy, Marc en Candy is een van die gesinne wat al soveel gedoen en beteken het vir Marloth Park en sy inwoners. Cindy is een van die stigters van Marloth Park Ratepayers Association (MPRA) wat verbete veg teen die buitestanders wat wil oopgroefmyne open, wat vrae vra en antwoorde eis wanneer die munisipaliteit nie dienste lewer waarvoor betaal word nie en wanneer daar onregmatige cullings op die diere van Marloth uitgevoer wil word.

Hendrik ·

Klink of dit nou beter gaan en dat sy nie meer veg om haar lewe nie as sy na die algemene saal is nie.

Pieter J ·

Henrik hierdie Covid ding maak jou onverwags dood ongeag in watter saal of hospitaal jy is.

Johanna ·

COVID19 IS ONVOORSPELBAAR. Een oomblik is jy OK en die volgende oomblik kry jy nie asem nie. Sterkte mag Jesus Christus ingryp.

Jan ·

Ons kan net bid glo hoop en vertrou.My suster in vandag in ICU opgeneem suurstof 76 en wat my omkrap is die feit dat sy die virus ‘n dag na sy die entstof ontvang het gekry het.Sy ook weet nie waar sy die entstof gekry het nie GEEN SOSIALE AFSTAND was nie.????????????

Hugo ·

Johannes… Dit is nie die entstof wat haar positief gemaak het nie. Sy moes dit voor die tyd opgedoen het. Baie sterkte hoop vir n spoedige herstel.

Kathleen ·

Covid-19 is nie ‘n grap nie , die 1 dag dink jy jy is besig om gesond te raak die volgende dag gooi dit jou weer neer teen die vloer , verseker nie ‘n grap nie . En agterna neem dit weke om 100% te herstel , ek is amper ‘n maand al “gesond” maar nog nie gesond nie !

Casper ·

Alle sterkte vir spoedige herstel. Ek self het na n rug operasie, post ICU psigose gehad. Dit is nie n aangename ding om deur te werk nie. Mag die Here se Hand van Genade, Krag en Genesing, oor jou en jou familie, wees.

Louisepretorius ·

HERE LAAT UWIL GESKIED.U IS ONS GROOT GENESER.AMEN

Kobus ·

Baie sterkte aan die pasiënt en haar geliefdes. Ja, mense langs siekbeddens het ook baie genade nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.