Sassa-betaaldag: Rowers slaan toe op poskantore

(Argieffoto)

Die poskantoor in Grootbrakrivier in die Wes-Kaap het Woensdag onder gewapende rowers deurgeloop. Dié voorval is een van vier waartydens poskantore op dié dag deur rowers geteiken is. Die polisie kon een van die voorvalle verhoed.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) verduidelik dat sy takke veral ’n teiken is wanneer die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se maatskaplike toelae uitbetaal word.

Sers. Laurianne Botha, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het gesê die plaaslike polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof nadat vier verdagtes Woensdagoggend omstreeks 10:00 by die poskantoor in Charlesstraat in Grootbrakrivier ingestap en ’n onbekende bedrag geld gebuit het.

Volgens Botha het die verdagtes die veiligheidswag aan diens buite die poskantoor oorval waarna hulle ’n vuurwapen op hom gerig en sy vuurwapen by hom afgeneem het.

Die verdagtes het toe by die poskantoor ingestap en die mense in die poskantoor beveel om met hul gesigte na onder op die vloer te lê waarna hulle ’n vuurwapen op die bestuurder van die poskantoor gerig het. Die bestuurder is gedwing om die poskantoor se kluis oop te sluit waarna die verdagtes met kontant te voet op die vlug geslaan het.

“Niemand is in die voorval beseer nie hoewel baie van die mense getraumatiseer is,” het Botha gesê.

Argieffoto van Sassa-betaaldag (Embuzini 9 Oktober 2018) Foto verskaf deur die SA Poskantoor

Vossie Vos, afdelingshoof van die poskantoorsekuriteit, het aan Maroela Media gesê personeel het ná die voorval traumabehandeling ontvang. “Dit is poskantoorbeleid om personeel berading te gee as hulle slagoffers van misdaad was,” het Vos verduidelik.

Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie doen’n beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by sers. Wesley Louw by 079 893 9943 of die speurtak by 044 620 8300/04 aan te meld. Alle inligting sal vertroulik hanteer word, het Botha verseker.

Nog voorvalle

Nóg twee poskantore, onderskeidelik in die Vrystaat en Limpopo, is Woensdag deur rowers geteiken. ’n Derde poskantoor het Donderdag in Limpopo deurgeloop.

“Dit is nou duidelik dat ons poskantore teikens vir gewapende rowers begin word,” het genl.maj. Jan Petrus Scheepers, waarnemende polisiehoof in Limpopo, in ’n verklaring gesê.

(Argieffoto)

“Soos alle ander besighede in Suid-Afrika is die poskantoor ’n teiken vir misdaad, veral in die Sassa-betaalperiode.  Ons het ook ’n toename in misdadige optrede opgemerk soos gewapende roof, inbraak, aanvalle op voertuie wat kontant vervoer, en aanvalle op outomatiese tellermasjiene,” het Vos op sy beurt gesê.

Ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê twee gewapende rooftogte by poskantore in Bloemfontein is ook aangemeld.

Volgens Steyn het twee verdagtes by ’n poskantoor in Selosesha ingestap en ’n vuurwapen op die veiligheidswag aan diens gerig. Die wag se vuurwapen is by hom afgeneem.

’n Veiligheidswag buite die poskantoor het egter in dié stadium onraad vermoed en is die poskantoor binne waar die verdagtes hom oorval en in die bestuurder se kantoor toegesluit het.

Volgens Steyn het die verdagtes pensioengeld gebuit en toe in ’n motor met geen registrasienommer nie op die vlug geslaan. Dié motor is egter later in Thaba Nchu opgemerk en die twee verdagtes is by ’n huis in hegtenis geneem.

In ’n onverwante voorval het vyf verdagtes ook Woensdag op ’n poskantoor in Elrichpark in die stad toegeslaan. Dié verdagtes het ’n vuurwapen op die personeel gerig voordat hulle met kontant in ’n swart voertuig op die vlug geslaan het.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen)

Dié voertuig is vermoedelik verlede naweek gekaap en is later verlate in die omgewing van Batho gevind, het Steyn gesê.

In Limpopo kon polisiebeamptes daarin slaag om ’n gewapende rooftog by ’n poskantoor in die omgewing van Atok te fnuik.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê polisiebeamptes het inligting ontvang oor ’n moontlike rooftog waarna ’n polisiehelikopter ingespan is.

“’n Verdagte voertuig met drie insittendes is tussen Atok en Ga-Selepe opgemerk. Die voertuig het stilgehou waarna die bestuurder kort daarna uitgeklim en ’n vuurwapen op polisiebeamptes gerig het. Die verdagte is geskiet en die vuurwapen is by hom afgeneem. Hy is na ’n hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking opgeneem is,” het Mojapelo verduidelik.

Volgens Mojapelo is nóg ’n voertuig met vyf insittendes in die omgewing van Atok opgemerk. Die bestuurder is versoek om stil te hou en polisiebeamptes het op ’n versteekte vuurwapen in die voertuig afgekom. Al vyf insittendes is in hegtenis geneem.

Die provinsiale polisie is intussen op die spoor van verdagtes wat Donderdag op ’n poskantoor in die omgewing van Seshego toegeslaan het.

Volgens Mojapelo het vier verdagtes ook die veiligheidswag aan diens oorrompel en by die poskantoor ingestorm terwyl maatskaplike toelae uitbetaal is. Die verdagtes het op die toelae aangedring en met dié geld op die vlug geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jacobus ·

Plaas die opportuisme gekep deur regering in perspektief.
Oues moet deurnag in die koue slaap om pensieon te kry. Arrogante kriminele slaan toe wanneer gerieflik.

JohanR ·

Waar is grootbek Bheki Cele. Die rowers is hom altyd een voor. Was seker agter ‘n bos geskuil om te sien of iemand agter die stuurwiel rook? “Nee manier die is net ‘n dagga zol wat ek daar by Gatiepie gekry het”. “Nee maneer ons het hom nie gedeel nie, ek zol op my eie”.

Termiet ·

Free for all in die banana repubebliek. Maar moet asseblief tog net nie rook nie.

Baardman ·

Waarom tree die polisie nie proaktief op nie. Nou is daar net een veiligheidswag aan diens wat waarskynlik nie opgewasse of opgelei is om die plek te beskerm nie.

Pierreli ·

Die polisie kyk wie dra nie maskers nie. Die kriminele en die wets gehoorsame dra nou almal maskers, so dis moeilik om die kriminele uit te ken.

Riaan ·

En in die 3 gevalle waarin hulle dit NIE kon verhoed nie was hulle seker besig om ‘n lokval op te stel vir die vieslike gevaarlike roker wat vermoedelik ‘n carton sigarette in sy kar se bagasiebak wegsteek.

marius ·

Daar sal geen antwoord wees van waarom die polisie nie die plekke behoorlik beveilig nie , daarom die volgende ; Miskien moet die polisie se salarisse op dieselfde manier uitbetaal word . Hulle mag geen wapens dra nie , en beskerm word deur een sekuriteits beampte met ‘n gas pistool .

Ansie ·

Een veiligheidswag is hopeloos onvoldoende. Die poskantoor moet hulle sekuriteit heelwat opskerp.

Nico ·

Waarom moet die verdagtes gratis hospitaal behandeling kry, waarom word die buurtwag nie toe gelaat om hulle werk te doen nie, waarom is die kommando’s weg gevat, bring terug daardie manne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.