Sassa-kontrak van miljoene was onregmatig – OB

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die DA het ʼn verslag van die Openbare Beskermer (OB) verwelkom dat ʼn kontrak van miljoene rande wat aan twee maatskappye toegeken is om dienste aan Sassa te lewer onregmatig was.

Die OB het bevind die bodevaluasiekomitee en die bodbeslissingskomitee het ander maatskappye onregverdig gediskwalifiseer toe ʼn tender aan Azande Consulting CC en Vee-el Promotions toegeken is.

Dit het tot onregmatige besteding van meer as R278 miljoen deur Sassa gelei.

Die burgerregtegroep Outa het in 2017 al gewaarsku dat die kontrakte wat met Azande, ʼn geleentheidsbestuurmaatskappy, aangegaan is, onregmatig is. Outa het destyds gesê die tenders is toegeken sonder dat die regte prosedure gevolg is en dít vir dienste wat Sassa self kon lewer of wat hopeloos onnodig was. Outa het die departement van maatskaplike ontwikkeling gevra om in te gryp, asook dat die miljoene rande wat aan die projekte bestee is, ingevorder word.

Die drie jaar lange kontrak was vir dienste in al nege provinsies en was vir gemeenskapspeilings wat gedoen moes word. Outa het die klagte in 2018 by die OB aanhangig gemaak.

Die OB het bevind dat die kontrak aan Azande Consulting inderdaad voorskrifte oor verkrygingsbestuur oortree het. Die maatskappy het onder meer net twee dokumente oor vorige soortgelyke werk wat hy gedoen het, ingedien, terwyl die vereiste voorskrif drie dokumente was.

Die OB het ook bevind dat die optrede van lede van die komitees wat die tender oorweeg en toe toegeken het, onbehoorlik was.

Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, sê die party gaan die inwerkingstelling van die OB se aanbevelings fyn dophou.

Dit sluit in die aanbeveling dat stappe gedoen word teen Sassa-werkers wat betrokke was en dat die saak vir strafregtelike ondersoek verwys word. Die OB het ook aanbeveel dat meganismes ingestel word om te verseker dat maatskappye behoorlik ondersoek word voordat tenders aan hulle toegeken word.

“Jare lank het die agentskap wat Suid-Afrika se armste en kwesbaarste mense moes help, diegene in hul sorg in die steek gelaat. Die kontrak, wat deur-tot-deur-dienste moes lewer, moes ten goede gewerk het en het die potensiaal gehad om ʼn groot uitwerking te hê,” sê Masango.

“Pleks daarvan is dit gekaap en het Sassa byna R280 miljoen gemors.

“Die DA het nog altyd volgehou dat iemand hierdie kontrakte moet verklaar en ons verwelkom die OB se bevindings,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

PieterJ ·

En gaan die skuldiges tronk toe of enige geld terugbetaal? Natuurlik nie!!!

Shakespeare ·

Kader ontplooing = onbevoegdheid, verwoesting en korrupsie. FEIT !!!

Lillian ·

en wat help dit om hul te verhoor en tronkstraf te gee? Die geld is klaar weg! Poef!

Yvonne ·

So gaan alles in die donker gat van korrupsie en gierigheid af……en niks gaan gebeur nie want wie sit die regsbanke vol….onbevoegtes en gekaaptes

Moedeloos ·

Wanneer word al hierdie miljarde korrupsie gelde ooit terugbetaal aan die staat. Dan sal elke burger weer kan asemhaal want nou oorleef ons net dag tot dag.

Jax ·

Verbaas my glad nie. Gaan loer op FB se markplaas en tik die woorde Sassa card in – dit is skokkend!!! Werklik uiters onbevoegde en slinkse mense in Sassa maar ook dwars oor SA. Uiters teleurstellend maar maak my ook woedend as ek sien wat word van my swaarverdiende salaris wat die regering eenvoudig net vat. Werklik waar woedend oor die hele storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.