SAUK gee ANN7 ongevraagde afslag op spotgoedkoop argiefmateriaal

Argieffoto

Die uitvoerende hoofde by die SAUK het nie net kosbare argiewe spotgoedkoop aan die Guptas se ANN7-nuuskanaal verkoop nie, maar die omstrede familie sommer boonop ʼn ongevraagde afslag gegee.

Die voormalige uitvoerende hoof van verkope by die openbare uitsaaier se argiewe, Sias Scott, het Dinsdag voor die kommissie wat staatskaping ondersoek getuig, nadat Rajesh Sundaram, ANN7 se voormalige redakteur, twee dae lank getuig het.

Scott was 25 jaar lank verbonde aan die SAUK.

Hy het getuig dat hy ʼn oproep van Hlaudi Motsoeneng, die SAUK se voormalige bedryfshoof, gekry het, sodat hy wat Scott is aan hom kon verduidelik hoe die verkoop van argiefmateriaal werk.

“Ek het die proses aan Hlaudi verduidelik. Nazeem Howa (Oakbay Investments se voormalige uitvoerende hoof) het my daarna gebel oor materiaal vir ʼn nuwe televisiekanaal en ons het ʼn afspraak gemaak. Ons het die proses in my kantoor bespreek en ek het ʼn kwotasie vir hom gestuur, wat hy aanvaar het.”

Howa was op soek na ʼn wye verskeidenheid argiefmateriaal, maar het nie besonderhede van enigiets spesifiek verskaf nie. Scott sê hy het daarna met Jimi Matthews, die SAUK die destydse nuushoof, oor die kwessie vergader.

“Ek het met Matthews, die hoof van nuus, gepraat. Ek was opgewonde omdat ons nog nooit 2 000 minute aan ʼn kliënt verkoop het nie. Ek onthou Jimi het selfs gesê dit was ʼn groot werk en dat ons die standaard koste per uur moet laat vaar en die beeldmateriaal vir R70 per minuut moet verkoop. Ek ʼn e-pos aan Howa gestuur en hy het dit aanvaar,” het Scott gesê.

Die standaard tegniese koste, oftewel die fooi vir die “kyk en oordrag” van materiaal, wat R500 per uur beloop, moes ook nie gehef word nie, wat ʼn verlies van duisende rande vir die SAUK beteken het. Scott het getuig vir mededingers soos eNCA hef die SAUK R2 000 per 30 sekondes vir geskiedkundige materiaal.

MNet se Carte Blanche betaal R2 750 per 30 sekondes, omdat dit ook op platforms soos YouTube uitsaai.

Internasionale kanale soos CNN en Al Jazeera betaal in buitelandse valuta.

Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek, het gevra waarom ANN7 afslag gegee is en of dit dan nie Scott se werk was om die regte bedrag te vra nie.

“Dit was my werk, maar ek het toestemming gekry van die persoon aan die stuur van nuus. Matthews het gesê kom ons verlaag die prys. Hy het geen rede daarvoor gegee nie. Ek dink enigiemand wat in Jimi se posisie was, sou gedoen het wat hy het. Ek bereken dat ons nie soveel meer verloor het nie. Dit is gedoen eerder as om die hele transaksie te verloor,” het Scott gesê.

Zondo het gevra of daar ʼn versoek van die kliënt was dat die R500-fooi van die hand gewys word, maar Scott het gesê dit was nie die geval nie. Hy sê hy het in dié geval die bedrag as minimaal beskou.

Zondo wou ook weet of die SAUK dan die transaksie sou verloor.

“Toe mnr. Howa my kom sien het, het hy gepraat oor die feit dat daar nie genoeg geld was nie en dat dit ʼn moeilike tyd vir hulle was.”

ʼn Oorblufte Zondo het Scott gevra waarom afslag aangebied is, waarvoor daar in die eerste plek nie gevra is nie.

Scott het daarna toegegee dat die SAUK die Guptas afslag gegee het op ʼn rits geskiedkundige argiefmateriaal, sonder dat hulle daarvoor gevra het.

Scott het getuig die Guptas het R140 000 vir 2 000 minute gevra, wat minder is as wat die SAUK ander uitsaaiers vra.

Zondo het opdrag gegee dat die SAUK se pryse vir argiefmateriaal op die gegewe tyd nagegaan word en vasgestel word of dit teen ʼn billike prys verkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Soos ek hier skryf, kwalifiseer ek dan ook vir ‘n fooi?

Arno Scheepers ·

Ek dink Maroela is die Oom of Tannie in die familie wat niemand van hou nie.

Speedguard ·

Mnr Scott se getuienis is die swakste wat ek nog ooit gesien het , moet dalk ‘n “perm” oorweeg dan sal die hare nie so in die oe hang nie of selfs net ponie stert !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.