Schwartzel wend hom tot gebed in stormweer

Charl Schwartzel in aksie by die Zurich Classic-toernooi. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Een van Suid-Afrika se mees gedugte gholfspelers, Charl Schwartzel, het Donderdag by ʼn windverwaaide Doha-gholfklub in Katar die uitdagende toestande met gebed deurstaan. Hy het aan die Internasionale Katar-reeks deelgeneem.

Toe aan hom gevra is wat dit verg om so goed in stormagtige weerstoestande te speel, was sy antwoord eenvoudig: “Ek bid”.

Die 38-jarige se gebed het duidelik gehelp, Schwartzel kon ná sy eerste rondte van 70 houe slegs een hou agter die voorloper eindig.

​Hy vertel hy het 20 jaar gelede vir die eerste keer aan dié Asiatiese Toer deelgeneem. “Ek kom hierheen sedert ek die eerste keer in 2003 aan internasionale toere begin deelneem het.

“Dit was altyd een van die beter toere. Hulle het dit verleng en ander veranderinge aangebring, maar om hier te wees bring lekker herinneringe terug.”

Altesaam 132 spelers, onder wie 11 Suid-Afrikaners, neem aan dié reeks deel.

Schwartzel erken dat hy ook nou ʼn rol in jong gholfspelers se lewe speel.

“Daar het gisteraand ʼn klomp jong Suid-Afrikaners om my gestaan ​​en vir my vrae gevra. Ek het dadelik aan myself gedink, 20 jaar gelede, wat vir Ernie Els en Retief Goosen al hierdie vrae gevra het. Hulle was my helde. Nou, skielik, kyk hierdie jong ouens op na my.

“Dit is interessant hoe tyd alles verander. Ek voel fikser en sterker as ooit tevore, maar die jong gholfspelers slaan die bal verder. Hulle is vreesloos en het die geleentheid om nou vir baie geld te speel en vir hulself naam te maak.”

Volgens Schwartzel kan hierdie internasionale reeks baie gholfspelers, veral Asiatiese spelers, help om aan meer kompetisies blootgestel te word en hul spel sodoende te verbeter.

“Op die ou einde sal iemand ʼn plek in die LIV-toernooi kan kry, wat vir ʼn opkomende speler ʼn ongelooflike prestasie sal wees en hom die kans sal gee om teen 48 van die wêreld se beste spelers mee te ding. Ek dink wat hulle doen, is goed en ek is bly om deel hiervan te kan wees.”

Die Internasionale Katar-reeks bestaan uit 10 byeenkomste op die Asiatiese toerskedule. Hierdie week speel gholfspelers vir ʼn deel van $2,5 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.