Seksvoorligting: Onderwysers kan self besluit oor lesmateriaal

(Foto: pixabay)

Onderwysers gaan voortaan sélf kan besluit of hulle die omstrede leermateriaal in die departement van basiese onderwys se seksvoorligtingkurrikulum wil gebruik of nie. Só het die departement van onderwys Vrydag aan unies gesê.

Die besluit is wyd verwelkom. Ouers, onderwysers en geloofsgroepe was erg ontsteld oor die spesifieke lesmateriaal, wat kritici  as hopeloos te eksplisiet beskou het.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê die besluit is Vrydag aangekondig tydens ʼn konsultasiegesprek tussen die departement, vakbonde en beheerliggaamorganisasies.

Klopper het gesê die besluit oor watter materiaal gebruik word om die leerplan aan te bied, berus nou by onderwysers – iets waarvoor die SAOU uit die staanspoor gevra het. Onderwysers wat besluit om dus nié die eksplisiete leermateriaal te gebruik nie, gaan ook nie aan tugstappe onderwerp word nie.

“Onderwysers kan nou hul professionele diskresie gebruik oor wat hulle as gepaste leermateriaal beskou,” het Klopper gesê.

Vakadviseurs kan voortaan ook nie voorgeskrewe lesplanne op onderwysers afdwing nie. Dieselfde geld vir leerderhulpbronne en -assessering.

Volgens hom het die SAOU deurlopend volgehou daar is geen beleidsvoorskrif wat bepaal watter leermateriaal gebruik moet word nie. Dit is boonop algemene gebruik dat verskillende skole verskillende handboeke of lesmateriaal gebruik om uiteindelik dieselfde kurrikulum te dek.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het ook die besluit verwelkom en sê dit was uit die staanspoor irrasioneel van die departement om woordeliks aan onderwysers te probeer voorsê hoe om lesplanne aan te bied.

“Onderwysers het die reg om – binne die raamwerk van die kurrikulum – te besluit wat is toepaslik vir die leerders voor hulle. Onderwysers is professioneel en jy moet op hulle goeie oordeel reken. Die konteks [in skole] verskil en die behoeftes wissel soms ook van klas tot klas,” het Buys gesê.

Sy het gesê die doel van die kurrikulum is om ʼn raamwerk te skep waarbinne onderrig plaasvind.

“Hoe jy die uitkomste behaal, hang van die onderwyser af. ʼn Kurrikulum skryf die breër raamwerk voor. Die onderwysdepartement het egter woordeliks probeer voorskryf, sonder om ruimte vir oordeel te laat.”

Buys het gesê dit is beslis só dat daar in sekere gemeenskappe ʼn krisis met byvoorbeeld tienerswangerskappe is en dat voorligting kan help om dié probleem aan te pak.

Sy het egter benadruk dat onderwysers se oordeel eindelik in dié verband vertrou moet word.

Die departement van basiese onderwys het nie op ʼn navraag oor die besluit gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Mario ·

Dankie vir hierdie uitkoms! Hierdie seksbehepte wereld maak ‘n mens siek voel. Om dit nou al op te dwing aan kinders sal dit net nog vererger.

W H School ·

Wat is die goeie nuus ? Dit se net wat onderwysers vir hulle wil leer – mag hulle . Wat ookal die sg onderwyser se “seksuele voorkeur ” is gaan hy of sy vir jou kind leer !” Ma , juffrou het gese ek moet so en so doen ! Ja my kind jy moet verstaan dat juffrou n so en so is . My kind jy moet verstaan ons is nie almal dieselfde nie . Ons mag nie oordeel nie “. En aan en aan .

Elizabeth ·

Goeie besluit! Onderwysers wat afhanklik is van woordelikse voorskrifte deur die Departement, hoort nie in die stelsel nie. Onderwysers is professionele mense en dié wat dit wel is, behoort as sodanig behandel te word. Die res hoort nie voor ‘n klas nie.

Koos ·

My vermoede was van die begin af reg. Begin ‘n woeste storie om aandag van die aanlyn registrasie gemors en ander probleme af te trek.

Alet ·

Hierdie kinders met hulle selfone hoef net vir Google te vra en dan kry hulle baie meer as net ‘n seksles op die internet.

Alet ·

Kinders vra net vir Google en dan kry hulle baaaie meer as net ‘n seksles op die internet. Skole gaan hulle ongelukkig niks leer van veilige seks nie.

Penellope Jones ·

So iets hoort sekerlik by die huis tussen ouer en kind bepraat te word.
Nie by die skool tussen onnie en leerling nie!

Johan Venter ·

Is daar ‘n ouderdomsperk op die leermateriaal? Wat van net vir leerlinge/persone 16+? As ek so lees van waaroor dit gaan, lyk dit my daar behoort ‘n ouderdomsperk van 21 op te wees, soos op TV of in die flieks.

jaco ·

meeste van my vriende is goeie christen-kerkmense en meeste se kinders is al tienderjariges op hoërskool. hulle vertel my skokkende goed van nogal hulle eie kinders se seksuele dinge. So ek twyfel of selfs hierdie nuwe seksonderrig op skool gaan help: die kinders weet, en doen selfs soms, alles.

Ms Voorligting ·

Baie is al aktief van laerskool af ! Moenie nou geskok wees omdat hierdie pilaar van ons samelewing in mekaar stort nie . Daai tyd was n tiener swangerskap n skande . Nou baie is op die pil van 13 af en het n vry hand . Kyk die selfone . Die wekker het afgegaan

Malva ·

Wil voorkom asof sekere gemeenskappe reeds te veel weet… miskien eerder konsentreer op dit waarvoor skole bedoel is.

Charl ·

En stadig maar seker kom die goed in ons stelsel in. Waaroor is ons bly? Ons moes dit eerder verban het!

George ·

Wat ‘n belaglike besluit! Wat bereik jy eintlik? Mors van ‘n periode. Leer hulle dan maar liewer om te kan swem

Scalla ·

Die woord professioneel bestaan nie onder sekere groepe onderwysers nie. Hoe kan hul dus besluit?

Linda van Mosselbaai ·

Ek sal bly wees dat daar meer inligting aan die leerders deurgegee word oor tiener swangerskappe. Veral wat dit kos om ‘n baba in die wêreld te bring & groot te maak. Ook meer inligting om wat te doen as jy jou swanger bevind & dan die alternatief vir aborsie. Indien aborsie oorweeg word ( wat heeltemal indruis teen my beginsels) moet daar ook met die biologiese pa gesels word alvorens daar tot die besluit oorgegaan word.

C ·

My klein kinders sal nie daai klasse by woon nie, sorry. Dis n gesprek tussen n ouer en kind. Hulle wil hulle orals indring, om die gemors wat hulle aan gevang het, te prober wegsteek. Ons geskiedenise is nie die selfde nie, dit verskil hemels breed. Dankie tog daarvoor.

Judge Dredd ·

Julle word maar net weer geflous.

Al die nuwe boeke sal die eksplisiete seksvoorligting he – dus metertyd soos ou boeke uitfasseer sal alle kinders daaraan onderwerp word.

En hoe word kinders geasseseer? As daar aspris vrae is wat nie deur die ouer materiaal gedek word.

Johan Neuteman ·

Gaan ons nou ‘n groot en ernstige veldtog as gelowiges begin om mekaar op te skerp en aan te moedig na om die oor-en-oor verkeerde dinge in flieks wat ons huise instroom te stop? Dis goed om die regering se verkeerdhede teen te staan, maar dit voel soms of dit maar net teenstand is om aan politieke frustrasie uiting te gee, terwyl dit deel moet wees van ‘n groter terugkeer na en besinning oor God se wil en weg.

Fanie du Preez ·

Bring Godsdiens terug na skole toe . . Dis die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.