Die Namibiese polisie kan nog nie bevestig of ʼn Suid-Afrikaanse burger en sy vrou wel selfmoord in ʼn huis in Swakopmund gepleeg het nie, maar die moontlikheid word nie uitgesluit nie.
Nietemin is daar aanduidings dat die egpaar saam hul lewens geneem het. Die plaaslike koerant Erongo 24/7 berig dat Dean Olley (73), ’n Suid-Afrikaanse burger, glo terminaal siek en “op sy einde” was. Sy vrou, Luella, ’n Britse burger, wou glo nie sonder haar man voortgaan nie.
Dié inligting is deur ʼn selfmoordbrief onthul wat deur ʼn kollega gelees is nadat sy op hul liggame afgekom het. Die identiteit van die kollega is nie bekend gemaak nie.
Die oorsaak van die egpaar se dood is ook nie in dié stadium bekend nie. Die Namibiese polisie het aan New Era gesê die nadoodse ondersoek moet nog bepaal of dit wel selfmoord was, maar dat dit nie op dié oomblik as moontlikheid uitgesluit word nie.
Die egpaar het ook hul troeteldiere, ’n kat en ’n hond, van kant gemaak, wat saam met hulle dood in hul slaapkamer aangetref is.
Erongo berig dat die egpaar ʼn seun het. Sy naam en ouderdom is egter nie bekend gemaak nie, hoewel polisie bevestig het dat hy oor die voorval in kennis gestel is.
Die Olley’s het Afrores and Trinidad, ’n diensverskaffer aan Swakop Uranium, uit hul huis in Goshawkstraat bedryf. Die kollega wat op hul liggame afgekom het, het die selfmoordbrief gelees voordat polisiebeamptes daarop beslag gelê het.
“Hy het ’n bloedprobleem gehad, en hy het nie veel tyd oor gehad nie. Sy was te lief vir hom om sonder hom te wees, en dit was glo die rede hoekom hierdie tragedie gebeur het,” het die kollega aan Erongo 24/7 gesê.
Volgens die kollega is sy op Sondag 30 Januarie (ʼn dag ná die voorval), deur Luella se vriendin van Suid-Afrika gebel om te vra of sy [die kollega] ’n e-pos ontvang het wat Luella glo vir die vriendin sou stuur.
“Ek het geantwoord om toegang tot die e-pos te kry, sal ek op haar [Luella] rekenaar, wat by die huis was, moet inteken.”
Die vriendin het toe vir my gesê om nie soontoe te gaan nie, wat my agterdogtig gemaak het. Sy het gesê as ek wel gaan, moet ek die polisie saamvat.”
Toe die kollega by die huis aankom was daar ’n briefie by die ingang met die woorde: “Moenie na ons slaapkamer toe kom nie. Bel die paramedikus”.
Daar was ook ’n getekende testament met hul name wat verskeie sakeverwante opdragte en aksies uiteengesit het.
“Hulle was sulke lieflike mense – plat op die aarde en gelukkig. Sy was lief vir diere, en as sy kon, sou sy waarskynlik ’n dieretuin bestuur het,” het die kollega gesê. Sy het bygevoeg dat sy met “met gemengde emosies, skok en woede” gevul is.
Die egpaar het glo klein notas aan al hul werknemers gelos, maar die polisie het daarop beslag gelê voordat die inhoud gelees kon word.
“Wanneer ek die rekenaar ná die inspeksie deur die polisie terugkry, sal ek moontlik meer verstaan.
“Hier is geen familie nie, en ek is opdrag gegee om baie goed te hanteer. Ek is steeds in die donker. Ek weet daar was skuld, maar daar was ook verduidelikings oor hoe om dit te takel. Wat ook al aan die gang was, het veroorsaak dat hulle dit [die selfmoord] oor ’n lang tyd noukeurig beplan het.”
Die Namibiese polisie reageer sedert verlede week nie op Maroela Media se navrae nie. Die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Maandag aan Maroela Media gesê hulle dra nie kennis van die voorval nie.
Bron: Erongo 24/7
Sò sò hartseer.
Dit is baie tragies. Baie sterkte aan die familie en vriende
Die ou lewe is moelik!
Dit is absoluut tragies. Ongelukkig sal mens nie heeltemal verstaan voordat jyself in daardie skoene staan nie.
Verder, die gebruik van woorde soos “selfmoord” en “gepleeg” is oudmodies. Ons pleeg nie kanker of ‘n motorongeluk nie, daarom pleeg ons ook nie ‘n moord op onsself nie. Die gebruik van “selfdood” of “het ‘n einde aan hul lewe genaak”, skep baie minder ruimte vir veroordeling en skaamte. Die media speel ‘n groot rol om die publiek op te voed. Hou dit asb in gedagte wanneer julle oor so ‘n afsterwe berig.
So waar Susann – ek se altyd my seun was moeg vir die lewe
As jy kanker kry of in n motorongeluk dood is, doen jy dit heelwaarskynlik nie aan jouself nie. Geen mens gaan dit doelbewus doen of beplan nie, daarom noem ons dit n ongeluk. As jy egter beplan om n lewe te neem, hetsy joune of iemand anders s’n , is dit ongelukkig moord. Mense wil dit graag “sugar coat”. Dis die hartseer van ons tyd. “Everything goes”. Is dit dan nie die Lewe-gewer se besluit om te neem nie? Dit is nie ons besluit nie. Al voel ons soms ons kan of wil nie meer nie. Ek weet waarvan ek praat. As jy nog lewe, beteken dit God is nog nie klaar met jou nie. Daar is hulp daarbuite. Daar is n God. Daar is n liggaam wat jou sal ondersteun. Wat word van die mense wat agterbly? As hulle nou besluit,dit is vir hulle te swaar, neem hulle dan dan weer om die beurt húlle lewens? Ons kan nie net opgee elke keer as ons voel ons kan nie meer nie. Ons KAN. Met my God loop ek n bende storm en spring en oor n muur!!!!!
Susann, die sagte manier waarop jy dinge gestel wil hê, stuur die boodskap aan ander wat selfmoord dalk oorweeg, dat dit nie so erg is nie.
Ons moet gesamentlik vir mekaar uitkyk, en indien dit ander sal verhoed om die daad na te doen, moet ons dit so kras moontlik stel.
Kortom: indien die skande waarna jy verwys, een lewe red, dan het ons reg gedoen.