Senior poste vir omstrede NGV geadverteer

Argieffoto. (Elaine Krige)

Solidariteit dreig in ʼn skrywe aan dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteurgeneraal van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), met regsaksie indien die nasionale departement van gesondheid nie sy advertensies vir poste in die NGV teen eerskomende Maandag (17 September) onttrek nie.

Die departement adverteer sedert verlede maand 44 poste in die NGV ten spyte daarvan dat die wetsontwerp met betrekking tot die NGV nog deur die nodige parlementêre prosesse moet gaan en nog hoegenaamd nie gefinaliseer is nie, wys Solidariteit nou daarop.

Dít nadat Crisp aangedui het dat geen amptelike aankondigings rakende die ontplooiing of implementering van die NGV gemaak kan word nie aangesien die wetsontwerp nog voor die parlement moet dien.

Solidariteit sê nou hy vind dit kommerwekkend.

“Dit is onaanvaarbaar dat senior regeringsamptenare uit twee monde begin praat oor wetgewing en die implementering van wette wat verdoemende gevolge vir ons almal inhou, want dit dui op ʼn minagting van die regsproses,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

“Dieselfde mens wat beloof om ʼn gesondheidsversekering daar te stel wat kwansuis van die wêreld ʼn beter plek gaan maak omdat dit waterdig teen korrupsie en onwettigheid sal wees, is besig om ten spyte van voortslepende parlementêre prosesse die NGV deur te stoomroller, en dit kan nie geduld word nie.”

Solidariteit is van mening dat die wettigheid van die aanstellings asook die finansiële impak van die poste op die fiskus bevraagteken moet word.

Volgens Mulder behels die poste wat geadverteer word veel meer as net tegniese vaardighede. “Dit is senior bestuursposte waarvan die vergoeding miljoene per jaar beloop wat hier ter sprake is.

“Sonder om ag te slaan op die invloed wat verdere uitgawes op ʼn reeds sukkelende staatskas gaan hê, is dr. Crisp besig om sy NGV te ontplooi. Hy doen dit onder die dekmantel van doeltreffendheid en die versterking van kapasiteit, maar hoe wil ʼn mens kapasiteit versterk van iets wat nog nie bestaan nie?” wil Mulder nou weet.

Solidariteit sê die posadvertensies is ʼn duidelike aanduiding daarvan dat die regering vasbeslote is om sy planne deur te voer sonder om daargestelde demokratiese prosesse te respekteer.

“Solidariteit probeer om aan die proses deel te neem deur deurlopend te kommunikeer om rasionaliteit en redelikheid te laat seevier, maar dit blyk onmoontlik te wees. Die howe gaan gevolglik die enigste manier wees om die regering te kry om die rasionele besluit te maak rondom hierdie onbekostigbare wetgewing wat hulle probeer deur stoomroller.

“Ons het ʼn mandaat om op te tree teen diegene wat probeer om ʼn negatiewe uitwerking op ons lede en land uit te oefen, en indien dr. Crisp nie op ons dringende skrywe reageer nie, sal aanvaar word dit is sy bedoeling om met sy grondwetlik onverdedigbare en irrasionele optrede voort te gaan. Dit sal tot gevolg hê dat Solidariteit hom tot die hof sal wend om te verseker dat die reg gehoorsaam word en geregtigheid geskied,” sê Mulder.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die NGV hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

efjy ·

Wat gaan die 44 mense doen om daardie klas salarisse te regverdig. Elkeen sal seker ook ‘n motor moet kry en oor twee jaar word hulle ontslaan met ‘n groot prestasie bonus asook vet pensioen ten spyte daarvan dat hulle geen diens gelewer het nie. Lekker in die nuwe reenboognasie.

Heinrich ·

Die ANC weet ongelukkig nie van beter nie, hulle weet nie lint sny vir opgevulde slaggate of miljoene rande se vlagpale is absurd nie. Net so sien hulle nie die fataliteit in hierdie NGV in nie en was die konsultasie proses maar dieselfde as wat dit was vir onteiening sonder vergoeding, net ‘n show omdat hulle dit moet doen.

Nie Verbaas ·

Ek verstaan nie hoe n geleerde dokter so arrogant kan wees as hy voor sy heilige siel weet dat die regering nog absoluut niks oordentlik kon implementeer nie, behalwe korrupsie . Kyk na staatshospitale se huidige toestand. Ek glo hy moet bietjie terughou met die magic mushrooms.

Kokerboom ·

En die stroping van ons land se ekonomie gaan berekend voort!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.