Ses van Gauteng vas ná Bloem-transitoroof

Die ses verdagtes tydens hul inhegtenisneming. (Foto: Verskaf)

Ses verdagtes is Maandag in die omgewing van Bothaville in die Vrystaat in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in ʼn transitorooftog wat vroeg vanoggend in Bloemfontein plaasgevind het.

ʼn Groep verdagtes in ʼn silwerkleurige Mercedes-Benz het omstreeks 06:00 met outomatiese gewere op ʼn geldwa van G4S in Batho toegeslaan voordat hulle met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan het.

Die verdagtes was egter ná die roof in ʼn skietgeveg met polisiebeamptes betrokke wat op die transitorooftog in Vooruitsigstraat gereageer het.

Niemand is in die proses beseer nie.

Kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, sê ʼn 72 uur aktiveringsplan is ná die transitorooftog van stapel gestuur en polisiebeamptes verbonde aan polisiestasies in Bloemfontein is aangesê om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.

ʼn Wit bakkie is later in Bultfontein in die rigting van Welkom en Allanridge opgemerk en agternagesit.

Die bakkie – wat lyk na ʼn konstruksievoertuig met ʼn geel lig op die dak en ʼn Gautengse registrasienommer – is eindelik omstreeks 14:45 sowat 20 km buite Bothaville voorgekeer en al ses insittendes is op die toneel in hegtenis geneem.

Die verdagtes is onderskeidelik van Boksburg, Benoni, Tembisa, Springs en Soshanguve in Gauteng.

Die polisie het ook beslag gelê op outomatiese gewere wat onder die voertuig weggesteek was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

007 ·

Hoekom arresteer? Skiet en kry klaar. Hulle is so erg connected hulle gaan nie agter tralies beland nie.

electricmango ·

Korrek – hoekom arresteer, hulle was bereid om onskuldige lewens te neem nou moet die belasting betaler die goed voer vir die volgende 2 – 5 jaar.

Kokerboom ·

Ek stem. Hul toon GEEN genade as hul wild en wakker skiet en onskuldiges word gedood. Verwys hier na dood van onskuldige 21 jarige meisie wat net verby gery het!!

Amelia ·

Waar kry die skelms so wapens ek kry idee word voor sien natuurlik teen n bedrag

ES ·

Hoe is daar nog plek in die tronke vir al die misdadigers wat gevang word….?

Delia ·

Iets is steeds vreemd. N skietgeveg breek los, maar niemand is gewond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.