Ses se rooftogplan gefnuik

(Foto: X)

Ses vermeende rowers is Sondagoggend aangekeer voordat hulle ’n rooftog in Sandton kon uitvoer.

Die ses gewapende verdagtes is op die M1-suid in ’n Ford-koerierbakkie met ’n handelsmerk daarop en ’n private Toyota-bakkie voorgekeer en in hegtenis geneem nadat die owerhede van hul slinkse planne te hore gekom het.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting ontvang oor ’n groep verdagtes, onder wie ’n werknemer van ’n koeriermaatskappy, in ’n bakkie van dié maatskappy wat ’n rooftog in die omgewing van Johannesburg sou uitvoer.

Lede van die Johannesburgse blitspatrollie het dié inligting opgevolg en die koerierbakkie asook ’n Toyota-bakkie op die N1-suid opgemerk.

(Foto: X)

Albei voertuie het ooreengestem met die informant se beskrywing van die voertuie.

Die polisie het die twee voertuie tot op die M1-suid in Sandton agtervolg waar hulle eindelik die voertuie voorgekeer en die verdagtes in boeie geslaan het.

Die verdagtes is in besit van vyf vuurwapens voorgekeer waarvan sommige met patrone gelaai was.

Masondo sê die vuurwapens sal nou aan ballistiese toetse onderwerp word om te bepaal of dit nie vir ander misdade ook gebruik is nie. Die verdagtes sal ook geprofileer word om vas te stel of hulle moontlik gesoek word vir die pleeg van ander misdade.

(Foto: X)

Die verdagtes staan in dié stadium tereg op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook sameswering om roof te pleeg.

Lt.genl. Tommy Mthombeni, Gautengse provinsiale polisiekommissaris, het intussen sy dankbaarheid teenoor die Johannesburgse blitspatrollie betuig.

“Ek bedank ons lede van die blitspatrollie wat vinnig opgetree het nadat hulle die inligting ontvang het en die verdagtes onderskep het voordat hulle misdaad kon pleeg en moontlik onskuldige mense kon vermoor.

“Ek bedank ook die wetsgehoorsame gemeenskap van Gauteng wat volhou om die polisie betyds te waarsku oor moontlike misdadige aktiwiteite in ons provinsie. Dié soort samewerking dra by om die misdadigers in Gauteng aan bande te lê.”

(Foto: X)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ES ·

Nou toe nou, lyk vir my RAM vrebreed nou hul “dienste” na “roof met verswarende omstandighede”.

Witbaard ·

Hoekom RAM boikot, Danie? Dis hulle bakkie ja, maar kan jou wed die bakkie is sonder hulle medewete gebruik.

JohanR ·

Die ses gaan na verkiesing in Mei maand op die ANC banke sit. Dit is ‘n ANC vooreiste dat jy ‘n skelm moet wees, en tyd in die tronk deur gebring het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.