Seuntjie môre geopereer ná wasbak op hom val

Danny Ackerman (6), wat ernstig beseer is toe ‘n betonwasbak op hom geval het, sterk goed aan in die hospitaal. (Foto: verskaf)

Klein Danny Ackerman (6) wat Saterdag ernstig beseer is toe ʼn betonwasbak op hom geval het, sal Vrydag rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig ondergaan. Danny, van Vanderbijlpark in Gauteng, word tans in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal behandel.

“Hy glimlag en hardloop rond en lag weer,” het Danie Ackerman, Danny se pa, vanoggend aan Maroela Media gesê.

Die swelling om sy oë het verminder en sy oë is vir weer oop. Die kneusplekke is ook besig om stadigaan te verdwyn.

Ackerman het gesê dokters gaan môre waarskynlik onder meer plate in klein Danny se gesig sit om skade aan sy kakebeen te herstel.

Die Ackerman-gesin woon nog maar net ʼn paar weke in die huis waar die voorval die naweek plaasgevind het. Danie was besig met restourasie- en herstelwerk in en om die huis toe die swaar wasbak aan die buitekant van die huis losgekom en die hoek van die betonstruktuur Danny se gesig getref het, het Maroela Media vroeër berig.

Ackerman het gesê sy vrou is op dié stadium nog baie emosioneel en waak steeds by Danny in die hospitaal.

Danny sal waarskynlik nog vir ʼn geruime tyd in die hospitaal behandel word en sy driejarige boetie sal hopelik binnekort by hom in die hospitaal kan gaan kuier, het Ackerman gesê. Sy kleinboet vra voortdurend waar Danny is. Hulle het intussen saam vir ouboet nuwe pajamas vir sy tyd in die hospitaal gaan koop.

“ʼn Lang pad na herstel lê nog voor en vir ʼn seuntjie kan dit maar vervelig wees,” het Ackerman gesê.

Hy het gesê die gesin is uiters dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat hulle by mense, baie van hulle wildvreemdelinge, oor die afgelope paar dae gekry het. “Mense het regtig ingespring om te help.

“As dit kom by gebede, by mense wat vir ons bid, daar is duisende. Die Here het regtig met mense se harte gepraat,” het Ackerman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sonskyn ·

Daar is n fout in d foto onderskrif. Die van is Ackerman en nie Jordaan?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die onderskrif moet inderdaad “Danny Ackerman” wees. Dit berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Willem Grobler ·

Mag die Here sy hand oor hierdie kind hou asseblief!

Potjie ·

God seën reeds almal wat betrokke is met sy behandeling met geOpende oë om te kan sien wat nodig is om gedoen te raak en dan ook met n geOpende verstand om die regte handeling te doen. Ons is almal eengesinds in gebed vir die pragtige seuntjie se herstelproses. God se saligheidsplan vir die seuntjie is reeds in plek. Alles sal goed wees tydens die operasie. Hy sal ten volle genees.

Miggie Pelser ·

Ons hou jou in ons gebede seun, mag Onse Hemelse Vader jou toevou in Sy genesende arms, ons gebede is ook met die geneesheer wat met jou gaan werk, laat dit geseënd wees, sterkte daar.

Hansie ·

Dit is onsettend belangrik om vir jou kinders, al is dit net vir hulle, n’ hospitaalplan te kry. Ek verstaan geld is soms min maar dit moet as n’ prioriteit gesien word.

GM ·

Hansie, kan mens ‘n hospitaalplan vir jou kinders uitneem sonder ‘n hooflid?
Uit ‘n besigheidsoogpunt sou ek dink dat geen medies ‘n kind sal aanvaar sonder dat ‘n ouer/voog ook ‘n lid is nie. Hulle is mos maar geldwolwe.

Weet jy van een wat dit wel toelaat? Ek sou belangstel.

GM ·

Sterkte aan die seuntjie en sy ouers. Ek hoop als verloop goed af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.