Shosholoza Meyl gaan honderde treinwaens skrap

’n Shosholoza Meyl-trein. (Foto: Facebook)

Hierdie is ‘n aangepasde berig wat oorspronklik op GroundUP verskyn het.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sê 396 Shosholoza Meyl-treinwaens is “verouderd” en sal binnekort geskrap of verkoop word.

Prasa het aan GroundUp gesê daar is tans “meer as 600 waens” vir Shosholoza Meyl-treine regoor die land waarvan 295 oor die loop van die volgende vyf jaar opgeknap sal word. ’n Totaal van 22 sal in die huidige boekjaar nog opgeknap word.

Die res gaan egter skrootwerf toe.

Shosholoza Meyl se treine in Gauteng en die Wes-Kaap is sedert Februarie 2020 buite werking. Die lyne is destyds in opdrag van die Spoorwegveiligheidsreguleerder gesluit ná ʼn noodlottige ongeluk buite Johannesburg.

Shosholoza Meyl het egter onlangs beperkte bedrywighede op twee roetes hervat – van Johannesburg na Oos-Londen in die Oos-Kaap en van Johannesburg na Musina in Limpopo.

Volgens die DA gaan Shosholoza Meyl eers in Mei volgende jaar sy dienste na en van Kaapstad hervat. Dit terwyl meer as 450 werknemers by die Kaapstad-stasie op hete kole sit en wag, sê Ricardo Mackenzie, die DA se provinsiale woordvoerder oor vervoer.

Meer as 100 van dié werknemers is spesifiek in diens geneem om op langafstandtreine te werk wat eenvoudig ophou loop het.

(Argieffoto: Shosholoza Meyl/Facebook)

Andiswa Makanda, woordvoerder van Prasa, het vandeesweek aan Maroela Media gesê daar is nog geen datums vasgemaak vir die terugkeer van Shosholoza Meyl se dienste tussen Johannesburg en Kaapstad nie, omdat Transnet se spoorinfrastruktuur nie tans geskik is vir Prasa om die Shosholoza Meyl-dienste te bedryf nie.

Volgens Makanda beoog Prasa egter om voort te gaan om die Shosholoza Meyl-diens te bedryf, aangesien dit deel vorm van die staatsbeheerde spoorwegagentskap “se primêre mandaat”.

Makanda hou vol dienste sal “geleidelik hervat word” namate infrastruktuur verbeter.

GroundUp het egter onlangs Shosholoza Meyl se treinwaens by Bosmanstasie in Pretoria besoek. Die deure en van die vensters van die treinwaens is gevandaliseer en word vermis terwyl die boonste dele van die waens met roes bedek is.

Baie van die waens is deur diewe vir onderdele geplunder.

Makanda het aan GroundUp gesê Prasa het “ʼn aftreestrategie” vir 2022/’23 goedgekeur en ʼn “skrappingskontrak” toegeken wat sal help met die wegdoen van verouderde bates.

Makanda het verduidelik dat Prasa nie die strategie met die publiek kan deel nie omdat dit ʼn “interne dokument” is. Sy het wel bevestig dat dit “tans in implementering” is.

Prasa sê die lewensduur van sy treinwaens is sowat 40 jaar, met elke wa wat na elke “nege tot tien jaar” ’n algemene instandhoudingsopknapping ondergaan.

“Shololoza ondervind tans vertragings as gevolg van die gevandaliseerde infrastruktuur. Die herbouproses van spoorweginfrastruktuur is tans aan die gang van beide Prasa en Transnet se kant,” aldus Makanda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Die eerste trein in Suid-Afrika het in 1859 geloop. In die daaropvolgende 135 was ‘n effektiewe spoorstelsel landwyd gevestig. Dit het slegs ‘n verdere 28 jaar geneem om dit te plunder en verwoes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.