‘Sien jou op vakansie, minister Cele’

Bheki Cele (Foto: Rasaad Adams)

Bheki Cele, minister van polisie se opdrag dat geen polisiebeampte tussen 5 Desember en 31 Januarie verlof mag neem nie, is nie net onreëlmatig nie maar ook irrasioneel, sê die polisievakbond Sapu.

Cele het by die bekendstelling van die polisie se misdaadvoorkomingsprogram vir die feestyd opdrag gegee dat alle polisiebeamptes moet aanmeld vir diens en geen verlof in hierdie tyd toegestaan mag word nie.

Dit is dalk die minister se eerste feestyd, maar beslis nie die res van die polisiediens sʼn nie, het Lesiba Thabakgale, woordvoerder van Sapu, aan Newzroom Afrika gesê. Hy sê daar was nog altyd gebeurlikheidsplanne om te verseker genoeg lede is oor die besige Desember – wanneer daar gewoonlik ʼn styging in misdaad is – beskikbaar vir diens.

Thabakgale sê polisiebeamptes wat aansoek gedoen het om verlof en aan wie dit toegestaan is, sal dit kry – en daarvan sal die vakbond seker maak. Hy het Cele van grootpratery beskuldig wanneer hy voor die media verskyn en sê die minister moet hom bepaal by politieke sake en moet operasionele en personeelsake aan die nasionale kommissaris oorlaat, by wie dié pligte eintlik berus.

“Ons lede sal met verlof gaan, of die minister nou daarvan hou of nie.

“Hy gaan ons lede op strande op vakansie teëkom. Hulle sal na hom toe gaan en sê ‘haai, minister’. Hulle gaan nie aan diens wees nie. Hulle gaan hom groet en sê ‘ons is met verlof’.”

Sapu sê Cele weet wat om te doen om hoë misdaadsyfers te pak, ook tydens die Desembervakansie, en dit is nie die opskort van verlofvoordele nie. Thabakgale sê die minister moet verseker polisiebeamptes het genoeg hulpbronne, moet herstrukturering takel, spesialiseenhede versterk, die misdaadsindikate binne die polisie uitskop en veg vir ʼn groter begroting.

(Argieffoto: SA Polisie)

“Los die nasionale kommissaris om sy werk as opperbevelvoerder te doen.”

Sapu het reeds aan genl. Fannie Masemola, polisiehoof, oor die verlofkwessie geskryf. Die vakbond sê hulle gaan nie met die minister daaroor in gesprek tree nie, omdat dit nie ʼn saak is waaroor hy enige mag het nie.

“Die minister moet die misdaadsituasie in die land hanteer, nie aandag soek in die feestyd asof dit iets nuut is nie.”

AfriForum stem saam met Sapu dat die minister se uitlatings ʼn aanduiding is dat hy geen benul het wat sy magte of rol is nie en sê ook die minister het bloot nie die mag om by operasionele of arbeidskwessies in te meng nie.

“Net soos wat Cele geen reg gehad het om mense op strande te intimideer tydens die Covid-19-inperking nie en nes die minister geen reg het om sy lyf speurder te hou by hoëprofielmisdaadtonele nie, het hy ook nie die reg om besluite te maak oor polisielede se verlof nie,“ sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Bheki Cele, minister van polisie, op ‘n strandpatrollie tydens die Covid-19-pandemie. (Argieffoto: Courtney Africa/ANA)

Hy sê die minister behoort eerder werk te maak van die reusetekort aan polisiebeamptes en hoewel misdaad oor die feestyd toeneem, is dié tekort ʼn probleem wat deur die jaar ʼn negatiewe uitwerking op misdaadvoorkoming het.

Broodryk sê Cele het nou al male sonder tal bewys dat hy nie die magte of die funksie van sy pos verstaan nie.

“Hoe moet toegewyde lede van die polisiediens gemotiveer bly as die minster op ʼn gereelde basis onbenullighede kwytraak?”

Hy waarsku dat sou Cele sy planne probeer deurvoer, dit tot arbeidsdispute gaan lei in ʼn tyd wanneer die polisie veral moet konsentreer op misdaadvoorkoming en ondersoekwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

KaRoOkWaGgA ·

Met die polisie aan diens gaan die misdaad en verkragtingsyfer hoër wees. Die oorgrote meerderheid van ons polisie is ‘n kompetisie vir die misdadiger op straat.

Nie Verbaas ·

Korrek, plus n groot meerderheid sal daagliks gesuip wees. Dit is tragies dat daar geen respek vir die mag is nie aangesien daar wel van hulle is wat elke dag hulle werk met integriteit doen.

Manie ·

Die SAW het in die 70’s en 80’s dieselfde gedoen, slegs lede met skoolgaande kinders kon gedurende die Desember vakansie verlof kry, almal het die noodsaaklikheid daarvan verstaan en aanvaar.

Moedeloos ·

Gelukkig is ons nie meer in die 70’s / 80’s nie. Daardie tyd was ek, in n privaat sektor benadeel deur hierdie besluite want ek het nie skoolgaande kinders gehad nie. Ek mag nie Paasnaweke, Julie of Desember skoolvakansies verlof geneem het nie. Daar is toe jare later weggedoen met hierdie besluite en weereens was ek benadeel, met skoolgaande kinders, omdat almal vir mekaar moes respekteer en beurte maak om oor die grootdae verlof te kan neem. Almal het die noodsaaklikheid daarvan verstaan en aanvaar.

Delia ·

Nee wat, almal was nie tevrede. Diskriminerend teenoor mense met families asof net mense met kinders die behoefte gehad het om by hulle families te wees

Nie Verbaas ·

Die wie? SAW of die KFC belaaide DOO? Departement van Oorgewig en Onbevoegdes.

Delia ·

Cele moet ophou om te micro manage. En doen wat op sy pligstaat staan. Los die polisie beamptes wat in beheer is, om daai nitty gritty uit te sorteer

Andre ·

Alhoewel Cele die minister is, is hy ‘n politikus en hy moet sy aandag daaraan wy. Los die bestuur van die SAPD oor aan die kommissaris.

Jubba ·

In die regte wereld moet n minister van polisie juis NIE betrokke wees by politiek nie maar alles by polisie sake van die land. Dit is hoekom die land se polisie n hartseer grap is. Vra die SA minister van polisie wat hy doen omtrent die land se super hoog misdaad en GBG en hy sal jou vertel van sy struggle stories en voetseeeek!

Nie Verbaas ·

Jy het bevoegde bestuur nodig om suksesvolle resultate te verkry. Wys ons net een.

Chris dupreez ·

Hy is net soos Malema, aandag soekerig en wil net in die media wees.

Nie Verbaas ·

Cele besit nie oor die intellek of ondervinding om misdaad te beheer nie. Punt

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons kan net hoop Cele neem verlof en verdwyn vir ‘n paar weke.

Denise ·

misdaat gaan gebeur of die spul op verlof is of nie…dus nie of die polisie die misdaad onder beheer gaan kry nie..

koos ·

ANC = Another National Crises = ramaphosa, cele, malema, lesufi…………majority voter.

Lourens ·

Die vent is ‘n politikus en het geen bevoegdheid om opdragte aan polisielede te gee nie.

Lillian ·

Daai reël is al jare gelede ingestel, maar die gatkruipers kry steeds verlof en die res speel siek.

Sandra ·

hy moet maar sy steweltjies aantrek en ook aanmeld, hy sit en elk geval en niks doen. kom ons kyk of dit ‘n verskil gaan maak, diegene wat nie velof kry nie gaan net siek speel. Ek kry hulle jammer, dis nie ‘n aangename werk om te verrig nie en meer nog as jou hoofde jou tot in die grond in werk. Ek kan vestaan ons het meer polisie op die grond nodig in daardie tyd, maar om op nr 99 verlof te onttrek is onmenslik. hy het geweet wat kom, dit is nou weer om punte te score. ons sien deur jou, HOED

Spyker ·

Die belangrikste wat hy moet doen is om die opleiding van alle lede weer terug te bring na die standaarde wat gedurende die sestig en sewentig jare gegeld het.
Maar ek is bevrees dat daar bitter min gaan wees wat die toetse sou slaag.

Kokerboom ·

Die Minister is ‘n “square peg in a round hole”!!!
Kan CR ASB ontslae raak van die man???!!!Hy irriteer die wit waks uit ons en oordonder sy Nasionale Kommissaris!!!

Ansie ·

Cele se mond is heeltemal te groot en te vinnig vir sy brein. Hy is een van die grootste verleenthede vir die polisie.

My siening ·

Cele is n kader polisieman gewees en ook n kader minister wat geen polisie opleiding het en niks weet van ondersoek van sake, hy het te veel mag en is niks werd, met aandag soekende kaderskap!

My siening ·

Hy was kommisaris met geen opleiding en was n aanstelling van buite!

Lurock ·

Hey Minister, skrik al skrik jy net wakker. Jy is in geen posisie om bevele uit te reik nie. Jy is ‘n politieke aanstelling, hou jou asseblief by die politiek.

annie ·

Die Weermag moet ‘n slag die slagtings hanteer. Dit gaan dalk in elke geval nodig word met almal wat hul sin wil hê by die verkiesing van ANC-kaders. Erg onsmaaklik so voor Kerstyd sonder respek vir Christene. Of dalk weet Cele iets wat ons nie weet nie… Zoeloe is glo goeie sieners.

Wendy ·

Raak ontslae v die man hy gebruik sy mag op n onaanvaarbare manier

Nie Verbaas ·

As Cele vir my iets wil sê gee ek hom n hark en graaf.

Swerwer ·

Is Cele al ooit na die Covid 19 se strand patrollie weer op die strand gesien? Wys jou maar net die mentaliteit van wesens wat magsbehep is.

Busy Body ·

High five aan SAPU met hul uitstekende opsomming van Cele en sy media entertainment . Die man hou nou maar een maal van aandag soek. Verlof beplanning word jaarliks al binne die eerste 2mde gedoen. As dit goedgekeur is kan lede hul verlof beplanning en bespreking doen. Deposito word betaal want jy as lid het mos die groen lig (bevelvoerder se handtekening) gekry. Verlowwe word % gewys goedgekeur. Elke jaar Nov word hierdie uitlatings gemaak. Dit veroorsaak familie twis, onnodig spanning, negatiwiteit, werkskonflik en veral woede onder lede. Nou moet elke lid weer motivering skryf waarom hul verlof moet kry (wat reeds goed gekeur was) Dan begin die wag, want nou moet die General op Provinsiale vlak eers die motiverings deurwerk, bewyse verify en as jy gelukkig is kry jy jou antwoord voor jy moet vertrek. Siek verlof skiet nou die hoogte in want depressie is nou al
uitweg (dan mag jy jou stasie wyk verlaat) Siek storie want so dwing bestuur jou om oneerlik te wees.

Marelize ·

Ja ou hoed party maal is dit beter om stil te bly en dat almal maar wonder of jy weet wat jy doen as om jou mond oop te maak en alle twyfel van jou onbevoegdheid te verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.