Sitruskwekers gevra om stadiger te oes, verpak

Die Sitruskwekersvereniging sê die uitwerking van die oproer het talle gevolge, en baie daarvan gaan eers later duidelik word. (Argieffoto: Hennie de Beer/Vaalbostrust-boerdery)

Die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika het sy lede gevra om te verseker daar is genoeg ruimte by die Durbanse hawe wanneer hulle vragte daarheen begin stuur.

Die onrus wat die afgelope week hoofsaaklik in dié provinsie gesentreer was, het groot ontwrigting by die hawe veroorsaak. Die N3, een van Suid-Afrika se belangrikste vragvervoerroetes, was boonop etlike dae lank gesluit.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die vereniging, sê in sy weeklikse nuusbrief daar word elke dag vergader om presies vas te stel wat die situasie op grondvlak is. Daar word onder meer insette van Transnet, vraghouerdepots, vervoermaatskappye, skeepsmaatskappye en ander rolspelers gekry.

Chadwick waarsku dat die situasie in KwaZulu-Natal steeds onvoorspelbaar en plofbaar is.

Die N3 is Vrydag weer vir verkeer oopgestel, maar die vereniging het sy lede gemaan om steeds waaksaam te wees. Talle kwekers en vervoermaatskappye het reeds voertuie na Durban gestuur, maar Chadwick sê die situasie het allermins na normaal teruggekeer.

Heelwat van die vrugte wat reeds in die provinsie aangekom het, moet nog weggewerk word en talle skepe wag steeds buite die hawe om vrag op en af te laai.

“Dit gaan tyd neem om te verwerk wanneer die fasiliteite weer soos gewoonlik begin werk. Menselewens is die prioriteit en geen haweterminaal, kouestoorplek, vraghouerdepot of hawevragryer gaan sy personeel in die gevaar stel nie,” sê Chadwick.

“Laat ek dit duidelik stel: Die situasie in KwaZulu-Natal is nie opgelos nie. Daar is begin om sommige bedrywighede onder streng veiligheidsvoorwaardes te hervat.”

Chadwick waarsku ook teen opeenhopings by die Durbanse hawe en sê die vragte wat reeds daar is, moet nog verwerk word. Dieselfde geld vir vragte wat in pakhuise wag om verskeep te word.

“Indien moontlik, hou vir ʼn tydperk, dalk ʼn week, op oes en verstadig die verpakkingstempo. Ons moet in dié opsig as ʼn bedryf saamwerk, anders gaan ʼn opeenhoping by die hawe ontstaan en dit sal ons skuld wees.”

Chadwick sê die uitwerking van die oproer het talle gevolge, en baie daarvan gaan eers later duidelik word. Hy sê die vereniging is bewus van onder meer ʼn chemiese depot wat afgebrand is en hy het ʼn beroep op boere gedoen om by hul verskaffers seker te maak daar is genoeg voorraad om voorbereidings vir volgende jaar se oes te tref.

Vertragings kan moontlik ook in die vervaardiging van bokse voorkom.

Chadwick sê daar is intussen samesprekings om alternatiewe hawens vir vrugteuitvoere te oorweeg. Daar moet egter daarteen gewaak word om die probleem nou na die hawe in Kaapstad oor te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gawie ·

Sitrusvrugte is anders as sagtevrugte en kan vir ‘n beperkte tydperk aan die bome bly hang

Anel ·

Aangesien Durban nie nie situasie kan hanteer nie, hoekom mag Kaapstadhawe nie gebruik word? Bang Durbanhawe gaan op die ou end toemaak? En vertel vir my hoe oes mens stadiger? As daar geoes moet word, moet daar geoes word. Sonie, word die oes vrot. Ek weet van boerdery niks, maar ek kan my gesonde verstand gebruik. Mens pluk of oes mos nie as iets klaar ryp is vir uitvoer nie?

tweeling ·

Jy moet genoeg fasiliteiete hê om die toename in vrag te kan hanteer.

Martie Smartie ·

Julle weet seker PE en Kaapstad is baie verder van Limpopo en MP af waar sitrus geplan word ne. Kaapstad is die enigste ekonomiese opsie vir Wes Kaapse produsente. Maar hulle behoort Richardsbaai se infraskrtuktuur uit te brei om in te staan vir Durban. Probleem is die N3 voer reguit Durban toe.

Keelvol ·

Jy weet seker daar bestaan n ding soos n vliegtuiens, lughawens.?

tweeling ·

Omdat daar nie sekerheid is of kaapstad hawe die vrag sal kan hanteer nie. Die hawe se tegnologie is oud modies en daar is lankal probleme met vrag hantering. Dis hoekom Saldanha ontwikkel moet word om te help.

Baardman ·

Voorsitter van die vereniging , maar mens kan sien hyt geen ondervinding en kennis van vrugteboerdery nie. Vrugte wag nie om geoes te word nie, as hy ryp is, val hy op die grond. En jy kannie oorryp vrugte pak nie meneer.

Gawie ·

‘n Mens kan sien jy het geen kennis van sitrusboerdery nie. Anders as sagtevrugte

tweeling ·

Nog nooit gesien jy pluk ryp lemoene nie. Gaan doen bietjie oplees werk oor die oes van lemoene (sitrus).

Harley Davidson ·

Waar kry ‘n mens ordentlike lemoene die wat ek kan koop in Pretoria lyk asof dit onder die bome opgetel is stuur vir ons van die uitvoer lemoene sodat ons kinders kan sien hoe regte lemoene lyk.

tweeling ·

En die sleutelbord sitrus kenners het hulle merk gemaak. En net vir kennis daar is al ‘n hele ruk probleme met vrag hantering by Kaapstad hawe.

Elinette ·

Sekerlik nie iets waaraan daar NIKS gedoen kan word nie? Nou is Durban se hawe daarnatoe, is daar dan GEEN ander uitvoer-hawe waarvan daar gebruik gemaak kan word nie, of kan die uitvoerproduk nie binnelands versprei word, sodat ons ook ‘n slag ordentlike vrugte kan kry en nie net die uitskot nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.