Situasie by UV kalm ná betogings

Die Universiteit van die Vrystaat. (Foto: UV/Facebook)

Die situasie op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se drie kampusse was teen Maandagoggend kalm en die akademiese program is soos gewoonlik hervat.

Dit volg ná gewelddadige betogings verlede week op die Bloemfontein-, Suid- en Qwaqwa-kampus van die UV plaasgevind het. Die betogers was meestal studente wat ongelukkig is oor die vertragings in NSFAS-betalings.

Klasse het van Woensdag tot Vrydag aanlyn geskied.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het bevestig dat alle klasse Maandag op die kampusse hervat is.

“Die universiteit kan bevestig dat ʼn groot getal UV-geregistreerde studente wat deur NSFAS gefinansier word – maar ongelukkig was daaroor dat hulle nie hul geld ontvang het nie – Vrydag wel hul toelaes ontvang het,” sê Loader.

(Foto: Uhthred of Ragnarson/Twitter)

Die UV-bestuur het die afgelope paar weke verskeie pogings aangewend om die kampusse oop te hou vir leer en onderrig te midde van uitdagings wat ondervind word met die uitbetaling van studente se NSFAS-betalings deur eZaga, ʼn aanlyn digitale bankdiens, met die taak om direkte betalings aan NSFAS-begunstigdes te doen.

NSFAS het tot einde Junie nog toelaes betaal, maar gebruik sedert einde Julie die aanlyn bankdiens om die gelde aan studente oor te betaal.

Van die sowat 21 000 UV-studente wat NSFAS-toelaes ontvang, is nagenoeg 20 000 se inligting reeds na die nuwe stelsel oorgedra. Die universiteit het gehelp om seker te maak al die studente se inligting word op die nuwe stelsel geplaas. Die universiteit is egter eers Woensdag ingelig dat slegs 11 000 studente se NSFAS-geld betaal is.

Loader sê die universiteit is bewus daarvan dat ʼn klein getal studente nog nie suksesvol by eZaga  geregistreer is nie. “Hierdie studente moet so gou moontlik by eZaga registreer om hul toelaes te ontvang.”

Universiteite Suid-Afrika (USAf) het intussen in ʼn verklaring gevra dat NSFAS en die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovering die direkte betaling van NSFAS-toelaes dringend moet ondersoek en probleme uitstryk.

“Die UV ondersteun die stelling ten volle en is hoopvol dat ʼn vriendskaplike en dringende oplossing vir die saak gevind kan word.”

Die UV se beskermingsdienste en die polisie bly op ʼn hoë gereedheidsgrondslag en monitor die situasie op die drie kampusse. Die nodige sekerheidsmaatreëls is ingestel om die veiligheid van studente en personeel te verseker, sê Loader.

Skade aan die landbougebou op die UV-hoofkampus (Foto: Verskaf)

Prof. Francis Petersen, UV-rektor en -visekanselier, het Donderdag op ʼn aanlyn konferensie die studente, personeellede en lede van die publiek wat geraak is deur die betogings om verskoning gevra. Hy het ook die stakende studente se gedrag veroordeel.

Die polisie het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat altesaam 22 studente in hegtenis geneem is in verband met die betogings.

Vroeër is berig dat studente en personeellede sedert Dinsdag deur betogers aangerand, gedreig en geteister is, terwyl motors en infrastruktuur beskadig is. Groot skade is onder meer aan die hoofgebou van die landboudepartement aangerig, waar betogers vensters uitgegooi het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elizma ·

Die Universiteit moet standpunt inneem en die studente wat die skade aangerig het laat aankla en skors. Mens kan dink dat hulle swig onder druk om ook te staak, maar die skade aanrig los niks op nie, dit kos net op die ou end nog meer geld.

Anel ·

Wat ek nie van die spul kan verstaan nie, is loop verniet klas en word nog betaal ook en om hul dankbaarheid te bewys breek en brand hulle die universiteit af, omdat hulle drinkgeld laat is!!!!!! Ons seun het ‘n lening by die bank moes aangaan om te studeer. En hy het sy meestersgraad met lof geslaag. Hy het verledejaar sy lening afbetaal, met ons hulp. Wie is hulle beter as baie ander BETALENDE STUDENTE!!!!!!

efjy ·

Dit is darem braaf van die studente om alles so af te breek/brand. As hulle egter gevang word sal hulle seker met vermomming in die hof te skyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.