Siviele eise teen polisie méér as sy hele begroting  

(Argieffoto: SA Polisie)

Siviele eise teen die polisie beloop meer as R108 miljard, wat meer is as die departement se totale jaarlikse begroting.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het in sy jongste begrotingsoorsig-en-aanbevelingsverslag, wat saamgestel is ná oorweging van die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) se 2022/’23-jaarverslag, sy kommer uitgespreek oor die toename in die aantal siviele eise.

Volgens die komitee het Bheki Cele, minister van polisie, se departement aangedui dat prosesse aan die gang is om die aantal siviele eise te verminder en om te identifiseer watter polisiestasies die meeste tot siviele eise bydra. Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het aan die komitee gesê dat lyfkameras wat deur polisiebeamptes gedra word, sal help om eise te verminder.

In die 2022/’23-boekjaar is altesaam 12 842 nuwe siviele eise teen die polisie ingedien. Die aantal uitbetalings het tussen 2020/’21 en 2022/’23 met 76,4% toegeneem.

In die 2020/’21-boekjaar is R367,2 miljoen uitbetaal en het dit in die 2021/’22-boekjaar tot R470,4 miljoen toegeneem. Die syfer het in die 2022/’23-boekjaar aansienlik gestyg tot R647,9 miljoen.

Daar is in die afgelope boekjaar altesaam 4 243 betalings, betreffende hofbevele en skikkings, ter waarde van R647,9 miljoen gemaak. Eise rakende onwettige inhegtenisnemings en aanhoudings het R548,7 miljoen hiervan uitgemaak.

Daar was teen die einde van die 2022/’23-boekjaar altesaam 51 085 siviele eise ter waarde van R108,7 miljard teen die polisie. Die waarde van die eise is meer as die totale jaarlikse begroting van die SAPD.

Volgens die verslag het die ouditeur-generaal in haar ouditverslag oor die polisie klem geplaas oor die ondersekerheid wat verband hou met die toekomstige uitkoms van buitengewone litigasie.

“Die SAPD is ʼn verweerder in ʼn aantal regsgedinge. Die uiteindelike uitkoms van hierdie sake kan nie bepaal word nie en geen voorsiening vir enige aanspreeklikheid wat daaruit mag voortspruit, is in die finansiële state gemaak nie. Dit is ʼn herhaalde bevinding en is in die vorige boekjaar ook beklemtoon,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kosie ·

Miskien moet julle ophou dink julle is verhewe bo almal en terugkom grond toe, julle moet besef julle is daar om die publiek te dien en julle is nie die koning se magte wat kan maak soos julle wil nie.

Danie ·

Die Polisie bestuur voel n vere oor siviele eise.Ek dink daar ook bedrog en korrupsie betrokke.En die groot grap is ons die belasting betaler moet opdok.Duidelike teken van onbevoegdheid.

Misky ·

Ek kan nie verstaan dat Bheki Cele nie lankal al in die pad gesteek is nie. Duidelik kan hy nie sy werk doen en polisiemag beheer nie.

Wondermaarnet ·

Dit is mos nie net die staat wat moet opdok nie. Baie van die eise moet die SAP lede self betaal, maar dit sal seker nie gebeur nie.

Ansie ·

Ek glo dat as siviele eise teen die beamptes self ingestel word, daar ‘n ommeswaai sal kom. Hulle moet self verantwoordbaar gemaak word, maar nou word die wetsgehoorsame beladtingbetalers gestraf.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die SAPS bestaan uit los kanonne. Swak aanstellings, met Ceke die swakste. Waar is die dae toe beamptes nog streng gekeur was om offisierskursusse te doen. Om ‘n luitenant te word was baie spesiaal.

Jacobus ·

Indien Cele vir ‘n instelling soos bv ‘n bank gewerk het en daar jaarliks ‘n prestasiebeoordeling moes plaasvind, sou hy dit nie gemaak het nie. Waaraan word ministers gemeet? Indien hulle dan wel onder presteer wat gebeur met hulle?

piper ·

polisielede moet gedwing word om versekering sake te dek. ek moet jaarliks so n versekering vir my beroep uitnee. dit kos my 3000 rand per jaar. gaan kyk n bietjie hoeveel vroue spesialiste jaarliks moet betaal.

Althes ·

Dit is ñ duidelike teken dat die SAPD ñ mislukte organisasie is onder vele base.
Hoe lagwekkend is dit nie dat die Blouligbeamptes se skorsing opgehef is na 60 dae en hul terug is by die werk. Hulle was op video vasgevang waar hul lede van publiek aangerand het.
Watter vertroue moet die publiek hê om misdaad te rapporteer indien daar nie intern opgetree word teen SAPD nie.

domheks ·

Viva cele! jou departement vaar uitstekend net soos jy! OPLEIDING! KOM KORT!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.