Skatkis van ou motors in vergete stoor nou opgeveil

(Foto: Verskaf)

’n Afgeleë stuk grond naby Barkly-Oos in die Oos-Kaap wat onlangs verkoop is, het tot die toevallige ontdekking van een van Suid-Afrika se grootste voertuigversamelings nóg gelei.

Wyle Louis Coetzer, een van die land se grootste voertuigversamelaars, en sy vrou, Hermien, is vroeg in 2020 dood toe hul bakkie by ʼn krans in die Naudésnekpas in die Oos-Kaap afgestort het.

Byna 300 van sy voertuie is later daardie jaar opgeveil en in 2021 het sy drie kinders nog ʼn groot deel van die voertuie verkoop weens die reusetaak om die voertuie te bewaar.

Die Coetzer-versameling het uit meer as 450 voertuie bestaan en onder die klassieke voertuie was talle skaars modelle uit een van die wêreld se grootste private versamelings van Mercedes-voertuie.

(Foto: Verskaf)

Maar dit was voor dié reusevonds verlede jaar in Mei.

Die jongste sogenaamde skuurvonds bring Coetzer se voertuigversameling in die geheel op meer as 600 voertuie te staan, wat dit Suid-Afrika se grootste voertuigversameling ooit maak.

Nadat die Coetzer-kinders ontdek het dat daar skure op die afgeleë stuk grond is wat hulle laat opveil, het hulle besluit dat ʼn skuurinspeksie gedoen moet word “omdat hulle hul pa al te goed geken het”.

Meer as 200 voertuie – wat dekades lank stof staan en opgaar het – is later daar aangetref.

Toe Joff van Reenen, hoofafslaer by Creative Rides Classic & Collectables Auctions, vir die eerste keer by die skuur – die grootte van minstens drie tennisbane – in die Oos-Kaap vol klassieke motors instap, was hy stomgeslaan.

“Dit was ʼn agt maande lange taak om die enorme voertuigvonds wat vir dekades onaangeraak gelê het, te dokumenteer en in 334 lotte te katalogiseer.”

Die voertuie sal vanaf Maandag 25 Maart in ʼn 10 dae lange aanlyn veiling deur Creative Rides Classic & Collectables Auctions opgeveil word.

Kevin Derrick, uitvoerende hoof van Creative Rides Classic & Collectables Auctions, sê die Lost Barn Find Collection-veiling bevat ongeveer 200 motors wat nog nooit van tevore gesien is nie, wat Mercedes‑Benz-, Chevrolet-, Holden-, Ford-, Cadillac-, Alfa-, De Soto-, Porsche- en BMW-voertuie insluit.

“Nog persele wat ontdek is, bestaan ​​uit honderde ander items soos motorenjins van verskeie fabrikate en modelle van vier‑ en sessilinder tot monster V8’s, genoeg klassieke motoronderdele, motorboeke en oorspronklike handleidings om ʼn kleinhandelwinkel in voorraad te hou, asook ʼn wye verskeidenheid oorspronklike onderdele van buffers tot agterligte.”

Van Reenen beskryf die oomblik toe hy die eerste keer in die skuur ingestap het as “surrealisties en verbysterend”.

“Dit het my asem weggeslaan om die ry op ry motors te sien; alles bedek in dekades van onversteurde stof. Ek het lank sprakeloos gestaan.

“Daardie eerste dag het die stof so dik gelê dat ons nie eers die kleure van die voertuie kon raai nie,” sê hy.

(Foto: Verskaf)

“Die Creative Rides-span is uiters dankbaar dat die Coetzer-kinders gekies het om weer hul vertroue in ons te stel en ons was verheug om die uitnodiging te aanvaar om by hulle in Barkly-Oos aan te sluit.”

Derrick sê die ware omvang en wêreldwye betekenis van Coetzer se Lost Barn Collection het kort nadat die reuse-katalogiseringsproses begin het, duidelik geword.

“Ek sou sukkel om ʼn enkele onontdekte, heeltemal onbekende skuurversameling van hierdie grootte te noem wat ooit buite die VSA gevind is. Dis gek; meer as 200 motors!

“Versamelaars weet nie een daarvan nie; hulle was nog nooit in die openbaar te sien nie.”

Van Reenen vertel dat hy ongeveer 10 000 motors of meer in sy 30 jaar lange loopbaan opgeveil het, “maar hierdie veiling is ʼn eerste”.

“Om vir hierdie veiling voor te berei was ʼn reusetaak, maar elke minuut was die moeite werd – om te kan getuig van so ʼn belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van motorversamelaars.”

Van Reenen sê die aanlyn veiling sal op Maandag 25 Maart presies om 08:00 op die Creative Rides-app beskikbaar wees.

“Die app is gratis en op iOS en Android beskikbaar. Die app is die enigste platform waarop ʼn bod aanvaar sal word en die bodgeldeenheid wêreldwyd sal in Suid-Afrikaanse rand wees.

“Liefhebbers van klassieke motors behoort die app gou af te laai, want dit is ook die platformvoorveiling waarop die katalogus gesien kan word.”

Van Reenen sê die Louis Coetzer Lost Barn Find Collection-veiling sal Woensdag 3 April om 20:00 sluit en suksesvolle bieërs sal die volgende dag in kennis gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SjN ·

Tragies dat erfgename nie voortbou en so kom iemand se stokperdjie en lewenspassie tot niet.

KAIROS ·

Alles in die lewe het n tydperk. Daardie motors is nou gelukkig verkoop aan ander versamelaars wat n passie daarvoor het.

Anders was dit steeds in n stoor op verlore plaas

Jacques ·

Hartseer dat die kinders nie die versameling wou hê en daarmee aangaan nie. Ek dink nie kinders besef altyd die passie wat in so versameling ingegaan het nie. En dat die goed meestal onvervangbaar is.

Duck ·

Jip, erfgeld is swerfgeld, pa het jare lank daaraan gewerk om dit passie te maak en die kinders verkoop dit een, twee en drie!

Conrad ·

My Ouma het al my Oupa se ou karre so onder hom uitverkoop jare gelede, en dit is vreeslik hartseer want daardie passie is nou deel van my, en my eerste keer wat ek ooit self gekoop het was ‘n 73 Ford F250 laasjaar.

Pandora ·

Ag genade tog. Ons almal het geweet van oom Louis en sy motor-versameling.
Dit is nie ‘n ontdekking nie – dit was algemene kennis en ons het nogal gewonder wat gaan gebeur met oom Louis se versameling na sy afsterwe.
Dis ‘n biblioteek van voertuig inliging wat saam met hom na die graf is.
Hoop die voertuie kry goeie huise, dalk in museums of so.

Bolandse Nooi ·

@Pandora, die wêreld is groter as Barkly-Oos en omstreke. Die KINDERS van die Oom en Tannie het geweet daar is skure op die grond wat hulle verkoop, maar het nie geweet wát presies in die skure is nie. Glo my, as hulle wel geweet het, sou daardie versameling voertuie LAAAAAANKAL al per veiling verkoop gewees het en sou daardie miljoene in die boedel opgeneem gewees het.

Karoo ·

Ek hoop maar dat die Coetzer familie en die erfgename watnou hande vryf se belasting sake op datum is….

Delia ·

Jou ouers se passie is nie altyd jou passie en dis mos ok ook. Elke kind het mos die reg om te besluit wat hy wil versamel.
Dis in elk geval net aardse goeters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.