Skerp styging in bydraes vir mediese fondse

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Verbruikers wat reeds onder druk is, sal hulle ook moet staal vir skerp stygings in mediesefondsbydraes.

Discovery, Suid-Afrika se grootste mediese fonds, se geweegde gemiddelde verhoging vir alle planne is 7,5% vir volgende jaar. Die geweegde gemiddelde prysstyging vir lede van die Bonitas-fonds is 6,9%.

Discovery

Discovery sê bydraes wat tot dié fonds gemaak word, is gemiddeld 12,3% meer bekostigbaar as dié van vergelykbare mediese fondse en dat ʼn balans tussen bekostigbaarheid en langtermynvolhoubaarheid in die aanpassings gevind moes word.

“Hoewel die langtermynvolhoubaarheid van die Discovery- mediese fonds die vernaamste is, is ons uiters gevoelig vir die ekonomiese omgewing en bekostigbaarheidsdruk waaronder fondslede tans verkeer,” sê dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van Discovery Health.

Noach sê uitdagende ekonomiese omstandighede word tipies verteenwoordig deur hoër rentekoerse en laer besteebare inkomste. Wanneer finansiële tye veral taai is, prioritiseer diegene met ʼn onmiddellike behoefte aan gesondheidsorg hul lidmaatskap van ʼn mediese fonds.

“Gesonder lede wat onder dieselfde druk verkeer, prioritiseer ander noodsaaklikhede, terwyl diegene wat nie lid is van ʼn mediese fonds nie tipies steeds geen dekking het nie en dit ook nie aankoop nie,” sê hy.

Die 2024-stygings is gegrond op mediese inflasie (wat gewoonlik hoër is as verbruikersinflasie) en daar is verskillende stygings vir verskillende van Discovery se planne. Stygings wissel tussen 3% en 12,9% (met ʼn gemiddelde verhoging van 7,5%).

Altesame 39% van Discovery-lede se verhoging sal minder as 4% van hul bruto bydraes wees en nog 34% van lede sal ʼn verhoging van tussen 5% en 10% ondervind.

Só styg Discovery-premies:

  • Executive: 12,9%
  • Comprehensive (Classic Smart Comprehensive uitgesluit): 11,9%
  • Priority: 9,9%
  • Classic Saver (Delta en nie-Delta): 3%
  • Essential Saver (Delta en nie-Delta): 3,8%
  • Coastal Saver: 6,3%
  • Core: 9,9%
  • Coastal Core: 12,9%
  • Smart: 8,9%
  • KeyCare Plus: 10,9%
  • KeyCare (KeyCare Plus uitgesluit): 9,9%

Bonitas

Bonitas sê hy het oor die afgelope jaar indiepte-navorsing gedoen, wat insluit gesprekke met sy belanghebbendes, aktuariële ontledings en projeksies om te kyk hoe die fonds sy voordele kan verbeter.

Lee Callakoppen, hoofbestuurder van Bonitas, sê volgende jaar is die fonds se geweegde toename in premies 6,9%, terwyl die gemiddelde verhoging oor nege van die fonds se planne op 6% te staan kom.

Dit beteken dat meer as 227 000 lede – ongeveer 65% van Bonitas se ledetal – ʼn toename minder as inflasie sal ervaar.

“Ons besef dat baie van ons lede, en Suid-Afrikaners in die algemeen, onderhewig is aan toenemende finansiële druk. Om hierdie rede het ons groot sorg geneem om ons voordele-verbeterings te balanseer ten einde waarde aan ons lede te bied, terwyl ons steeds verseker dat bydraes bekostigbaar bly,” sê Callakoppen.

“Ons span aktuarisse wat die minimum toename wat nodig is teen die finansiële volhoubaarheid van die skema afspeel, het die persentasie-toename wat nodig is metodologies bereken, terwyl regulatoriese riglyne en vereistes nagekom word.

“Dis ʼn delikate balanseertoertjie,” sê Callakoppen.

Bonitas het ook terugvoer van meer as 10 000 van sy lede ontleed en navorsing gedoen oor internasionale gesondheidsorgriglyne en neigings, asook die voorkoms van siekteladings in Suid-Afrika.

Gevolglik het die fonds “getrou gebly aan ons uiteindelike verbintenis om meer waarde aan lede te bied deur uit-die-sak-uitgawes te verminder, voordele te verbeter, en bykomende voorkomende en bestuurde sorg te bied”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sandra ·

Ai, ai. In die huidge tye kan jy nie sonder ‘n mediese fonds klaarkom nie, Ek ly aan ‘n siekte en my medikasie is bitter duur. My Medies betaal 100% en is ek geweldig dankbaar. Ek sou dit nie self kon dra nie. Ek weet net nie hoe ek sulke verhogings sal kan verwerk nie, jou salaris gaan net so ver

Iwan ·

Bose kringloop.

Hoe duurder hoe meer kan dit net nie meer bekostig nie. Hoe minder lede wat bydra hoe duurder word dit vir die paar wat steeds n lid is.

Hulle gaan letterlik net vir die aller rykes cater.

Elma ·

Net soos elektrisiteit. Hoe meer ons spaar met verbruik, hoe minder inkomste kry Eskom, hoe hoër stoot hulle die tariewe en so gaan dit aan.

marius ·

Kan dit eenvoudig nie meer bekostig. Staatshospitale is ‘n nagmerrie. Uitgelewer .

Linda ·

Marius, ek is ook uitgelewer aan die Staatshopitale nadat my werkgewer gesluit het en ek dus my inkomste verloor het na 40 jaar se bydra’s. Dit is buite baie van ons se beheer.

Oupa Avril ·

Discovery, het n baie groot wins gewys die vorige boekjaar. Wil voorkom of hulle net winsbejag .maatskappy is.

Willem ·

Ja ek sal so dink dat hulle wins jaag.Dit is die doel van enige besigheid. Hulle is nie ‘n liefdadigheids organisasie nie.

SwartBees ·

Soos enige skema maak hulle eers hulle eie sakke vol en die bietjie wat nie meer kan in gaan nie word aan die lede bestee.

Sobymykoolkop ·

Hierdie ouens wys elke jaar miljoene der miljoene wins. Wil vir my lyk of hulle gretig saam die regering werk om NGV so gou doenlik in te stel. Dis soos ons vuisvoos belastingbetalers. Omdat mense in strepe mediese fondse verlaat moet hulle die origes melk terwyl hulle kan. Mens MOET dan maar elke jaar sorg dat al jou vondse uitgeput is teen einde Desember

Karoo ·

Soos die Engelsman se… Damed if you do…. damed if you dont. En hulle weet dit, hulle sal ons “afpers” vir ons laaste sente todat alle medies Nasionaal is, dan, al wie iets het is die aandeelhouers.

Kwikkie12 ·

Privaat mediesesorg is besig om hand uit te ruk! Almal is bang vir NGV maar as dit so aangaan sal slegs ‘n klein persentasie van werkende mense in elk geval medies kan bekostig? Is hierdie voordeel nou net vir “welgestelde” mense beskikbaar?! Die regering gee niks om vir die middel klas nie, dink net aan die wat “grants” kry vir hulle stemme en aan hulle self wat aan niks te kort het nie!

Danie ·

Ek het nou al vir 9jaar nie meer n fonds nie want dit het net te duur geword. My vrou het nog n fonds maar ek het gevind dat of jy nou n fonds het of nie dat mediese dienste maar swak is by sekere staats en privaat hospitale. My seun moes n operasie kry aan sy knieg en die privaat hospitaal se koste was R74000 ek het hom toe na Charlotte Maseko gevat en daar was die koste R140 en die beste van als die dokter wat sou opereer vir R74000 se vennoot het die operasie gedoen in die staats hospitaal vir R140 suksesvol.

melaney ·

Hierdie week was ek in ‘n dag hospitaal vir ‘n klein operasie wat 30 minute in teater geneem het. In totaal was ek 4 uur in die hospitaal. Rekening R41k. Daar is groot fout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.