Skietdood van amptenaar dalk sluipmoord

Babita Deokaran.

’n Beroep is op die polisie gedoen om spoedig vas te stel of die skietdood van ’n senior finansiële beampte van die Gautengse gesondheidsdepartement ’n sluipmoord was aangesien sy ’n getuie was in ’n ondersoek na bedrog in die departement.

Babita Deokaran (53) is kort na 08:00 Maandagoggend buite haar huis in Mondeor in die suide van Johannesburg doodgeskiet nadat sy haar kind by die skool afgelaai het.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), het bevestig dat Deokaran ’n getuie was in hul ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting in die departement. Die SOE het ’n beroep op die polisie gedoen om die motief vir die moord vas te stel en gesê hy sal sy samewerking in die ondersoek gee. Kganyago het gesê die moord op Deokaran kan nie in die stadium aan die bedrogondersoek verbind word nie.

Die DA is egter van mening dat dit moontlik ’n sluipmoordaanval was in ’n poging om Deokaran te verhoed om te getuig in die ondersoek. Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het gesê sy party sal druk toepas ten einde ’n spoedige ondersoek op hoë vlak te verseker sodat Deokaran se moordenaar(s) opgespoor kan word.

David Makhura, premier van Gauteng, en die LUR’e vir gesondheid en gemeenskapsveiligheid, het Deokaran se familie gister besoek.

Deokaran is in Augustus verlede jaar as waarnemende finansiële hoof aangestel nadat die beweerde onreëlmatige en onwettige verkryging van persoonlike beskermende toerusting deur die departement aan die lig gekom het.

Volgens Makhura het Deokaran in die tyd korrupsie blootgelê en verhoed dat betalings geskied vir onreëlmatige kontrakte. “Deokaran het met haar pligsgetroue en dapper leierskap deurslaggewende bewyse gelewer in die dissiplinêre prosesse wat deur die kantoor van die premier gedoen is sowel as die SOE se ondersoek.

“Haar ferm optrede het tot suksesvolle afdankings binne die departement gelei sowel as die instel van siviele eise om openbare fondse terug te kry van ondernemings en regeringsamptenare wat verantwoordelik was vir wangedrag en korrupsie.”

Makhura het gesê ’n toegewyde provinsiale polisietaakspan is op die been gebring om Deokaran se moordenaar(s) op te spoor.

“Ons sal ter nagedagtenis aan Deokaran alles in ons vermoë doen om te verseker dat diegene wat by korrupte tenderprosesse en die moord op amptenare betrokke is deur die volle mag van die gereg in die gesig gestaar word.

“Ons sal nie deur kriminele bendes geboelie word wat staatsbronne wil buit nie. Ons doen stappe om amptenare te beskerm wat die teiken geword het van dreigemente, intimidasie en moord,” het Makhura gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JM ·

Ons land het ‘n misdaadhool geword! ‘n Mens het nie meer woorde nie.

Harry ·

Net wanneer ek wil begin lag oor hoe korrupsie in ons land hanteer word gebeur so iets. Hoekom moes sy met haar lewe boet omdat sy met integriteit handel? Bitter teleurgesteld in die misbruik van mag.

Ilze ·

Jaaa. Nie dalk n sluipmoord nie. BeSLIS ene. Mense wat die waarheid praat in DIE tyd-hulle is in die moeilikheid.

Keith ·

“… doen stappe om amptenare te beskerm….” . Ja sure.

ES ·

Sommer vermoor nadat sy haar kind by die skool afgelaai het… dit laat my dink aan daardie rekenmeester Lawrence Moepi (SizweNtsabulaGobodo Inc) wat bedrog in die Skerpioene ondersoek het so paar jaar gelede wat sommer by sy kantore se parkeerarea, in sy motor terreggestel was.

Soos die Engelse slagspreek: “No good deed goes unpunished”.

Flower Girl ·

Ek hoop net die regte mense is aangestel vir die taakspan en nie mense wat bewyse en dokumente gaan laat verdwyn nie. Dat dit jou lewe moet kos as jy reg wil laat geskiet.

Flower Girl ·

Ek hoop net die regte mense is aangestel vir die taakspan en nie mense wat bewyse en dokumente gaan laat verdwyn nie.

Casper ·

Dit is voor die hand liggende dat dit ‘n sluipmoordaanval was wat deur van die skurke beplan is.

Swerwer ·

Presies, almal weet wie is in beheer van die land en weet dat daar nie meer geregtigheid bestaan nie.

#013 ·

Die SAPS kan nie eers 1.6km ry om my en my dogter te help wat in ons erf deur mense aangeval word nie, hoe gaan hulle moordenaars vang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.