Skikking oor Weskus-mynregte bereik

Die Olifantsriviermond aan die Weskus word nou ingevolge ‘n wetlik bindende skikkingsooreenkoms teen diamantontginning beskerm (Foto: John Yeld/GroundUp)

Deur John Yeld, GroundUp

ʼn Skikkingsooreenkoms is tussen ‘n diamantmynmaatskappy aan die Weskus, ʼn omgewingsdrukgroep en plaaslike vissersgemeenskappe bereik.

Luidens die skikkingsooreenkoms sal belangrike bewaringsgebiede aan die Weskus – veral die Olifantsriviermond en verskeie ander klein gebiede van belangrike biodiversiteit – nie in die toekoms aan die diamantmynmaatskappy Trans Hex-groep, die hoofrespondent in hierdie saak, onderwerp word nie.

Die ooreenkoms verseker ook dat die maatskappy se toekomstige bedrywighede ingevolge bygewerkte omgewingsbestuursprogramme uitgevoer sal word.

Die skikking is buite die hof bereik, ure voordat dié partye ʼn lang en baie duur litigasieproses in die hooggeregshof in Kaapstad sou begin.

Maroela Media het vroeër berig die applikante in die saak – die omgewingsdrukgroep Protect the West Coast, twee kleinskaalse vissersgroepe van Doringbaai en die Olifantsriviermond, en twee individuele vissers van Doringbaai – het hulle tot die hof gewend om die hernuwing van die mynregte te betwis.

Die regte, wat oorspronklik in 1990 aan die groep toegeken is, is vroeër deur die regering tot die volgende 30 jaar verleng.

Die applikante in die saak voer aan hulle is nie ingelig oor die hernuwings nie en het ook nie die geleentheid gehad om kommentaar te lewer daarop nie. Hulle is van mening dat hulle ook geïgnoreer is toe die oorspronklike regte tussen 1994 en 1998 aan die maatskappy toegeken is.

Die skikkingsooreenkoms het egter ʼn stokkie gesteek voor ʼn aansoek om ʼn interdik wat diamantmynbedrywighede staak, hangende wetlike oorwegings oor die betrokke mynregte. Dit beteken dat die legitimiteit van die regering se omstrede toekenning van 30-jaar-verlenings aan mynregte, sonder enige openbare deelname of kennisgewing, vir eers nie betwis kan word nie.

Belangrike punte in die skikkingsooreenkoms sluit in:

  • Die Trans Hex-groep en sy kontrakteurs word verbied om mynbou-aktiwiteite vir 2,8 km van die Olifantsriviermond aan die kus uit te voer.
  • Geen strand- of kus-mynbou sal in drie ander bewaringswaardige gebiede plaasvind nie: ʼn 11 km-strook vanaf die Olifantsriviermond tot suid van Strandfontein en twee strandgedeeltes noord van die rivier.
  • Die Trans Hex-groep sal – sover redelik uitvoerbaar – binne ses maande by die departement van minerale hulpbronne en energie aansoek doen om bestaande en goedgekeurde omgewingsbestuursprogramme, wat van 2003 dateer, by te werk, te wysig en te konsolideer. Dit sal geld vir sy drie seegebaseerde Weskus-diamantmynkonsessies wat ooreenstemmende brander- en strandsones insluit.
  • Indien hierdie aansoek suksesvol is, kan die applikante, plaaslike gemeenskappe, BirdLife Suid-Afrika-bewaringsgroep, en die twee plaaslike munisipaliteite kommentaar lewer op en aanbevelings maak in die goedkeuringsproses.
  • Die aangepaste omgewingsbestuursprogramme sal die kumulatiewe uitwerking van die Trans Hex-groep se bedrywighede evalueer, asook enige potensiële invloed van sulke bedrywighede op klimaatsverandering uitwys.
  • Die maatskappy se diamantmynbedrywighede sal onderhewig wees aan tot vier jaarlikse inspeksies deur verteenwoordigers van die applikante.
  • Deur spesialisstudies sal ander potensiële gebiede in die streek van die Olifantsriviermond wat nie gunstig vir mynbou is nie, beoordeel word.
  • Die Trans Hex-groep moet afsonderlik die uitwerkings en versagtingsmaatreëls identifiseer wat vir sy mynboubedrywighede benodig word.
  • Die statutêre vereistes vir mynsluitingsplanne en finansiering vir sulke planne moet deel wees van die aansoek om hersiene omgewingsbestuursprogramme.
  • Nadat sy aansoek by die departement ingedien is, moet die Trans Hex-groep verseker dat enige vereiste openbaredeelnameproses “sinvolle en voldoende” betrokkenheid deur benadeelde kusgemeenskappe insluit, waaronder die Doringbaai- en Olifantsrivier- kleinskaalse vissersgemeenskappe.

Omgewingskenners verwelkom ooreenkoms

Protect the West Coast het die skikkingsooreenkoms verwelkom, maar gewaarsku dat die ooreenkoms net een stap is om behoorlik gereguleerde mynbou langs die Weskus te verseker.

“Hoewel hierdie uitslag beslis ʼn oorwinning is, is dit net een klein stryd wat gewen is in die voortslepende oorlog teen onvoldoende gereguleerde mynbou aan die Weskus. Daar is nog baie werk om te doen en die stryd teen onwettige mynbou aan die Weskus is nog lank nie verby nie,” sê Mike Schlebach, Protect the West Coast se besturende direkteur.

“Maar hierdie oorwinning het ons gewys wat moontlik is in ons doelwit om die Weskus namens sy gemeenskappe, asook sy flora en fauna te beskerm.”

Marco Wentzel, uitvoerende hoof van die Trans Hex-groep, het in sy reaksie gesê die skikking maak dit “nogal duidelik” dat die applikante nie hul hoofdoelwit bereik het nie, omdat die maatskappy se mynboubedrywighede voortgaan en sy mynregte steeds van krag is.

“Ons glo die skikking het ontstaan uit ʼn behoefte vir die applikante om ʼn ongunstige vonnis en kostebevel te vermy, vandaar die skikkingsvoorwaardes wat Trans Hex se voortgesette bedrywighede bevoordeel,” sê Wentzel.

“Die maatskappy het reeds begin om sy omgewingsbestuursprogramme te hersien voordat die saak begin het, en hy sal nou weer sy aandag daarop vestig om hierdie proses te voltooi binne die tydsraamwerke wat in die hofbevel voorgeskryf word.

“Trans Hex hou vol dat sy bedrywighede wettig was en steeds is en, nog belangriker, steeds tot voordeel van die plaaslike gemeenskap en kontrakteurs in ʼn gebied met yl ekonomiese aktiwiteit en werksgeleenthede bly.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.