Skool vereer oudrugbylegende

(Foto: Verskaf)

Hoërskool Bellville het sy 86ste verjaarsdag gevier en sy alumni wat doktorsgrade het, vereer toe ʼn baie unieke Akademiese Gedenktuin by die skool geopen is.

Die voormalige Springbok-rugbykaptein en oudminister dr. Dawie de Villiers is een van die groot name wat vereer is.

Dawie de Villiers (Foto: SARugby)

De Villiers is in April verlede jaar in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

De Villiers het tussen 1962 en 1970 vir die Springbokke uitgedraf. Hy was tussen 1965 en 1970 die span se kaptein. Hy het ná sy rugbyloopbaan die politiek betree en het die Nasionale Party in die parlement verteenwoordig.

De Villiers was ook hoofseun aan die skool in 1958.

Sy vrou, Suzaan, het namens hom die opening van die Akademiese Gedenktuin bygewoon. Sy was ook die skool se hoofmeisie in 1957.

Groepfoto van alumni en gades met die opening van die gedenktuin (Foto: Verskaf)

Sowat 30 alumni, die skool se meer as 1 200 leerders en orkes het Woensdag die skool se verjaarsdag gevier en die opening van die eerste fase van die Akademiese Gedenktuin bygewoon.

Afgesien van De Villiers is prof. Erwin Schwella, bekende in politieke kringe, en prof. Ronel Foster, bekende digter onder die naam Ronel de Goede, nog bekende name wat vereer is.

Schwella het in 1992 ʼn professor aan die Universiteit Stellenbosch (US) geword waar hy nou ʼn emeritus professor in Openbare Leierskap is. Tans is Erwin Schwella die stigtersdekaan van die nuutgestigte Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege.

Ronel Foster het van 1987 tot 2014 Afrikaanse poësie en prosa, resensiekunde en vergelykende poësiestudie (Afrikaans en Nederlands) aan die US studeer. Sy was hoofmeisie in 1966.

Oudleerder Johan Ras, wat in 2005 aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer het, het die Akademiese Gedenktuin vir die skool ontwerp.

Die opening van die gedenktuin (Foto: Verskaf)

Volgens Hannelie van Lill, woordvoerder van Hoërskool Bellville, het die skool besluit om nie sy alumni op die tradisionele wyse van foto’s teen ʼn muur te vereer nie, maar eerder deur ʼn lewende monument in die buitelug van die skoolterrein op te rig.

“Op hierdie manier kan besoekers, ouers, leerders en alumni, wanneer hulle op die skool se skoolterrein rondbeweeg, deurentyd die wonder van uitnemendheid beleef,” sê Van Lill.

“Die Hoërskool Bellville het ʼn visie gehad om aan sy akademies suksesvolle alumni se prestasies ʼn permanente staanplek op die skoolterrein te gee, sodat dit as aansporing kan dien vir vele geslagte van Bellville-Leeus wat nog hul skoolloopbaan by die Hoërskool Bellville gaan voltooi,” sê die skoolhoof, Deon du Plessis.

Die opening van die gedenktuin (Foto: Verskaf)

“Hierdie visie moes egter in ʼn visuele model omgeskakel word en daarvoor het jy ʼn argitek van formaat nodig.”

Alle oudleerders wat doktorsgrade verwerf het, se name gaan op pilare aangebring word wat in ʼn sirkelformaat in die Akademiese Gedenktuin opgerig word. Daar sal ook ʼn QR-kode by elkeen se naam op die pilare wees wat jou na inligting van die oudleerder en sy proefskrif sal neem wanneer jy daarop klik. Die gebied sal ook dien as ʼn ontspanningsterrein waar leerders tydens pouse en ná skool kan kuier.

Die skool se Vlam van Herinnering is ook volgens tradisie as deel van die verjaarsdagvieringe aan die brand gesteek deur een van die onderwysers wat reeds 50 jaar in die onderwys is. Maralyn Burger, wat verbruikerstudie aanbied, het in 1973 begin skoolhou en 40 jaar gelede by die Hoërskool Bellville aangesluit.

Die projek om alumni se besonderhede en akademiese inligting vir die Akademiese Gedenktuin in te win, is reeds ʼn jaar gelede deur die skool begin. Die projek duur voort totdat alle oudleerders wat sedert die skool se ontstaan in 1937 hul doktorsgrade verwerf het, se name en inligting in die tuin geplaas is.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.