Skoolgemeenskappe op oorlogspad oor ‘dreigbrief’

(Foto: Pixabay)

Skole in Gauteng het vandeesweek al ’n voorsmaak gekry van wat verwag kan word wanneer die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (Bela) bepaalde magte in die hande van onderwyshoofde plaas.

Talle topskole in Gauteng het briewe vanaf die Gautengse departement van onderwys ontvang, waarin hulle ingelig is dat die skool onder kapasiteit is wat die aantal leerders betref en dat hulle volgende jaar bykomende gr. 1 en gr. 8-leerders sal moet inneem.

Skole sê egter onafhanklike kapasiteitsbepaling het aangedui dat hulle reeds die maksimum getal leerders inneem en dat enige bykomende getalle ernstige gevolge vir leerders se veiligheid en die gehalte van onderrig sal inhou.

“Die [departement se] bepaling van kapasiteit is heeltemal arbitrêr. Daar is geen redes gegee of ’n uiteensetting van hoe die amptenare hierdie berekening gemaak het nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

Luidens ‘n brief aan een van Fedsas se lidskole, ‘n vooruistrewende Engelse skool in Pretoria, is die skool kwansuis net 56% vol en moet amper 200 bykomende gr.8-leerders inneem. Die skool akkomodeer reeds 1505 leerders, maar die departement meen 2703 kan hier skoolgaan.

Jaco Deacon van Fedsas spreek sy kommer uit (Foto: Reint Dykema)

In ’n brief aan nog ’n Gautengse hoërskool, wat Maroela Media gesien het, beweer die departement die skool gebruik tans net 69% van sy kapasiteit (833 uit 1200 plekke) en dat die departement van die skool verwag om 35 leerders in elke gr. 8-klas te plaas.

“Dit sal verseker dat die skool oor die volgende vyf jaar sy volle kapasiteit bereik,” lui die brief. “Daarom,” skryf die departement, “sal ’n bykomende 18 gr. 8-leerders by dié skool geplaas word.”

Ouers en voogde word Maandag (4 September 2023) deur die Gautengse onderwysdepartement per SMS ingelig oor hul kinders se skoolplasings vir volgende jaar. “Nie net sal dit chaos veroorsaak wanneer kinders in skole geplaas word wat hulle nie kan hanteer nie, maar dit skep ook verwagtinge by ouers, voogde en leerders waaraan daar uiteindelik nie voldoen sal kan word nie,” sê Deacon.

In die lig hiervan het Fedsas ’n dringende brief aan die Gautengse onderwysdepartement gestuur waarin die hele bepaling van kapasiteit in geskil geplaas word. “Ons soek dringend ’n onderneming dat geen boodskappe op 4 September 2023 aan ouers en voogde gestuur sal word nie. Trouens, geen kommunikasie oor plasings mag plaasvind voordat die geskil oor kapasiteit nie opgelos is nie. Indien Fedsas nie so ’n onderneming van die provinsiale departement kry nie, sal die organisasie namens sy lede ’n dringende aansoek voor die hof bring.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook aangedui dat hy bereid is om die hof te nader om die saak te besleg.

Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf.)

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die brief is oorwegend aan hoërskole gestuur en dan ook aan van die provinsie se beste skole, wat jaarliks honderde meer aansoeke ontvang as wat hulle kan inneem.

“Die Gautengse departement van onderwys probeer deur dreigbriewe plek skep in skole wat nie bestaan nie en oor die afgelope 20 jaar nié deur die regering toegevoeg is nie.”

Volgens Buys bring hierdie oorbevolking leerders se veiligheid in gedrang en benadeel dit veral die gehalte van onderrig wat aangebied word. “Hierdie optrede probeer jare lange wanprestasie van die regerende party toesmeer en is geensins opvoedkundig verantwoordbaar nie. Die departement sal direk verantwoordelik gehou word vir die minagting van bouregulasies en veiligheidsvoorskrifte.”

Deacon sê hierdie eensydige optrede deur die provinsiale onderwysdepartement bring nou die onderliggende politieke agenda met Bela duidelik na vore.

Fedsas het in sy voorlegging oor Bela aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys uitgewys dat duidelike riglyne vir kapasiteitsbepaling ’n gebrek in die voorgestelde wysigings is. Die bestaande gebrek aan behoorlike norme en standaarde vir kapasiteitsbepaling is ook reeds deur die Konstitusionele Hof bevestig. Fedsas het ook ’n gedetailleerde voorstel vir kapasiteitsbepaling saam met sy geskrewe voorlegging aan die portefeuljekomitee ingedien.

“Vir jare al wys Fedsas die onderwysdepartement daarop dat daar nie genoeg skole in die provinsie gebou word nie. Geen ag word hierop geslaan nie en nou is daar eenvoudig net nie genoeg skole in die provinsie nie. Die departement se oplossing hiervoor is om die probleem af te skuif op skole en veral skole wat goed funksioneer.”

Buys sê ook wanfunksionele skole in Gauteng veroorsaak dat ouers nie hul kinders in skole naaste aan die huis wil plaas nie, maar probeer om plek in funksionele skole te kry.

“Wanfunksionele skole word nie aanspreeklik gehou of reggeruk nie, maar druk word op goeie skole geplaas om net nog meer leerders in te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wondermaarnet ·

Dit is absoluut belaglik. Die mense gaan hopeli die skoolfonds ten volle betaal.

Amelia ·

Wanfunksionele skole se kinders kom dus na skole wat funksuneer hoe lank gaan die skole hou kort kort is daar probleme bv mt kinders se hare wat nie skool se reels wil na kom nie dit gaan n baie onaangename plek vir almal word Ek weet pretoria noord het n probleem dat daar nie genoeg skole is nie waarom word daar nie nog skole gebou nie vat die geld wat minister van onderwys die skole mee besoek Om watter rede ookal) en bou skole

Dana ·

Daar word blykbaar ‘n nuwe laerskool gebou in Pretoria Noord, reg oorkant Danie Malan Laerskool

Francie ·

Interessant hoeveel skole afgebrand of vandaliseer word. Ek reken die probleem sou vandag veel kleiner gewees het as gevestigde skole nie so deurgeloop het nie.

Frank ·

Die regering self verskaf BAIE ammunisie wat as bewys kan dien van die te min skole ramp so kan dit nie gebruik word om die regering met hofbevel te dwing om hulle grondwetlike plig na te kom nie? Dit sal die bal wat hulle na skole gooi terugneuk na hulle toe soos dit behoort te wees.

Casper ·

Met ander woorde skole word gedwing om reeds oorvol klaskamers verder onder druk te plaas.Dit is dus skole waar daar op alle gebiede presteer word.Dit gaan beteken onder presterende skole gaan leeg loop en presterende skole se prestasies gaan verswak.Wie het dit begin,Die huidige premier Panyaza Lefufi.Iemand kan nie wiskunde doen nie.

Nonnie ·

Dis net weereens ‘n bewys van die ONGELETTERDHEID VAN DIE ANC…Hulle gee nie ‘n flenter om vir die toekoms van hierdie land nie, en die kinders word misbruik daar voor.

Marius ·

Hoekom bou hulke nie skole nie. Nou neem hulle net oor… Regte klomp parasiete… Teer op ander…

Ronél ·

Die cANCer wil alweer insypel om die laaste goeie onderrigginstasies ook in hulle sak te kry.

Bolandse Nooi ·

Net soos Zuma, kan die Dept. van Onderwys (Gauteng) nie somme doen nie. “Die skool akkomodeer reeds 1505 leerders, maar die departement meen 2703 kan hier skoolgaan” – dus EEN DUISEND EENHONDERD AGT-EN-NEGENTIG (nie TWEE HONDERD nie) meer leerders moet geakkommodeer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.