Skoolgroep by oord gestrand ná rivier oorstroom

Die Kango-bergoord. (Foto: Greater Oudtshoorn Municipality/Facebook)

Die onlangse wydverspreide oorstromings in die Wes-Kaap het nie net talle mense dakloos gelaat nie, maar ook mense gestrand gelaat met geen manier vir reddingswerkers om by hulle uit te kom nie.

Dit is presies wat met ʼn skoolgroep gebeur het wat die afgelope langnaweek by ʼn oord deurgebring het en nou daar vasgekeer is.

Die Oudtshoorn- plaaslike munisipaliteit sê ʼn groep van 72 skoliere en tien volwassenes van die Laerskool Aliwal‑Noord in die Oos-Kaap is by die Kango-bergoord naby Oudtshoorn vasgekeer.

“Die swaar reën het veroorsaak dat die Le Roux-rivier, wat deur die oord vloei, oorstroom het en dit veroorsaak nou dat die groep in die oord vasgekeer is,” sê die munisipaliteit.

Die massa water wat uit die Raubenheimerdam se oorloop loop, loop deur die Kango-bergoord. ʼn Ent verder sluit hierdie water aan by die Grobbelaarsrivier wat ook sterk loop en reeds brûe in die dorp oorstroom het.

Die deel van die oord waar die skoliere en volwassenes vasgekeer. (Foto: Greater Oudtshoorn Municipality/Facebook)

Daar is Dinsdag gereël dat ʼn helikopter ʼn verskeidenheid kos en drinkgoed vir die gestrande groep aflewer.

“Die helikopter is op bystand om noodsaaklikhede vir die skoolkinders en volwassenes af te lewer totdat die vloedwater terugtrek en die paaie weer begaanbaar word,” sê die munisipaliteit.

“Gelukkig is niemand in hierdie stadium beseer nie, en almal blyk gesond te wees.”

Die munisipaliteit se rampbestuurspan het onderneem om die stand van sake te monitor en te verseker dat die skoliere en hul onderwysers weer veilig tuis kom.

Indien die weer dit toelaat en dit ophou reën, behoort die groep Woensdag veilig oor die rivier te kan gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Solank hulle veilig is. Heerlike avontuur en stories om oor te vertel en sommer eendag vir die kinders en kleinkinders ook. Geniet julle avontuur. Seker julle is goed versorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.