Skoolhoofde ‘gedwing’ om onderwysassistente te betaal

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Skoolhoofde in die Oos-Kaap word nou skynbaar gedwing om die salarisse van duisende skoolassistente te betaal nadat die onderwysdepartement glo reeds maande lank nie dié jongmense se beloofde salarisse betaal nie.

Dié assistente is deur die departement aangestel as deel van pres. Cyril Ramaphosa se indiensnemingsinisiatief (BEEI) om werkloosheid wat weens die Covid-19-pandemie opgejaag is, teë te werk. Hulle wag egter steeds op hul geld.

Die onderwysdepartement in Limpopo het reeds verlede maand van skoolhoofde in dié provinsie verwag om skole se geld te gebruik om die derduisende jongmense te betaal.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dit is die gevolg van die administratiewe onbevoegdheid van verskeie provinsiale onderwysdepartemente.

Volgens hom word skoolhoofde nou gedwing om die wet te oortree in ʼn poging om betalings deur te voer. Ingevolge die Skolewet mag skole geen lenings toestaan nie.

“Dít is ʼn klassieke voorbeeld van ‘steel by die een om die ander te betaal’, met jongmense as die slagoffers aan weerskante,” sê hy.

“Skole is reeds onderbefonds, maar word nou gedwing om die betalings te doen sodat die staat sy belofte van tydelike indiensneming aan jong skoolverlaters kan nakom. Sodoende word die toekoms van die volgende generasie skoolverlaters onder druk geplaas. Dit vererger die bose kringloop van werkloosheid en armoede.”

In ʼn verklaring wat onlangs deur die Oos-Kaapse onderwysdepartement uitgereik is, sê hy dat hy “ʼn groot risiko waag deur skole toe te laat om die betalings te verwerk”. Fedsas meen egter dat die departement geen erkenning verleen aan die groter risiko wat skole nou moet waag nie.

“Openbare skole is afsonderlike regsentiteite en die Skolewet bemagtig beheerliggame om slegs bepaalde betalings goed te keur. ʼn Beheerliggaam mag geen ander betaling goedkeur nie, veral as daar nie begroot is vir daardie betalings nie.”

Deacon sê net soos in Limpopo is skoolhoofde in die Oos-Kaap nou in ʼn onhoudbare posisie.

“Indien hulle nie die staat se tydelike werkers betaal nie, ignoreer hulle ʼn direkte opdrag van hul werkgewer. Betaal hulle wel die tydelike werkers, oortree hulle die wet.”

Deacon sê Fedsas deel die frustrasie van die jongmense wat vir hul betaling wag, asook die jongmense wat hul nuwe skooljaar sonder handboeke en skryfbehoeftes in skoolgeboue sonder water en elektrisiteit moet aanpak.

“Die gemene deler bly die onbevoegdheid van provinsiale staatsamptenare.”

Fedsas het opnuut ʼn beroep op pres. Ramaphosa en Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, gedoen om kennis te neem van hierdie verwikkelinge en sodanig op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.