Skoolplasings vir gr. 1’s, gr. 8’s nou eers láter gedoen

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Gautengse onderwysdepartement het die datum waarop hy met die plasing van gr. 1- en gr. 8-leerders by skole sou begin tot 18 September uitgestel.

Die proses sou aanvanklik al môre begin het.

Die departement sê in ʼn verklaring ouers van leerders wat hul dokumente ingedien het, moet nou eers ná 18 September ʼn aanbieding van ʼn plasing by ʼn skool verwag. SMS’e daaroor word tot 31 Oktober uitgestuur.

Die departement het gesê die doel van die hersiende datum is om die departement én skole genoeg tyd te gee om die waglyste behoorlik na te gaan om te verseker dat geen leerling benadeel word nie.

Die departement het ook gesê dat die sogenaamde WA1 tot WA4-nommers wat die departement tydens die aansoekperiode uitgereik het, nié gebruik gaan word as die grondslag waarop plasing gedoen word nie.

SMS’e oor plasings word ook nie op dieselfde dag aan alle ouers gestuur nie omdat die departement dit stelselmatig gaan verwerk.

Die aanbod vir ʼn plasing by ʼn skool moet binne sewe skooldae aanvaar word. Die eerste aanbiedinge moet dus teen 8 Oktober vanjaar aanvaar word. Skoolvakansies word nié as deel van die sewe skooldae gesien nie. Ouers kan wél distrikskantore óf die departement se hoofkantoor gedurende die skoolvakansie besoek om ʼn aanbod te aanvaar.

ʼn Aanbod kan ook aanlyn aanvaar word by www.gdeadmissions.gov.za

“Ons doen ʼn beroep op ouers om kalm te bly. Dit is onmoontlik vir alle ouers om op dieselfde dag ʼn SMS te ontvang. Ouers moet ook onthou dat die kapasiteit van elke skool die finale getal leerders wat daar toegelaat kan word, bepaal.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Prok ·

Die CVO skole se skoolgeld verskil nie meer so baie van staatsskole s’n nie. Gaan vind uit en gesels met die hoof of die direksie. Hulle sal jul verseker tegemoekom.

Prok ·

Die alternatief is om aansoek te doen by CVO skole waar Christelike kindertjies wat nog die regte geskiedenis wil leer altyd welkom is.

Kobus ·

Lesufi se Dept natuurlik weer nie opgewasse vir die taak nie

Kobus ·

Lesufi se Dept weer nie opgewasse vir die taak nie of nog nie besluit watter skool omskep moet word van Afrikaans na Engels nie

Hanna Hoekom ·

Kobus, jy is so reg! Behalwe dat die department nie opgewasse vir die taak is nie (BEE as rede), probeer hulle weer skelmstreke trek. Die wrewel in Afrikaanse skole is ooglopend. Ek reken dit het met n minderwaardigheids kompleks te doen. Ouers moet wakker slaap! Ek vermoed hier is iets aan die broei.

BenBrand ·

Kom kinders, sing almal saam… Bobbejaan klim die berg….

Hanna Hoekom ·

Kobus, jy is so reg! Behalwe dat die department nie opgewasse vir die taak is nie (BEE as rede), probeer hulle weer skelmstreke trek. Die wrewel in Afrikaanse skole is ooglopend. Ek reken dit het met n minderwaardigheids kompleks te doen. Ouers moet wakker slaap! Ek vermoed hier is iets aan die broei.

Ditsem ·

En September gaan kom en gaan , en dan is dit Januarie en die skole moet open en nog geen kind is geplaas nie en dan ooooee gits kom ons druk al enige kind in enige skool. En so gaan die onbevoegdheid voort.

Leonard van der Dussen ·

Dis harde werk, daadkrag, geduld en tyd om ‘n werklik onafhanklike skool te vestig en deur sy vestigingsjare te vat. In ruil daarvoor bou jy iets op wat los van die staat staan en self besluit, leerlinge toelaat en wat minder oor al die voorskrifte en stelsels gaan en meer oor onderwys: onderrig, opleiding. Die moeite word beloon met bestendigheid waar die skool self sy reëls maak, en homself onderhewig maak aan gemeenskapsaanvaarding wat sorg dat standaarde hoog is en daar iets opgebou word wat sy eie toekoms bepaal. In die geloof natuurlik, maar sonder die tirannie van gesentraliseerde staatsonderwys en hoe dit bedryf word deur ‘n onbevoegde regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.