Skoolstelsel moet hervorm word – kenners

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaanse leerders en onderwysers het vanjaar weer gespog met puik resultate in die nasionale matriekeksamen. Kenners waarsku egter dat boekekennis en ʼn rits A’s nie altyd die sleutel tot sukses is nie, maar indiensneembaarheid wél. Daarom moet die skoolstelsel hervorm word en leerders behoorlike beroepsvoorligting ontvang.

Johan Koekemoer, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Vereniging vir Afrikaanse wiskunde-onderwysers (VAW), sê ʼn kopskuif is nodig om mense nie te leer om net te léér nie, maar ook om die vermoë te ontwikkel om werk te skep of te soek.

“Ons moet die stigma verbreek dat universiteite die enigste roete na sukses is. Dit is dalk die veiligste roete, maar dit is nie beste of enigste een nie,” sê hy.

Koekemoer sê navorsing wat die afgelope paar jaar gedoen is, wys dat tussen 35% en 50% van leerders wat die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen slaag en by ʼn universiteit inskryf, deur die loop van die kursus uitval. In teenstelling hiermee val net sowat 2% van leerders wat die onafhanklike eksamenraad (IEB) se eksamen aflê, later op universiteit uit.

“Dit is dieselfde sillabus – die kinders leer nie verskillende goed nie – hulle assessering word net anders gedoen en IEB-skole fokus baie meer op sogenaamde hoërorde-denke.”

Koekemoer sê waar die skoolstelsel kinders jare gelede goed daarop voorberei het om in byvoorbeeld ʼn fabriek of werkswinkel te gaan werk – iets wat destyds die behoefte was – is dit nie meer die geval nie. Vantevore was herhaling en presisie nodig en terwyl die skoolstelsel grootliks dieselfde gebly het, het die wêreld verander.

“Ons strategieë en uitkomste moet aangepas word: Dit gaan nie net meer oor die bemeestering van feite en prosedures nie, maar oor kritiese denke, samewerking, kreatiwiteit en kommunikasie.

“Dít is wat leerders in hierdie era nodig het,” sê Koekemoer.

Indiensneembaarheid

Kenners sê indiensneembaarheid word al hoe belangriker. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika se jongste werkloosheidskoers is die afgelope week aangekondig en dit was ʼn bloedbad van werksverliese. Meer as 11 miljoen Suid-Afrikaners sit in hierdie stadium (ingevolge die uitgebreide definisie van werkloosheid) sonder werk.

Koekemoer sê dit is vir mense wat geleer het om buite die boks te dink makliker om werk te vind, of self werk te skep.

Prof. Kobus Maree, ʼn opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê ook as gekyk word na die huidige werkloosheidskoers, is daar rede tot groot kommer.

Hy sê die getal onderskeidings moenie allesoorheersend word nie – dat mense indiensneembaar is, is wat werklik tel.

Maree meen weinig vordering is gemaak om vakke wat indiensneembaarheid bevorder – veral wiskunde en fisiese wetenskappe – sedert 1994 aan te help. Hy sê ook die gaping tussen skole wat goed presteer en dié wat sukkel, is bykans nie meer inhaalbaar nie.

“Ek dink nie ons fokus altyd op die regte dinge nie en ons is in groter moeilikheid as wat mense bereid is om te erken.”

Hy sê skole wat reeds goed vaar, moet uitgelos word en daar moet eerder maniere gevind word om skole wat sukkel, te ondersteun. Maree benadruk egter ook dat daar geen plaasvervanger vir harde werk is nie.

“Leer jou kind dat harde werk en nederigheid is wat nodig is – geen mens gaan daarsonder êrens kom nie.  Gaan vra vir Elon Musk hoe lank sy gemiddelde werksdag is; dit is waarskynlik 18 uur. Moenie mislei word nie, sukses word deur bitter harde werk behaal.”

Maree beklemtoon dat leerders keuses moet maak wat hulle oor ʼn paar jaar steeds indiensneembaar sal maak en dat gr. 12-vaksimbole eindelik weinig gaan tel.

“Hoewel vakke soos fisiese wetenskappe en wiskunde baie toekomsdeure oopmaak, is dit nie die begin en einde van sukses nie. Topprestasie in dié vakke is nie noodwendig ʼn vereiste vir sekere studierigtings is nie – en leerders moet uitvind presies wat die basiese vereiste vir ʼn spesifieke rigting is.

“En as iemand glad nie wiskunde wil neem nie, is dit ook oukei. Daar is baie ander moontlikhede. Moenie ʼn kind wat dit haat en gaandeweg al swakker presteer, dwing om dit te doen nie.”

Hy meen ʼn behoorlike begrip van Engels is net so belangrik vir indiensneembaarheid.

“Ons leef in ʼn wêreldekonomie wat Engels is – en ek is net so lief vir my moedertaal – maar maak seker jou kind is Engels behoorlik magtig. Dit open wêreldwyd deure.”

Volgens Maree kan skole net baat om beroepslui in klaskamers te verwelkom waar hulle leerders ʼn eerstehandse vertelling kan gee van watter beroepsmoontlikhede bestaan – en wat dit verg om sukses te behaal. “Leerders is desperaat vir postmoderne beroepsvoorligting.”

Hy sê die regering kan selfs sakelui betaal om hul suksesresep met leerders te deel.

Hervorm die stelsel

(Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout)

Koekemoer sê indien die skoolstelsel hoofsaaklik bly fokus op uitslae en die getal onderskeidings wat leerders behaal, bly die kritiese denkproses wat nodig is om later in die lewe sukses te behaal, agterweë.

Hy sê ʼn kind kan met sukses reg afgerig word om in die eindeksamen goed te preseer. “Jy gee vir hom genoeg vraestelle en ekstra klasse en hy doen dieselfde ding oor en oor – en hy sál goed vaar in die eindeksamen. Dit is hartseer, maar ons moenie skole net kritiseer nie, want dit is waaraan hulle gemeet word.”

Hy sê talle kinders wat vantevore uitstekend presteer het, val uit op universiteit omdat die werk insig verg – hulle moet leer om te stoei om te slaag – en hulle benodig ander vaardighede waarvoor blote leerwerk onvoldoende is.

Koekemoer sê leerders in tradisionele Afrikaanse skole is uitstekend met die herhaling van kennis en prosedures, maar hul vermoë om hierdie kennis te interpreteer en prosedures te integreer in vrae waarvoor hulle nie kon voorberei nie, is waar hulle dikwels uit die bus val.

Hy sê instellings soos die SOS staan ʼn gewysigde skoolstelsel voor waar dit oor meer as die bemeestering van feite en prosedures gaan.

ʼn Ouer wat dus ʼn besluit moet neem oor watter skool eindelik die beste vir ʼn kind gaan wees, moet verder kyk as die getal onderskeidings wat behaal word.

Kinders moet spéél

(Argieffoto: Marianne Styan)

Koekemoer sê basiese dinge – soos of die kinders kaalvoet skool toe gaan – is een van die elemente wat ʼn aanduiding kan gee oor of ʼn skool leerders voorberei op meer as net leer. “As hulle kaalvoet skool toe gaan, is die aanname dat hulle gaan speel. Hulle gaan kreatiwiteit, kommunikasie en samewerking leer en nie noodwendig pouse in ʼn kringetjie sit en met hulle selfone speel terwyl niemand met mekaar praat nie.”

Die hoeveelheid huiswerk wat ʼn skool gee, is nog ʼn goeie aanduiding. Koekemoer sê groot hoeveelhede huiswerk kan ʼn aanduiding wees dat ʼn skool die sogenaamde afrigtingsbenadering volg.

“Ons dink meer is goed, nóg is goed; maar gaan speel in die tuin of klim ʼn boom,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

pestilensie ·

Sowaar as para manel dra , lanklaas so n stuk wysheid raakgelees , veral van die hoofstroom media . Maroela begin my al meer beindruk

Kokerboom ·

As die vorige Uitkomsgebaseerde stelsel korrek toegepas was het ons nie nou die probleem gehad. Te veel kinders gaan universiteite toe en SETAS en Tegniese kolleges en universiteite word as sekondêr beskou, nie genoeg status/ aansien so ook SETAS terwyl GEEN ekonomie kan funksioneer sonder die dissiplines

Grassie ·

“Leer jou kind dat harde werk en nederigheid is wat nodig is” seg die Prof. In hierdie land, Prof? Onthou, ons woon nie in ‘n eerstewêreld land nie. In ons land het hulle regte, nie pligte nie.

Willem ·

As ons onderwys departemente minder nonsens uitdink vir onderwysers om te doen kan daar meer aandag geskenk word aan die kind en sy onderig

Pierre ·

Ek stem saam met Prof. Maree dat ‘n mens Engels goed onder die knie moet hê. Dit beteken egter nie dat ‘n mens deur medium van Engels moet skoolgaan nie. My kollegas wat die beste in Engels is, is Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes wat deur Afrikaans skoolgegaan het. Die wat die slegste Engels praat en veral skryf is nie-Engelssprekendes wat deur medium van Engels skoolgegaan het. Ek het lank in die buiteland gebly. Die meeste mense met wie ‘n mens in die toekoms besigheid gaan doen is nie Engels-moedertaalsprekers nie. Ek kan baie keer beter met Chinese in Engels kommunikeer as moedertaalsprekers wat nie besef waarom hulle ‘n sekere sinskonstruksie nie verstaan nie.

Pierre ·

Wat Koekemoer noem geld vir alle skole in Suid-Afrika, nie net vir tradisionele Afrikaanse skole nie. Ons skool- en universiteitstelsel is gebaseer op die Britse stelsel wat baie meer van ‘n “leer alles uit die kop”-stelsel is as byvoorbeeld die Duitse stelsel. Ek het met vier stelsels (SA, Duitsland, Indië en Brittanje) te doen gehad. In Duitsland is eksamens selfs in Fisika mondelinge waar dit oor verstaan gaan en nie oor feite aframmel nie. Selfs in die elite Britse universiteite is dit soos in SA skole en universiteite. Die Indiese stelsel kom ook uit die Britse stelsel en daar word ook alles gememoriseer.

Jacobus ·

Dis ‘n hele bekvol. Maak totale sin uit. Hoe doen jy dit sonder om ‘n sekere deel van leerling populasie (wit en swart) bedreigd gaan voel?
Ons hét topklas akademici nodig. Regte egte dr’s grade. Ons land is in ‘n haglike fisiese toestand omdat tegniese opleiding (en ander redes) as minderwaardig beskou word. Glo my dis ‘n groot bron van werkskepping. Dis ook ‘n deel van opleiding in die vorige bedeling deeglik en met trots gedoen is. Leerders moet geleer word om te dink en toe te pas!
‘n Geweldige probleem is advertensie veldtogte wat die kandidate sertifikate rondswaai, togas aantrek en togas en al by raadskamer instap reguit voorsitterstoel toe. Belaglike verwagtinge – oordeel maar self.

annie ·

Die staat en ouers sal ook geherprogrammeer moet word en daarmee saam Afrika se ideologie en voor dit die VVO en die wèreld se siening oor Afrika en die hantering van Afrika en sy probleme. Dis ‘n tall order maar ‘n feit want ‘n vals idee oor hoe Afrika bo moet kom en daar gehou moet word, berus op die konsep van gee en toneelspel; leer die dialoog, trek die kostuum aan en gaan haal jou pay na die opvoering. Sien jou mòre weer!

Casper ·

Ag siestog en hoekom is die werkloosheid so hoog.Vra maar die minister van tourism.Net swart besigheidsmense kry ters hulp en hoeveel mense het hulle indiens wat nie ‘n sent van daai geld sien nie.B EEEEEEE.moet die skuld kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.