Skoolvoedingsprogram: Talle skole kry glo steeds nie kos

Talle KwaZulu-Natalse skole het glo nog nie kos ingevolge die onderwysdepartement se skoolvoedingsprogram gekry nie. (Foto: Facebook / Departement van onderwys)

ActionSA sê hy is Dinsdag steeds oorval met boodskappe en oproepe van verskeie KwaZulu-Natalse skole wat sê dat hulle nog nie vandag kos ingevolge die onderwysdepartement se skoolvoedingsprogram gekry het nie.

Sommige skole het aangedui dat daar wel nog kos vir Dinsdag was wat van verlede week oorgebly het, maar dat hulle nie genoeg voorraad het om kos vir Woensdag voor te berei nie.

Dít nadat die departement oorsigbesoeke gedoen het aan skole wat wel kos ontvang het, en foto’s daarvan op sosiale media geplaas het. ActionSA sê dit skep ’n misleidende beeld.

Maroela Media het vroeër berig dat Pacina Retail, die enkele diensverskaffer wat die provinsiale onderwysdepartement aangestel het om ingevolge sy program kos aan duisende skole in die provinsie te lewer, hom midde-in ʼn herrie bevind weens sy beweerde versuim om genoeg en behoorlike kos aan skole ingevolge die R2,1 miljard-ooreenkoms te voorsien.

ActionSA beskuldig Pacina daarvan dat hy meer as twee miljoen kinders dae lank sonder kos gelaat het.

Die party het Dinsdagoggend aan die LUR vir onderwys, Mbali Frazer, geskryf om dringend duidelikheid te versoek oor die kwessie of die departement sy kontrak met Pacina beëindig het, soos die departement vroeër in ’n omsendbrief aangevoer het.

“Die mediaverklaring wat deur Pacina Retail uitgereik is, dui duidelik aan dat die kontraktuele ooreenkoms tussen die partye steeds geld ​​nadat dit verwoesting, hopeloosheid en onsekerheid regdeur die provinsie veroorsaak het. As dít die waarheid is, soek ons ’n verduideliking van die LUR oor hoe dit gebeur het,” sê Sanelisiwe Zuma, ActionSA se woordvoerder in KwaZulu-Natal.

“ʼn Verskaffer wat klaaglik misluk het om sy kontraktuele verpligtinge na te kom, moes binne dae nadat hierdie kwessie ontstaan ​​het, van sy pligte onthef gewees het. Dit wil egter voorkom asof die regering wat die regte en waardigheid van ons leerders moet beskerm, eerder ten gunste is van die mislukte verskaffer.”

ActionSA sê die party sal moontlike regsaksie ondersoek indien die LUR nie behoorlik terugvoer gee nie.

Die party vra verder bevestiging dat al 5 400 skole ingevolge die skoolvoedingskema kos ontvang het, aangesien leerders ná die langnaweek teruggekeer het skool toe.

“Die stilswye van die provinsiale regering sedert die probleem meer as twee weke gelede ontstaan ​​het, was oorverdowend – veral die stilswye van die LUR vir onderwys, wat tjoepstil was oor die sage, en die premier wat nie antwoorde van die LUR geëis het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

My persoonlike opinie dink baie van die kinders wat kos by skool kry se ouers te lui om kos te maak
kan ook nie onthou dat daar vroeer jare voedings skemas by skole was nie kan verkeerd wees ander vraag is kan sa dit bekostig om skoolsubsidies voedingskemas ens te he

melaney ·

Hulle is te besig met die ander kinders wat nog in doeke is. Geen tyd om na die skoolgaande kinders om te sien.

Grassie ·

Gaan kinders skool toe om te eet of te leer. Die kinders op die foto lyk goed – “blink en glad verhaar” soos die oumense gesê het. Ek het simpatie met honger mense maar ek is dik vir peoples wat op die belastingbetalers parasiteer. Meer as 50% van die “bevolking” kry reeds een of ander toelaag waarvoor diegene wat hul eie potjie met moeite krap ook nog moet opdok.

Piet parys ·

Nou hoekom sorg die Zulu koning nie vir sy mense nie . Hy besit dan die helfte van die land . Boer hulle nie

es ·

As mens so na hulle kyk, is dit duidelik dat hulle gereeld die skole besoek, om te kyk of die kinders kos het…en natuurlik om saam te eet…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.